Hy is seker een van die gewildste kunstenaars in die land, 'n regte platjie en vind veral aanklank by 'n jonger gehoor. En dis dan ook sy jonger aanhangers wat vet pret verskaf . . .
"Dikwels as ek optree, dan maak die jong kids wat voor die verhoog staan en saam party my twee skoene se veters aan mekaar vas. As ek wegstap met 'n dance move dan slaan ek neer . . . Daar is geen recovery nie!" sê Snotkop.

Hy tree vanjaar vir die sesde keer by die Krone-konsertreeks op en sê hy is ongelooflik trots daarop om een van die oorspronklike Krone-kunstenaars te wees. Omdat hy al so lank deel is van die produksie, kon hy oor die jare heen sien hoe dit groei "tot een van die land se grootste shows".
Gehoor is die sterre
Met sy gemaklike gebruik van taal steek hy allerlei grense oor, onder meer met treffers soos "Song vir my Dad", "Cool soos Koos Kombuis" en "Hiekies in Hartenbos".
Op vanjaar se Krone-konsertreeks gaan hy "Boerepompie" saam met Ricus Nel sing. "Ek sien daarna uit om die massas mense weer op hul voete te sien en uit volle bors sing. En om die verhoog te deel met van Suid-Afrika se voorste kunstenaars. Veral Ricus, want ons kry gewoonlik die geleentheid om lekker laf te wees tussen al die medleys!"
Volgens Snotkop is Krone die enigste konsert in die land waar die gehoorlede die sterre is en waar hulle harder mag sing as die kunstenaar.

Hier in die hartjie van die winter sit Snotkop nie stil nie. "Ek is tans besig om te werk aan 'n paar tunes vir die somer!"
As hy die verhoog kan deel saam met enige kunstenaar, sal hy graag saam met The Black Eyed Peas wil optree.
Enige gewoontes of rituele voor 'n optrede? "Ek raak baie stil en sit gewoonlik eenkant op my eie voor 'n show. Ek raak nog effens nervous, so dis beter vir my as ek rustig is en nie tussen mense is wat baie praat en heavy intense is nie."
En iets oor homself wat sy aanhangers nie weet nie? "Ek het meer as 27 tattoos . . ." verklap hy.
- Kry vandag nog jou Krone 6-konsertkaartjies om Snotkop op die verhoog te sien. Hy tree vanjaar op saam met kunstenaars soos Brendan Peyper, Andriëtte, Kurt Darren, Juanita du Plessis, Elizma Theron en Theuns Jordaan.
- Bespreek vinnig jou plek, want kaartjies verkoop soos soetkoek! En onthou, die lekker ding van Krone is die saamsing. Die woorde van al die liedjies word op grootskerms vertoon sodat jy saam met die kunstenaars kan sing, dans en jol.
Die konsert op Saterdag 17 Augustus in Pretoria, asook die konsert op Saterdag 3 Augustus in Kaapstad, is reeds uitverkoop.
Koop jou kaartjies nou!
Kaartjies is nog beskikbaar vir Krone 6 op 4 Augustus om 14:00 in Kaapstad in die Grand Arena in GrandWest en vir die konserte in Pretoria, wat op Vrydag 16 Augustus om 19:00 en Sondag 18 Augustus om 14:00 in die Sun Arena in Time Square gehou word.
Kaartjiepryse wissel van R195 vir 'n staanplek teen die verhoog tot R470 vir sitplekke. Kaartjies vir vanjaar se Krone is aanlyn beskikbaar by iTickets.












