Kapenaars word van 26 April tot 1 Mei bederf met uitstaande produksies by die 20ste Suidoosterfees in Kaapstad. Die NATi Teaterfees-program spog met toneelstukke wat oral groot lof ontvang.
Twee legendariese regisseurs en teaterskeppers, Marthinus Basson en David Kramer, se MirakelenVer in die wêreld, Kittie het pas elk vyf Kanna-benoemings by die KKNK ontvang. Coenie de Villiers se Woordmusiek en Gita Fourie se Afval is ook in verskeie kategorieë benoem.
Van Suid-Afrika se talentvolste akteurs is by die fees te sien in eenpersoonvertonings. Lee-Ann van Rooi is in The Woman Who Fed the Dogs, 'n verhoogverwerking van Belgiese skrywer Kristien Hemmerechts se trefferboek. Dit handel oor Michelle Martin, vrou en medepligtige van die Belgiese kinderverkragter en -moordenaar Marc Dutroux. Martin is eens deur die media bestempel as die "mees gehate vrou in België".
Een van die programhoogtepunte vanjaar is Met woorde soos kerse, waarin Antjie Krog haar vertalings van gedigte uit verskeie inheemse tale in Afrikaans saam met akteurs voorlees. Antjie lees in Afrikaans, en die akteurs in tale soos Kwedam, isiZulu, Sesotho en isiXhosa. Oor dié veeltalige produksie sê Jerry Mofokeng, wat ook saam met Krog op die verhoog is: "Verskil is nie 'n bedreiging nie, dit is 'n skoonheid."
Kyk hier op Netwerk24 hoe die geselskap saam met Antjie Krog aan die produksie repeteer.
Veronique Jephtas maak haar verskyning in die gewilde My kroon se krank, waarvan Tinarie van Wyk-Loots die regie behartig. Geon Nel speel in Hoerkind, gebaseer op Herman Lategan se memoires wat in 2022 op topverkoperlyste geboer het.
De Klerk Oelofse het reeds groot lof ontvang vir sy optrede in 'n Akkerboom. In dié buitengewone produksie speel Oelofse by elke vertoning saam met 'n akteur of aktrise wat geen insae vooraf in die verhoogteks gehad het nie. Jason Jacobs skitter in die uitsonderlike Kraal, 'n gunsteling onder teaterkritici. En in Wessel Pretorius se My hart is 'n muurbal (en ander gedagtes) gaan Wian Taljaard en Wynand Kotze feesgehore ontroer.
Magda Louw met Desiré Gardner is gegrond op die gewilde kykNET-komedie, en dié aanbieding beloof om feesgangers te laat skater. Ook Agteraf, met Jurgen McEwan, Waldemar Schultz en Francois Toerien, gaan die lagspiere kielie. Dié komedie speel agter die skerms van 'n kindertoneelstuk af waar drie akteurs spook met die produksie self én hul eie eksistensiële krisisse.
Bul, 'n donkerkomedie met René Cloete, Wian Taljaard, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa, trap op en oor die dun lyne van politiek in die werkplek. Deon Lotz is ook saam met Susanne Beyers en Marinda Engelbrecht op die feesverhoog in die skreeusnaakseKlinkklaar, wat gaan oor twee TV-sjefs wat mekaar nie kan verdra nie, maar noodgedwonge moet saamwerk om hul loopbane op dreef te bring.

Wendy Anthonie se 360 grade speel af in 'n tronk waar die nommers-bende in beheer is, en in Geen teks spook Geon Nel en Deon Lotz sake uit as akteurs wat deur hul teksskrywer in die steek gelaat word. René Cloete en Adriaan Havenga is te sien in Iewers in die Grys, 'n drama wat groot indruk op gehore by die US Woordfees gemaak het.
Klik hier vir die volledige feesprogram; bespreek by Computicket of Kunstekaap se Bel-'n-Sitplek by 021 421 7695.
Die Suidoosterfees word ondersteun deur die departement van sport, kuns en kultuur; die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport; Stad Kaapstad; Media24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Kunstekaap.













