Begroting

Spanning laai op oor Godongwana se begrotingsrede

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag by die parlement toe sy begrotingsrede uitgestel is. Foto: GCIS
Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag by die parlement toe sy begrotingsrede uitgestel is. Foto: GCIS

Die spanning laai op oor Woensdag se begrotingsrede - Enoch Godongwana, minister van finansies, se tweede poging vanjaar. Na verneem word het pres. Cyril Ramaphosa Dinsdagaand met leiers van partye in die regering van nasionale eenheid gesels. Intussen het opposiepartye hulle sterk teen enige verhoging van BTW uitgespreek. Die MKP en EFF het 'n welvaartsbelasting in die plek daarvan voorgestel.

Hier is van die tergende vrae oor wat Woensdag en daarna kan gebeur.

1. Gaan BTW nou verhoog word of nie?

Gissings is dat belasting op toegevoegde waarde (BTW) wel met minstens 'n halwe persentasiepunt van 15% na 15,5% verhoog kan word as 'n soort kompromie, of selfs met 0,75 of 1 persentasiepunt.

Waar Godongwana aanvanklik sowat R60 miljard meer met 'n styging van 2 persentasiepunte wou invorder, kan die laer BTW-verhoging ruweg enigiets tussen R15 miljard en R30 miljard meer inbring. Dit kan straks gebalanseer word deur die beoogde ekstra uitgawes in die mislukte begroting dienooreenkomstig te besnoei sodat die syfers uiteindelik steeds klop soos voorsien op 19 Februarie.

Die vermoede is dat die tesourie op verskeie plekke bietjies-bietjies kan torring. Dit sluit in:

• om minder toe te ken vir infrastruktuurfinansiering;

• om die welsynstoelaes slegs met inflasie pleks van met meer as inflasie te verhoog;

• om wel 'n inflasieverwante verhoging in die brandstofheffings in te stel; en

• om die kerwe vir persoonlike belastinginkomste vir minstens die middelklas en rykes nié vir inflasie aan te pas nie.

Die koeël is reeds deur die kerk vir staatsdienssalarisse. Met 'n loonooreenkoms wat reeds beklink is, sal Godongwana nie nou so 'n polities ongewilde ding doen soos om die salarisrekening te besnoei nie.

2. Wat gaan met die skuldtrajek gebeur?

As Godongwana sou besluit om geen BTW-verhoging in te stel nie, of slegs 'n klein verhoging maar sonder besnoeiing aan uitgawes, sal die regering meer geld moet leen. Gevolglik sal die verhouding van staatskuld tot die bruto binnelandse produk (BBP) straks nou eers oor 'n jaar of twee sy beloofde spits bereik voordat dit stabiliseer.

Dit is in teenstelling met die tesourie se mikpunt in die mislukte begroting dat staatskuld vanjaar by 76,6% van die BBP sou draai.

Die vermoede is dat die tesourie ongeag die staatskuld-tot-BBP-verhouding sal probeer fokus om steeds 'n primêre begrotingsoorskot te haal, dus waar nierentebesteding minder is as totale inkomste.

3. Gaan die armoedetoelae voortduur?

Luidens berigte oor die naweek het Godongwana glo geskimp dat hy moet besluit tussen 'n voortsetting van die armoedetoelae en geen BTW-verhoging nie. Sonder 'n BTW-verhoging sal die regering nie genoeg geld hê om steeds die 2020-pandemie se "tydelike" armoedetoelae van R370 per maand aan meer as 9 miljoen mense te betaal nie.

Met plaaslike verkiesings in 2026 sal dit vir die ANC politieke selfmoord wees om hieraan te peuter.

Die tesourie het die laaste paar jaar herhaaldelik genoem 'n meganisme moet gevind word om die toelae (as basiese inkomstetoelae) volhoubaar te finansier.

In die mislukte begroting is bedrae van R36 miljard en R38 miljard reeds tentatief aangeteken om die voortsetting van die toelae oor die komende twee boekjare steeds te dek.

4. Wat gebeur as die begroting nie goedgekeur word nie?

Die regskrag van die begroting lê in die Toedelingswetsontwerp en die gepaardgaande geldwetsontwerpe en wetsontwerpe op belastingwysigings wat jaarliks met die begrotingsrede ter tafel gelê word.

Hoewel die veranderings wat 'n begroting impliseer, normaalweg dadelik of van 1 April af ingestel word, volg die goedkeuring van die wetgewing die uitgerekte parlementêre prosesse. Die wetgewing word gewoonlik eers voor die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober amptelik goedgekeur.

Godongwana het in Februarie gesê die parlement het effektiewelik 'n jaar tyd om die wette goed te keur.

As dié begroting se wetgewing weens volgehoue protes vanuit die regering van nasionale eenheid of andersins nié goedgekeur word nie, laat die Grondwet toe dat die regering wel minstens 45% van die bedrag waaruit die vorige jaar se begroting bestaan het, solank kan bestee.

Dit verhinder situasies soos wat soms in Amerika gebeur waar die hele staatsdiens tot stilstand kom omdat die politici nie oor hul begroting kan saamstem nie.

Die gehalte en tempo van staatsbesteding is in elk geval sodanig dat staatsdepartemente van April tot September nog nie die helfte van hul begrotings bestee het nie. 'n Vertraging in die goedkeuring van die begrotingswette kan dus eers ontwrigtend word as dit ná Oktober steeds nie gedoen is nie.

5. Wat is die alternatiewe?

Op die oog af klink dit verregaande dat die tegnokrate in die tesourie hoegenaamd gedink het 'n BTW-verhoging van 2 persentasiepunte sou polities verteerbaar wees in die huidige ekonomiese omstandighede.

Maar BTW is 'n "eenvoudige" en "maklike" belasting om te hef wat ook mense teiken wat andersins ander vorms van belasting soos persoonlike inkomstebelasting of maatskappybelasting op 'n manier ontduik.

Die mislukte begroting het ook redelike pogings ingesluit om die impak daarvan op armes te versag deur elders tegemoetkomend te wees.

Die DA en ander se voorstelle van 'n alternatief vir 'n skerp BTW-verhoging sluit in om staatsbesteding strenger te besnoei, soos om die kabinet te verklein of verwante byvoordele te besnoei. Maar die besparings daardeur is hoogstens in miljoene en nie in miljarde nie.

Die voorstelle om eerder in ekonomiese groei te belê deur staatsinmenging en burokratiese rompslomp te beperk en die private sektor vryer teuels te gee, is in beginsel lofwaardig en goed.

Maar dit is beleidsingrypings wat geen waarborge het dat dit in die komende boekjaar die R60 miljard ekstra gaan invorder wat die tesourie nodig het nie. Dit is langtermyn-beleidshervormings wat dalk eers oor twee tot vyf jaar kan vrug dra en staatsinkomste verbeter.

Die tesourie het 'n onmiddellike probleem en 'n BTW-verhoging was 'n ooglopende, onmiddellike oplossing daarvoor.

Die aandrang dat eerder meer geld aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gegee word, is enersyds in die kol, maar sluit ook geen waarborg in dat dit wel binne die volgende boekjaar R60 miljard ekstra sal inbring nie.

Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het wel voorheen genoem daar is ruweg R400 miljard se verlore belasting wat nie ingevorder word nie, en ruweg net soveel wat belastingbetalers aan die SAID skuld maar bloot nie kan betaal nie.

Dalk moet die tesourie die waagkans neem en die SAID bemagtig soos versoek om daardie verlore skatte te gaan soek.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM