David Kramer vier sy 70ste verjaardag op Woordfees TV met 'n opskop saam met 'n ryk verskeidenheid musiekvriende - van Emo en Loukmaan Adams tot Anton Goosen, Robin Auld en Oom Hannes Coetzee.

Waar gaan haal jy jou herinneringe aan die musiek van David Kramer? Vir musiekregisseur-baskitaarlegende Schalk Joubert begin dit seker by Sannie van der Spuy en die Volkswagen-advertensies van toeka.
"So ver ek kan onthou was David deel van my lewe. Sy musiek was oral te hoor by sosiale geleenthede en waar ook al ons ouers gekuier het."
Schalk, wat die produksie van Kramer se 70ste verjaardagkonsert, David Kramer: Boland tot Broadway, aanmekaar gesit en die musiekregie behartig het, sê hy het sowat 20 jaar gelede vir die eerste keer saam met Kramer opgetree: "Ek het destyds vir hom gesê dat dit voel of ek in 'n cover band speel - ek ken al sy musiek so goed."
Hy verwys na Kramer se "besonderse vermoë om 'n verhaal van mense en plekke in 'n paar reëls vas te vang in sulke duidelike beelde dat jy onmiddellik 'n lewenslange verhouding met sy liedjies aanknoop".
Maar dit klink nie asof Schalk se goeie kennis van Kramer se musiek hom noodwendig gehelp het nie. Hy het begin met 'n lys van sowat 45 liedjies, gekies deur Kramer self, en moes dit uiteindelik verminder tot net 20. Hoe het hy dit gedoen?
"Ek het vir David gesê dat dit nog steeds moeilik sou wees om 'n lys te kies, al maak mens 'n TV-reeks van ses seisoene."
Hy herinner jou dat Kramer nie minder nie as 18 plate uitgegee het en 15 musiekspele geskryf het.
"Ek wou graag 'n gesonde verskeidenheid van sy musiek insluit en ek het my ook laat lei deur die verskillende kunstenaars se vermoëns om sy musiek te vertolk."
Schalk sê Loukmaan Adams se insette was ook van groot waarde. "Daar was tientalle liedjies wat ek met 'n swaar hart moes laat gaan. Geweldig baie van die musiek uit die teaterstukke en dan ook liedjies soos ‘ 'n Man stap', ‘Budgie and The Jets', ‘Stanley en die koei' en ‘Out of the Blue'."
Wat gaskunstenaars betref, het hy weereens begin by 'n gesprek met Kramer. "Hy het aanvanklik 'n paar voorstelle gemaak, maar hy het dit uiteindelik aan my oorgelaat om die finale lys van kunstenaars te kies," vertel Schalk. "Baie van die sangers en musikante wat ek uiteindelik gekies het, het 'n lang werksverhouding met David gehad, maar sommige het ek gekies om iets vars en onvoorspelbaars na die produksie te bring. Mense soos Adelia Douw en Pietman Geldenhuys het nog nooit vantevore saam met David opgetree nie, terwyl ander, soos Loukmaan en Emo Adams, al hulle lewe lank saam met hom werk."
Om soveel musikante en tegnici te bestuur was uitdagend, maar Schalk sê daar is verstommende werk gedoen. Die hele konsert is in net twee dae opgeneem en die professionele bydraes van almal betrokke het die projek vlot laat verloop.
"Die hoeveelheid talent saam op een verhoog het gereeld my mond laat oophang. Hulle is almal reeds geboek vir David se 80ste."
- Toyota Top-10: David Kramer-huldeblyk - Boland tot Broadway | 2 Oktober | 7 Oktober
Hierna sien Schalk uit
Schalk Joubert sê hy sien veral uit na hierdie drie aanbiedings op die Toyota US Woordfees se TV-program:. Smeltkroes. Karoo Suite 2. Nina Schumann se solo-klavieruitvoering












