In die uitgestrekte noordelike gedeelte van die Swartland Wyn- en Olyfroete, lê die bekoorlike dorpies Koringberg, Piketberg en Eendekuil.

Hier omvou die rustigheid van die platteland jou soos 'n sagte wolkombers. Die vriendelike inwoners van dié omgewing is lief om geselsies aan te knoop en dikwels kuier jy veel langer as beplan.
Kom proe die besonderse wyne van die streek en verken die natuurskoon langs die Bergrivier en by Piket-bo-Berg (die gebied bo-op Piketberg se berg) waar vrugte- en proteaplase sy-aan-sy staan. Stap- en fietsryroetes is volop en daar is 'n verskeidenheid verblyfopsies beskikbaar.
Weens die nuutste inperkingsregulasies word wynproeë en -verkope nie tans toegelaat nie en is restaurante slegs oop vir wegneemetes. Die produsente in die Swartland sien egter daarna uit om binnekort weer besoekers te kan ontvang.
Waar kan jy gaan wynproe?

Koringberg, of Die Vrye Republiek van Koringberg, soos daar tong in die kies na dié dorpie verwys word, is die tuiste van Wildehurst-wyne. Die keldertjie is knap by die ingang van die dorp geleë en spesialiseer in die maak van organiese wyn. Joanne Hurst en Riaan van der Spuy is die eienaars. Joanne het in 2006 'n wingerd in haar tuin geplant wat uit 90% shiraz en 10% viognier bestaan het, en in 2009 is Wildehurst se eerste wyn gebotteleer. Besoekers moet liefs vooraf 'n afspraak maak om die kelder te besoek.
'n Entjie verder noord is Org de Rac se imposante proelokaal en wingerde langs die Bergrivier. Die plaas is een van die eerste wynplase in die Swartland wat gesertifiseer is as organies. Dit beteken dat geen chemikalieë in die wingerd of in die olyfboorde gebruik word nie.
Stop gerus hier vir 'n luilekker piekniek en bewonder die pragtige, uitgestrekte uitsig oor die golwende Swartland-landskap. By die moderne proelokaal word daar 'n heerlike oester-en-Cap Classique-proe, 'n sjokolade-en-rooiwynproe asook 'n nougat-en-witwynproe aangebied.
Org de Rac het vanjaar 'n olyfpers aangeskaf en pers nou ook hul eie olyfolie wat tesame met hul wyne op die plaas te koop aangebied word.
Anderkant Piketberg, net links van die afdraai na die dorpie Eendekuil op die R366, op pad na Elandsbaai, lê Schenkfontein. Dié spogplaas aan die voet van die majestueuse Piketberg is vernoem na mnr. Schenk, 'n skoolmeester wie destyds die plaaskinders in die omgewing onder 'n granaatboom onderrig het. Dit is hier waar die Hanekom-familie woeker met hul talente. Hendrik Hanekom is aan die stuur van die kelder waar daar wyn gemaak word vir Schenkfontein en Winkelshoek, 'n vertakking van die familiebesigheid. Hoewel die kelder slegs per afspraak oop is vir besoekers, word daar gereeld opedae aangebied en dan word daar tog te heerlik gekuier by die gesellige proelokaal.

Aan die voet van die Piekenierskloofpas is die afdraai na Banditskloof, die tuiste van Testalonga. Craig en Carla Hawkins maak reeds sedert 2008 hul eie wyn van wingerde wat hulle in die Paardeberg- en Piketberg-omgewing huur. In 2015 het hulle Banditskloof gekoop en in 2018 hier hul eie druiwe aangeplant. Testalonga se natuurlike wyne word met die grootste sorg en minimum inmenging vir hul El Bandito- en Baby Bandito-wynreeks gemaak. Testalonga is slegs oop per afspraak.
Ander besienswaardighede en aktiwiteite in die Piketberg-omgewing sluit in:
. Die asembenemende uitsigte vanaf Versveldpas
. Piket-bo-Berg Plaasmark, Kruistementvleiplaas - die laaste Saterdag van elke maand
. Piketberg-erfenisroete wat 'n aantal historiese geboue in die dorp insluit
. Koringberg Mark - die eerste Saterdag van elke maand
. Verskeie bergfiets- en staproetes in Koringberg en bo-op Piketberg
. Goedverwacht-sendingstasie
Besoek intussen Swartland Wyn- en Olyfroete se webblad by www.swartlandwineandolives.co.za of skakel 022 487 1133 om meer uit te vind oor hierdie besonderse wynstreek en alles wat daar in die omgewing te sien en te doen is.












