Reza de Wet se Mis, Adam Small se Krismis van Map Jacobs en Andrew Buckland en Sylvaine Strike se Ferine & Ferase is toneelstukke wat spesiaal vir Woordfees TV verfilm is. Maar hoe laat jy teater op die kassie lewe? Die bekroonde kinematograaf Jorrie van der Walt verduidelik.

"Ons akteurs is gelukkig so gewoond aan teater- én TV-werk. Dit het beslis die opneem van die toneelstukke vergemaklik," sê Jorrie van der Walt, die bekroonde kinematograaf verantwoordelik vir die verfilming van Mis, Krismis van Map Jacobs en Ferine & Ferase.
Die skedule was straf, sê Jorrie, met vyf of ses dae om elk van die toneelstukke op film vas te vang.
"Ons het amper nooit iets óórgeskiet omdat die akteurs 'n fout gemaak het nie. Hul dissipline was indrukwekkend."
Maar hoe gemaak om 'n toneelstuk - wat die gehoor gewoonlik net van één kant kan sien - vir TV te verfilm? Wat bly dieselfde en wat verander?
Eerstens, sê Jorrie, was daar twee regisseurs betrokke - een wat met die akteurs en stel gewerk het en 'n tweede wat dít dan vir TV moes interpreteer.
"Jaco Bouwer, wat as TV-regisseur gewerk het, het self baie teaterervaring. Ek dink dit het uiteindelik baie gehelp, want dit was nie twee regisseurs wat téén mekaar gewerk het nie, maar eerder saam."
Daar is ook besluit om elkeen van die drie stukke anders te benader. Só is die erns van Reza de Wet se klassieke stuk Mis gekommunikeer in 'n swaarder, donkerder aanslag. Die toneelstuk het ook net een stel, en die mure van die huis is oorgetrek met ogiesdraad - die gehoor kan dus steeds daardéúr sien, maar dit skep die nodige ruimtes waarbinne die verhaal afspeel.
"Ferine & Ferase is weer net twee akteurs. Daar word baie van mimiek en gebare gebruik gemaak en met tye is daar min dialoog. Dit herinner aan die era van Charlie Chaplin."
Hulle het daarom besluit om dit alles in swart-en-wit te verfilm.

Die stelontwerper Wolf Britz het 'n weerballon laat instaan vir die maan. Verder is die ruimtes grootliks geskep deur die gebruik van groot stukke materiaal, wat telkens anders gedrapeer is.
"Ek sal dit opsom as baie intelligent, maar met groot eenvoud," sê Jorrie.
Krismis van Map Jacobs is weer aan die ánder kant van dié skaal: Soms was meer as 15 akteurs op die verhoog, met verskillende agtergronde waarteen die verhaal afspeel. Boonop bevat dit ook sang en dans. "Die baie elemente en akteurs het dit 'n uitdaging gemaak."
Jorrie, wat onlangs die SXSW 2021-prys vir kinematografie in die VSA gewen het, sê hy dink Woordfees TV is 'n vernuwende inisiatief. "Ek glo teater sal heeltemal herstel ná Covid, maar daar is tog nou 'n nuwe medium geskep."
Ook wat voorgeskrewe werke, soos Mis en Krismis van Map Jacobs betref, bied die opnames die geleentheid vir soveel méér leerders om die toneelstuk te sien soos wat dit tot stand kom wanneer gesoute akteurs en regisseurs daarmee werk.
- Sien woordfees.co.za vir meer inligting oor die program.













