Die Stellenbosse glanskok Bertus Basson is gewoonlik agter die skerms besig om 'n feesmaal vir ander aanmekaar te slaan, maar vir sý deelname aan Woordfees TV, kom hy nie naby 'n kombuis nie.

Vir die Bertus Basson: Local & Lekker-programreeks het dié kospersoonlikheid drie vriende uit Stellenbosch genooi saam met wie hy 'n paar van die dorp se unieke plekke besoek het terwyl hulle sommer lekker informeel gesels.
"Dit was my idee. Ek wou graag in Stellenbosch rondloop en met plaaslike mense gesels oor hul gunstelingplekke op die dorp," vertel Bertus.
Hy het drie gaste gekies wat elkeen om 'n ander rede bekend is, en ook op verskillende maniere in die dorp leef.

"Ek en [wynkenner] Mike Ratcliffe van Warrick is drafmaats. Vir Danie du Toit van Spoegwolf loop ek dikwels raak in Dorpstraat - ek op pad tussen Spek & Bone en Eike, terwyl Danie onderweg is na hul Drum-restaurant. Die skrywer Deon Meyer is 'n gereelde gas in ons restaurant en oor die jare het ons mekaar beter leer ken. Al drie is wonderlike mense!"
Bertus sê hy het sy drie gaste gevra vir insette. "Ons wou spesifiek die plekke wat vir hulle besonders is en waar hulle graag kom, wys."
En nee, dit gaan glad nie oor kos nie. "Ons besoek histories belangrike plekke. Die kykers kan verwag om Stellenbosch deur die oë van drie van haar bekendste inwoners te sien.
"Boonop was dit vir my 'n geleentheid om eenvoudig lekker saam met vriende te kuier," sê Bertus.
Woordfees TV nooi jou om op DStv-kanaal 150 saam te kuier.
- Bertus Basson: Local & Lekker | 5 Oktober | 6 Oktober | 7 Oktober












