Skakel weekdae om 17:00 in op Kuiertyd op eExtra (kanaal 105) eksklusief op Openview, vir vyf ure se Afrikaanse vermaak met Turkwood: dis Afrikaans-Turkse telenovelles vol drama, romanse, komedie en hope aksie.
Kuiertyd is Turkwood-tyd ? die plek waar jy al jou mees geliefde Turkse telenovelles kan kyk. Suid-Afrika se gewildste Afrikaans-Turkse programme is almal hier op een plek. Moenie die drama, passie, romanse en spanning misloop wat net die Turkse dramas verskaf nie. Jy kan elke aand vir 5 ure lank kyk na telenovelles soos Annekan die Swa' Kry - 17:00 op e.tv (drama); Elif - 18:00 op eExtra (drama); Roekelose Dade - 19:00 op eExtra (dramedie); Wie Laaste Lag ? 20:00 op eExtra (romkom); en Ramo - 21:00 op eExtra (aksie). Jy sal gou versot raak op die karakters (die goodies en die baddies!) en waarskynlik die stemme van sommige van die werklik puik Suid-Afrikaanse stemakteurs vir die Turkse sterre herken. Die Turkse telenovelles is eksklusief beskikbaar op eExtra (Openview-kanaal 105).
Hier is die storielyne waarna jy kan uitsien:
Annekan Die Swa' Kry: Seisoen 1 bereik 'n dramatiese klimaks wanneer Kadir verkeerdelik weens moord in die tronk beland vir al Akif se misdade. Tolga vind uit Kadir sit onskuldig in die tjoekie en vertel haar kêrel, Doruk, daarvan. Hy is nou in 'n dilemma, want hy moet besluit of hy die liefde van sy lewe se onskuldige broer uit die tronk gaan red, of gaan stilbly om sy pa, die eintlike skuldige ou, te help.
Elif: Julide kry onaangename nuus en sy, haar seuntjie, Emirhan, en Melek moet inderhaas uit hul huis trek. Safak help haar na 'n nuwe huis soek, maar dis óf te duur óf te ver. Dan kry hy 'n slim plan, maar die kans is goed sy ma, Leman, gaan dit in die wiele ry. Tarik en Humeyra wag in spanning om hul baba se geslag uit te vind. Tarik is seker dit is 'n seuntjie, maar Humeyra wil graag 'n dogtertjie hê. Raai wie is in die kol. Melek se geheue word geprikkel en sy wil na Izmir gaan, maar sy verloor haar geld en kan nie 'n buskaartjie koop nie, dus sit sy weer in sak en as. Parla raak al vieser wanneer die band tussen Surreya en Kerem hegter word. Kerem pak 'n opwindende nuwe sakegeleentheid aan wat Tarik woedend maak. Tarik en Macide soek albei steeds na Melek, maar sy ontwyk hulle nog. Ons hou duimvas Tarik kry haar nie eerste nie.
Roekelose Dade: Wanneer Filiz uiteindelik toesig oor Memo kry, raak Hulya heeltemal van haar kop af. Sy sweer hoog en laag sy gaan hom terugkry en geen nie om tot watter uitstes sy moet gaan om te slaag nie. Melek is baie ontsteld toe sy uitvind Husseiyn maak vir iemand anders ogies. Namate dinge meer intens raak, kom ons al hoe nader aan die waarheid oor wie nou regtig Bahar se ouers is ? en dit is dalk nie vir almal ewe goeie nuus nie . . .'
Wie Laaste Lag: Esra en Ozan se gevoelens vir mekaar raak al hoe meer gekompliseerd, maar wanneer Ozan toevallig 'n persoonllike gesprek tussen Esra en Zeynep afluister, is hy platgeslaan. 'n Gebroke Ozan, wat nie die hele gesprek gehoor het nie, vra Cagla net daar om met hom te trou, 'n stap wat Esra heeltemal onkant vang en teen die grond het, en hoe meer sy aan Ozan probeer verduidelik, hoe meer skop hy vas en bly onversetlik. 'n Familielid keer terug en krap Cinar en Cagla se lewe om, wat die tweeling verder ontwrig. Ozan verdwyn op sy troudag nadat Zeynep 'n bom los oor Esra. Dan raak Cagla en Esra raak aan die stoei met aaklige gevolge wanneer Esra bewusteloos agtergelaat word en haar gesin waansinnig na haar soek.
Ramo: Wanneer Ramo uiteindelik uit die tronk vrygelaat word, is hy op 'n missie om uit te vind wat Sibel vir hom wegsteek en waarom sy teen hom getuig het. Die Mafia--baas Cihangir wil 'n nuwe oorlog begin. Skakel gerus in om te sien wie gaan die geveg wen en wie gaan die onderspit delf.
















