Een ding van ons Kuierleiers! Hulle het dié jaar weer uitgehaal en gewys vir ons “Into the woods”-patsy om ons Sweet 16 te vier. Altesaam 300 lesers het op 6 September op die prentjiemooi Eureka-landgoed buite Durbanville in die Kaap kom wys hoe ’n mens jou lyf ’n lekke’ tyd gee by ons Lentedagfunksie. Dié jaar was die tema “Into the woods”, en tot Rooikappie en die wolf het saamgekuier! En ís daar vir jou gekuier! Gaste het gesmul aan Spekko se eetgoed wat hulle spesiaal vir lesers voorgesit het by hul smulstasie. Ander het hul lyf cover stars gehou in Sheen en Glosheen se fotohokkie. Dan was daar nóg ’n groot bederf – Essence het spesiaal makeup stands opgerig waar lesers deur die loop van die dag hul grimering kon laat doen, of op-touch. En dan het Menacal natuurlik by hul stalletjie vele pryse weggegee deur hul Memory Game challenge.




Spesiale gaste
En daar is omtrent uitgehang met ’n hele paar sterre van etv se daaglikse drama Kelders van Geheime. Van Rushney Ferguson tot Veronique Jephtas en twee van ons voorbladsterre van ons 11 September-uitgawe, Tashreeq de Villiers en David Chevers, het kom saamkuier en gewys hulle is nie nét talentvol voor die TV-kameras nie. Ons MC, Quinton Manuels – floral baadjie en al – was weer op sy stukke! Dié Kaapse komediant het die gaste laat skater met sy snaakse staaltjies en sêgoed. Die singende security guard Willem Joseph het ook al die pad van Alexanderbaai in die Noord-Kaap gekom om sy debuut by Kuier Lentedag te maak en te wys hoekom hy laasjaar koning gekraai het in ons Kuier Karaoke-kompetisie. Die 17-jarige Gwyneth Abrahams van Bredasdorp het haar terugkeer na die Kuier Lentedag-verhoog gemaak en die gaste behoorlik laat lyf skud terwyl sy begelei is deur die band The Encore. Die Atlantis-sanger Talitha Luiters het die gehoor in vervoering gehad met haar goue stem toe sy onder meer wegtrek met hits van Celine Dion en Whitney Houston. Een ding: Talitha mag maar!







Heerlike kos en drankies
Ons lek nou nog ons lippe af as ons dink aan die lekke’ kosse waaraan ons gesmul het. Oudergewoonte het Robertson Winery ook weer gesorg dat die kele nat bly met hul wyne. En met dié dat dit ons verjaardag in September is, is lesers bederf met hope geskenke en pryse van onder meer MenaCal.7, Essence en Glosheen. Die ding het so geruk dat van ons kuierleiers op die tafels gedans het!
“Dit was epic,” het een leser op Facebook laat hoor.
“Die venue, die kos, die shows – van die MC Quinton tot my gunsteling-mense van Kelders van Geheime. Kuier, jy’t jouself oortref.”
Nee kyk, ons beplan reeds om volgende jaar se Lentedag nóg meer epic te maak. Hou dié spasie dop!



















