
'n Suksesvolle kunstenaar leef 'n dubbele lewe in Los Angeles. Die meeste mense dink Roman Velasco het alles wat 'n man kan begeer: 'n herehuis, geld, vroue en roem. Maar Roman het 'n donker geheim . . .
Snags, as ander mense slaap, veg hy met sy duiwels. Sy uitlaatklep? Graffiti. Dit is dan wanneer Roman die geboue van Los Angeles woedend takel met spuitverf. Hy gebruik die voorletters van sy ander naam, Bobby Ray Dean, om sy straatkuns (of is dit vandalisme?) met BRD te onderteken, en so ontwikkel hy die bynaam Bird.
Die graffiti waarmee Roman saans besig is en sy skilderkuns bedags word 'n simbool van die oorlog en konflik wat binne hom woed.
Roman en Grace is die hoofkarakters in Die Meesterstuk, die nuutste boek deur die bekroonde Amerikaanse skrywer Francine Rivers.
In die boek voer Roman en Grace elk hul eie stryd in 'n poging om die trauma wat hulle as kinders ervaar het te verwerk. Sy is boonop 'n enkelma wat voel asof haar rampspoedige huwelik haar totaal van koers af gegooi het. En nou werk sy vir Roman Velasco, die man wat alles het. Maar dan begin Grace haar werkgewer beter ken. Iets onverwags gebeur wat hul lewe - en hul verhouding - onherroeplik verander.

Rivers sê met die boek wou sy vir haar lesers wys "genade kan die mees gebroke mens in 'n onvolmaakte, dog ongelooflike meesterstuk verander". Sy sê baie mense word deur hul verlede gevange gehou, maar uiteindelik is elkeen vir sy eie keuses verantwoordelik. Sy meen ook dit is belangrik om mense nie op hul uiterlike te oordeel nie. "Wanneer dit lyk of iemand nie toeganklik is nie, doen iets van jou kant af om kontak te maak - ‘n glimlag of vriendelike groet."
In 'n boekgesprek beskikbaar gestel deur Tyndale House Publishers vertel sy in haar navorsing vir die boek het sy gefokus op die psigologiese patrone van mense wat as kind fisies of psigologies mishandel is. Rivers beskryf die navorsing as "hartverskeurend".
Omdat Roman se uitlaatklep graffiti is, moes sy ook navorsing doen hieroor. Sy het baie inspirasie vir Roman se karakter gekry uit 'n boek wat sy gelees het oor Banksy, waarskynlik een van dié beroemdste graffiti-kunstenaars ter wêreld. Rivers sê sy het ook geleer hoe bendes graffiti gebruik om hul gebiede af te merk en hoe die graffiti in stede dikwels 'n "bewys is van ‘n oorlog in die kleine wat in 'n gemeenskap woed".
In haar navorsing het sy Cameron Moberg, 'n graffiti-kunstenaar van San Francisco, ontmoet. Moberg het haar nie net gehelp om meer oor graffiti-kuns te verstaan nie, maar was uiteindelik ook verantwoordelik vir die ontwerp van die voorblad van Die Meesterstuk.
Rivers het eers 'n suksesvolle skryfloopbaan in die sekulêre mark gehad voor sy 'n wedergebore Christen geword het en tot die Christelike boekmark toegetree het. Van haar romans is al in amper dertig tale vertaal en sy geniet topverkoper-status in baie lande. In Suid-Afrika is al meer as 'n miljoen van haar boeke - in Afrikaans en Engels - verkoop.
"In ander stories was daar altyd een hoofkarakter met baie sterk geloof in God. Wat hierdie boek verskillend maak is dat albei hoofkarakters ‘stukkend' is . . . Die sterk Christelike stemme en invloed met hierdie boek kom van sekondêre karakters en nie die hoofkarakters nie
Sy sê al haar boeke gaan oor liefde. Daar is wel iets wat Die Meesterstuk anders maak as haar vorige romans. "In ander stories was daar altyd een hoofkarakter met baie sterk geloof in God. Wat hierdie boek verskillend maak is dat albei hoofkarakters ‘stukkend' is . . . Die sterk Christelike stemme en invloed met hierdie boek kom van sekondêre karakters en nie die hoofkarakters nie."
Die Meesterstuk word in Afrikaans uitgereik deur Christelike Uitgewersmaatskappy is van 6 Februarie af beskikbaar by CUM Boeke en ander toonaangewende boekwinkels. Dit is ook in Engels beskikbaar as The Masterpiece.












