Promosie

Wat het van Ramaforia geword?

Kan die JSE skielik omswaai en weer een van die wêreld se toppresterende markte word, soos wat sommige fondsbestuurders van tyd tot tyd beweer? Só vra Magnus Heysteck,'n beleggingstrateeg by Brenthurst Wealth. Foto: ISTOCK
Kan die JSE skielik omswaai en weer een van die wêreld se toppresterende markte word, soos wat sommige fondsbestuurders van tyd tot tyd beweer? Só vra Magnus Heysteck,'n beleggingstrateeg by Brenthurst Wealth. Foto: ISTOCK

Dis al meer as drie jaar sedert Cyril Ramaphosa (a) as leier van die ANC aangewys is en (b) twee maande later as president van Suid-Afrika oorgeneem het nadat Jacob Zuma op 14 Februarie 2018 van sy amp afstand moes doen.

Die media en politieke kommentators kon nie meer geesdriftig oor dié verwikkeling wees nie. Dít was die ANC se kans om asem te skep na nege jaar van korrupsie, stagnasie en ekonomiese agteruitgang waaronder die land danksy Jacob Zuma en sy binnekring gebuk moes gaan Z of so wou hulle ons laat glo.

Tussen Desember 2017 en Maart 2018 het die nuwe president ook die markte se goedkeuring weggedra: buitelandse kapitaal het die land binnegestroom en die rand het tot R11,40 teen die Amerikaanse dollar versterk, terwyl die JSE ook 'n puik oplewing getoon het. Vir sommige kommentators en batebestuurders was dit die begin van groot dinge.

Goldman Sachs, die reuse- internasionale beleggingsbank, kon nie daaroor uitgepraat raak nie en het Suid-Afrika - en daarmee saam die JSE - as die "groot ontluikende markte-verhaal van ons tyd" voorgehou.

In 'n spesiale verslag deur Ron Gray, Caesar Maasry en Sara Grut wat wyd gepubliseer is, kon dié bank nie meer vleiend teenoor die nuwe Suid-Afrikaanse regime wees nie. Daar is verwag dat die land se groeikoers dramaties sou verbeter (met 2,8% vir 2018), die rand sou versterk en daar 'n massiewe invloei van buitelandse kapitaal sou wees.

Hul voorspellings kon nie verder uit die kol gewees het nie. Uiteindelik het die groeikoers skaars 1% vir die jaar gehaal en die vloei van buitelandse kapitaal het in die teenoorgestelde rigting gedraai.

Dié positiewe boodskap is deur Colin Coleman, hoof van Goldman Sachs, herhaal tydens 'n ontbyt kort nadat Ramaphosa as president die leisels oorgeneem het.

Goldman Sachs is bekend vir hul oordrewe optimisme oor Suid-Afrika en sit dan dikwels die pot mis.

Word dit dalk gedoen om guns by die ANC te wen in ruil vir sappige kontrakte? Ek vra maar net.

Plaaslik kon fondsbestuurders ook nie meer ywerig wees nie. Jy kon dit nie waag om 'n radiostasie aan te skakel, televisie te kyk of 'n finansiële webtuiste te lees sonder dat een of ander plaaslike batebestuurder jou smeek om in die mark te spring omdat dit nog net hoër gaan klim nie.

"Die JSE gaan binne die volgende vyf jaar die beste beleggingsmark in die wêreld wees", het een hoofopskrif gelui, terwyl plaaslike fondsbestuurders eenparig in hul lof vir die nuwe president was.

"Daar is min twyfel dat Suid-Afrika hom in 'n baie beter plek as vantevore bevind. Die waarneming is dat die nuwe ANC-leierskap korrupsie sal uitroei en die swak ekonomie 'n hupstoot gaan gee," het Steven Schultz van Momentum in 'n Februarie 2018-uitgawe van Money Marketing gesê.

Ewe optimisties was Izak Odendaal, ekonoom van Old Mutual Multi-Managers, wat voorspel het dat die rand verder gaan versterk danksy die verskuiwing van mag binne die ANC en die verwagte uitskakeling van korrupsie in die regering en die land se semistaatsinstellings.

Ramaforia het egter nie baie lank gehou nie. Inteendeel, dit het 'n geleidelik dood gesterf en sedertdien was dit net 'n lang instorting na benede.

Die rand het gedurende die Covid-19-pandemie by 'n laagtepunt van R19,40 gaan draai en selfs nou, teen R14,70, is dit aansienlik swakker as die tyd toe Ramaphosa die troon bestyg het.

Die groot invloei van buitelandse kapitaal na ons mark waaroor daar so gespog is, was toe al die tyd 'n bemarkingsmite.

Inteendeel, sedert Ramaphosa as president oorgeneem het, het die land 'n massiewe uitvloei van kapitaal oor hierdie tydperk gesien, hoofsaaklik uit die JSE.

Die totale uitvloei van kapitaal van Maart 2018 tot Desember 2020 (wat vir die eerste keer in 28 maande 'n klein styging getoon het) was meer as R350 miljard.

In 2020 alleen is R250 miljoen deur buitelandse ekwiteitsbeleggers uit die plaaslike effektebeurs gekoop.

Kommentators wat dit gewaag het om afwykende sieninge oor die vooruitsigte van SA onder die "nuwe" ANC te opper, is aan bespotting onderwerp. Niemand was blykbaar bereid om 'n bietjie dieper in SA se verslegtende ekonomiese vooruitsigte te gaan delf nie.

Die afgelope drie jaar moes ek aanskou hoe die een plaaslike batebestuurder na die ander met allerhande stories vorendag kom oor hoekom dit "nóú die tyd is om in die JSE te belê".

Op radiostasies en webtuistes is hierdie boodskappe ad nauseam herhaal sonder enige meningsverskil van die betrokke mediahuise.

Soms was dit 'n verleentheid om na hierdie eensydig onderhoude te luister, uitgesaai op radioprogramme wat deur die beleggingshuise van die betrokke batebestuurders geborg is.

Ek verstaan heeltemal dat batebestuurders besigheid moet werf vir die fondse wat hulle bestuur. Die groei van bates is die alfa en omega vir batebestuurders. Loopbane, salarisse en bonusse is hiervan afhanklik. Ek het nog nooit gehoor dat 'n fondsbestuurder vir sy gehoor sê dat hy of sy nie in sy fonds moet belê nie.

Dít moet die rol van die media wees, of dit nou afhanklike of onafhanklike finansiële adviseurs is.

Maar wat van die beleggers wat dit alles laat gebeur?

Daar is seker sektore van die media wat hul koppe in skaamte moet laat hang omdat hulle hierdie eensydige uitbeelding in die nuus toelaat.

Aan die einde van die dag is dit die "Mamma-en-Pappa"-beleggers wat gaan verloor omdat hulle matelose vertroue in die groot beleggingsondernemings plaas aan wie hulle hul swaarverdiende geld toevertrou het.

Dit is hartverskeurend wanneer beleggers state van hul RA's, uitkeerpolisse en selfs diskresionêre portefeuljes aan my wys, waar daar in vyf, sewe en in sommige gevalle selfs 10 jaar weinig groei was.

Tekort aan egte groei oor 10 jaar

Sommige van SA se grootste effektetrustfondse het oor drie, vyf en sewe jaar geen geld vir hul beleggers gemaak nie.

Ek sou dink dat 'n onderhoud of twee met sulke fondsbestuurders waardevol kan wees, maar wag nog om so iets in die media te sien.

Tog is sommige van hierdie meerjarige onderpresteerders borge vir van die gewildste finansiële radioprogramme in die land.

Dit is een manier om jou swak prestasies te versteek waar almal dit kan sien: borg hulle tot hulle met jou saamstem!

Kyk maar gerus na die opbrengste van beleggings in SA teenoor vergelykbare internasionale beleggings oor die afgelope drie jaar in die onderstaande tabel.

Ek het die syfers bereken volgens 'n aanvangsbedrag van R10 000 drie jaar gelede, asook wat dit sowat 'n week gelede in rand sou wees.

In die tabel wat ek saamgestel het, het ek 'n lukrake getal plaaslike en internasionale beleggingsfondse op verskeie LISP-platforms gebruik wat aan plaaslike beleggers beskikbaar is. Ek het spesifiek hoëpresterende tegnologie, biotegnologie en FAANG (Facebook, Amazon, Apple, Netflix and Google)-aandele uitgelaat, wat 'n selfs groter verskil in finansiële uitkomste sou toon.

Pleks daarvan om die opbrengste in persentasie aan te dui, soos die gebruik is, het ek die werklike uitkoms in rand en sent aangetoon, wat 'n baie beter manier is om die fondsprestasie te meet. Dié opbrengste vlei geensins die plaaslike mark nie.

Lesers kan self afleidings maak oor hoe swak plaaslike beleggers die afgelope drie jaar gevaar het.

Die bateklas wat die ergste deur die verslegtende Suid-Afrikaanse grondfaktore geraak is, was die plaaslik genoteerde eiendomsektor wat jare lank die liefling van die plaaslike beleggingswêreld was.

Beleggers wat die goeie nuus-stories geglo en in tradisionele fondse belê het, het vandag slegs 60% van hul belegging oor.

Dit het veral baie pensioentrekkers swaar getref wat dalk die daling in kapitaalwaarde ignoreer, maar op bestendige dividende staatmaak vir hul inkomste.

Maar selfs dié inkomste word nou bedreig omdat baie eiendomsfondsbestuurders hul dividende verminder of heeltemal gestaak het.

'n Mens moet erken dat hierdie sektor baie swaar deur die Covid-19-pandemie getref is, maar die verswakkende tendens was reeds voor die eerste inperking in plek.

Hoeveel is R10 000 wat drie jaar gelede belê is, vandag werd?

Kan die JSE die bondel inhaal?

Kan die JSE skielik omswaai en weer een van die wêreld se toppresterende markte word, soos wat sommige fondsbestuurders van tyd tot tyd beweer?

Vir dit om te gebeur, sal baie dinge eers in plek moet val (geluk sal ook aan ons kant moet wees): 'n kommoditeitsupersiklus, buitelandse beleggers wat terugkeer, meer vryemarkbeleide vanaf die ANC en 'n verbetering in die bedryfsvermoë van Eskom, om maar 'n paar te noem.

Ek laat dit aan beleggers oor om te besluit of sommige of al hierdie voorwaardes in die volgende paar jaar sal realiseer.

**Magnus Heystek is 'n beleggingstrateeg by Brenthurst Wealth. Brenthurst is in 2020 as die top-boetiekwelvaartbestuurder in SA aangewys. Kontak hom by magnush@brenthurstwealth.co.za.

Magnus Heystek

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM