Dis die wonderlikste tyd van die jaar. Die feestyd is hier en ons het by 'n paar van VIA (DStv-kanaal 147) se gunstelinge gaan inloer om te hoor wat Kersfees vir hulle beteken en waarna hulle uitsien.
Minki van der Westhuizen, aanbieder van Minki
Kersfees is vir my 'n Jesus-fees, dis die rede waarom ons Kersfees vier. Ek is mal oor Kersfees en die bekoring daarvan. Kersfees gaan oor familie- en gesinstyd. Tyd om nuwe herinneringe te maak en te reflekteer oor 'n jaar wat amper verby is. Ons gaan bietjie Weskus toe, daar gaan ons lekker ver stap op die pragtige wit strand en dit dalk in die ysige water waag. Ons gaan klipvissies vang, middagslapies vat, en net die saamwees geniet! Dis so 'n voorreg!
Beer Adriaanse, aanbieder van Slim vang sy baas
Kersfees beteken ek kan na 'n jaar van meestal groente eet uiteindelik weer 'n hele beestong op my eie verslind. Veral met mosterdsous. My gesin lê wydverspreid, so as ons gelukkig is, beteken dit ons kan almal onder een dak saam wees met Kersliedjies wat pomp, vure wat brand en my ma se Kersboom wat die dak kielie.
Martelize Brink, aanbieder van Martelize se stamtafel
Ons sien uit na 'n braai Kersaand. Dit gaan baie rustig wees. Ek werk heeldag. Kersfees se betekenis het vir my verander oor die jare. Ek sal net graag wil sien dat mense na ander wat minder bevoorreg is uitreik met kos en/of liefde. Mense is baie alleen in dié tyd.
VIA is natuurlik heeltyd daar vir jou hierdie vakansie. Hou jou TV-gids dop vir die heruitsendingstye van die reekse wat jy die jaar misgeloop het, en maak seker om ook in te skakel vir die KKNK-fees op VIA!
Klik hier en lees hier vir die besonderhede van die 4 drama's wat oor Kerstyd begin speel op VIA
















