Promosie

’n Mate van valutabeheer is terug!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het nuwe regulasies bekendgemaak wat finansiële emigrasie beïnvloed.        Foto: VERSKAF
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het nuwe regulasies bekendgemaak wat finansiële emigrasie beïnvloed. Foto: VERSKAF

In 'n skielike en grootliks onverwagse skuif het die nasionale tesourie verlede week - net voor die aanvang van die langnaweek en sonder enige waarskuwing of konsultasie - 'n nuwe stel regulasies bekendgestel vir Suid-Afrikaners wat finansieel wil emigreer of die bestaande jaarlikse toelaag van R10 miljoen vir buitelandse beleggings wil gebruik.

In belastingkonsultantgeledere is die besluit as stil-stil maar dodelik beskryf, aangesien die tesourie finansiële emigrasie en 'n aansoek vir die gebruik van die jaarlikse R10 miljoen-toelating as een en dieselfde ding beskou. Dit word 'n goedgekeurde internasionale oordrag (Approved International Transfer, AIT) genoem en vereis die volg van dieselfde ingewikkelde proses voordat toestemming verleen sal word.

Van die vereistes is nou só veeleisend en onprakties dat baie belastingbetalers dit moontlik kan oorweeg om dit te omseil en ander maniere (wettig en onwettig) te probeer vind om buitelandse welvaart op te bou.

Byvoorbeeld, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) vereis nou bewys van 'n belastingbetaler se wêreldwye bates en die koste daarvan, 'n nuwe en uiters uitdagende vereiste om na te kom. Daarbenewens gaan beleggers met 'n buitelandse portefeulje - hetsy beleggings, aandele of eiendomme - wat oor dekades opgebou is, waarskynlik nie meer die vereiste papierwerk hê nie en ook nie die vereiste besonderhede van die bronne van die inkomste nie.

Sommige belastingpraktisyns meen dit is die einde van die finansiële vryheid wat Suid-Afrikaanse beleggers sedert 1997 geniet toe die eerste stappe geneem is om valutabeheer te verslap. Die Apartheidsregering het beperkings in werking gestel om landsburgers te verhoed om geld na die buiteland te verskuif uit vrees vir 'n uittog van kapitaal ná die Sharpeville-slagting in 1961. Die nuwe regulasies is waarskynlik in werking gestel om die massiewe uitvloei van kapitaal uit SA te keer sedert die maksimum toelaag na R10 miljoen per persoon per jaar verhoog is.

Die uitvloei van kapitaal uit SA is beduidend en dit is nie ongewoon vir welvarende families om die maksimum van R11 miljoen per jaar soos toegelaat elders te belê nie.

Vir ouers (soos ek) met kinders wat in die buiteland studeer, verg dit fyn beplanning om alle kostes te kan betaal.

Thomas Lobban, hoof van internasionale belasting by Tax Consulting SA, was die eerste kommentator om 'n mening oor die veranderinge uit te spreek. Tax Consulting SA was verlede Woensdag besig met die aanbieding van 'n webinar toe die nuus gebreek het. Deelnemers aan die webinar was duidelik besorg oor die nuwe regulasies, wat toe reeds in werking was.

Lobban skryf: "Dit mag vir sommige 'n verrassing wees dat belasting en valutabeheer in terme van SA wetgewing hand aan hand gaan. 'n Suid-Afrikaanse persoon wat vir belastingdoeleindes 'n plaaslike burger (‘inwoner') is, is daarop geregtig om R1 miljoen per jaar na die buiteland oor te dra voor enige vooraf-toestemming nodig is. 'n ‘Nie-inwoner' moet toestemming kry vir elke sent wat in 'n kalenderjaar na die buiteland oorgeplaas word.

"Daar was in die verlede verskillende prosesse vir ‘finansiële emigrasie' en vir ‘belegging van buitelandse toelaag'. Eersgenoemde is van toepassing op 'n persoon wat geld uit SA skuif aangesien hy/sy nie meer belastingpligtig in SA gaan wees nie. Die ander was van toepassing op alle ander gevalle vir die skuif van geld na die buiteland. Die SAID het twee verskillende persoonlike identiteitsnommers (PIN's) vir die twee prosesse verskaf. Dit is nou dieselfde proses - bekend as toestemming vir internasionale oordrag."

Lobban gaan voort om te noem dat die proses daargestel is om die aansoek vir goedkeuring te vergemaklik deur alles onder een PIN te doen. Die nadeel is dat die papierwerk wat nou deur die SAID vereis word 'n uitgebreide lys is waar indiepte-besonderhede verstrek moet word.

Lobban lig uit dat die eerste verklaring wat vereis word, is om aan te dui of die belastingbetaler 'n "inwoner" of "nie-inwoner" van Suid-Afrika is. As "nie-inwoner" gekies word, moet 'n bevestigingsbrief van kennisgewing van nie-inwonerskap-belastingstatus verskaf word.

Daarbenewens word drie verdere vrae gevra rakende status as die begunstigde van 'n trust, aandeelhouding in maatskappye en enige lenings aan 'n trust.

Neem kennis van jou bates en laste

In die verlede is daar van belastingbetalers wat vir die emigrasie- of beleggingsidentiteitsnommer (PIN) aansoek gedoen het, vereis om alle plaaslike bates en laste vir die vorige drie jaar te verskaf. Nou word daar vereis dat albei plaaslike én buitelandse bates en laste aan die SAID verklaar word tydens die proses.

Onder die lys van binnelandse bates is daar plek vir 19 verskillende bates, onder meer kriptobeleggings en lewende hawe. Die buitelandse afdeling is net so intensief.

Let ook daarop dat vir elke bate wat aangedui word, 'n waarde teen aankoopkoste verstrek moet word. Dit is onderhewig aan bevestiging deur die SAID in ieder en elke geval. Dit beteken dus as die vereiste inligting verkeerd ingevul is, daar 'n oponthoud of ander komplikasies kan wees.

So, maak seker van jou syfers voor jy verkeerde inligting aan die SAID verskaf. 'n Ander vereiste waarop baie klem gelê word, is dié van bron of oorsprong van fondse. Dit is óók onderhewig aan bevestiging en moet versigtig benader word. Die SAID verskaf nege verskillende opsies en 'n verdere opsie vir "ander" bronne. Bykomende inligting gaan benodig word vir elke tipe bron wat gekies word, elkeen met sy eie vereistes.

Strenger toesighouding en afdwing van regulasies

Die nasionale tesourie het reeds in die 2020-begrotingsrede onderneem om die belastingsake van belastingbetalers met buitelandse bates strenger te maak, 'n "meer volledige bevestigingsproses" te volg en 'n "risikobestuurtoets" te gebruik, wat die verifiëring van die bronne van inkomste insluit.

Miskien het SA se onlangse insluiting op die sogenaamde "gryslys" hierdie wysigings aangevuur, maar dit was beslis onverwags.

Belastingbetalers wat deur hierdie wysiging geraak word, gaan baie seker moet maak van alle besonderhede wat verstrek word as hulle die identiteitsnommer (PIN) wil kry om voort te gaan.

Slotsom

Die boodskap is duidelik. Vir belastingbetalers met buitelandse beleggings is dit belangrik dat hulle hul jaarlikse R1 miljoen toelae so gou as moontlik en elke jaar moet gebruik.

* Magnus Heystek is 'n direkteur en beleggingstrateeg van Brenthurst Wealth, wenner van die Intellidex Top-Boetiekwelvaartbestuurder-toekenning in 2017 en 2020. www.bwm.co.za.

Rig navrae aan invest@brenthurstwealth.co.za.

Die blad is betaal en die inhoud verskaf deur die adverteerder. Netwerk24 aanvaar geen aanspreeklikheid vir die geadverteerde dienste of produk nie.

Geborgde Inhoud | Magnus Heystek

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM