Begroting

8 verskille tussen ‘ou’ en ‘nuwe’ begroting

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag voor sy begrotingsrede.  Foto: Jaco Marais
Enoch Godongwana, minister van finansies, Woensdag voor sy begrotingsrede. Foto: Jaco Marais

Ja vir hoër belasting op toegevoegde waarde, en boonop nee vir enige belastingverligting. Hier is hoe die begroting van 12 Maart verskil van die een wat op 19 Februarie onttrek is.

1. BTW verhoog met halwe persentasiepunt

In Februarie was die voorstel om belasting op toegevoegde waarde (BTW) met twee persentasiepunte tot 17% te verhoog. Dit sou R58 miljard ekstra invorder.

Die jongste begroting stel 'n verhoging van 0,5 van 'n persentasiepunt van 1 Mei af voor en nog 'n verhoging van 0,5 persentasiepunt van 1 April 2026 af, wat die BTW-koers dan op 16% te staan sal bring.

Dit sal R13,5 miljard vanjaar en R15,5 miljard van volgende jaar af bykomend invorder.

2. Kerwe en drempels vir persoonlike inkomstebelasting bly onveranderd

In Februarie sou die onderste twee kerwe vir persoonlike inkomstebelasting met inflasie aangepas word, en is die drempels waarteen individue moet begin belasting betaal, ook met inflasie verhoog.

Dit is nou alles onveranderd gelaat, sodat iemand wat 'n verhoging kry gouer in 'n hoër belastingkerf kan beland en dus meer belasting sal moet betaal.

In Februarie sou die belastingdrempel byvoorbeeld met 4,8% verhoog word tot R100 350 en eers as jy meer as dit per jaar verdien, sou jy begin belasting betaal.

Dit word nou onveranderd gelaat op R95 750, so jy moet begin belasting betaal as jy meer as dit per jaar verdien.

3. Sondebelasting styg effens minder skerp

In Februarie sou die aksyns op drank, sigare en pyptabak met 6,83% verhoog word, en die aksyns op sigarette en damprookprodukte met 4,83%. Nou word voorgestel dit word met onderskeidelik 6,75% en 4,75% verhoog.

4. Welsynstoelaes styg minder skerp

In Februarie sou die ouderdomspensioen, die ongeskiktheidstoelae en die toelaes vir sorgafhanklikheid met 6,9% verhoog word, die kindertoelae met 9,4% en die toelaes aan oorlogsveterane en vir pleegsorg met 6,8%.

Nou gaan die kindertoelae met 5,7% verhoog word en die ander toelaes met 5,9%.

Die verhogings sou in Februarie die staatskas R6,2 miljard meer gekos het. Dit sal nou net R1,6 miljard meer kos.

5. Meer word geleen

Weens die kleiner inkomste uit belastingverhogings word die tesourie genoop om meer geld te leen, want die begrotingstekort is groter.

In Februarie was die begrotingstekort R353,1 miljard. Nou het dit tot R370,4 miljard geswel.

Dit noop die tesourie om in die komende jaar R468 miljard te leen, teenoor Februarie toe nog gedink is hy hoef net R450,6 miljard te leen.

Dit gaan die verwagte staatskuld-tot-BBP-verhouding by 76,2% laat draai, pleks van die verwagte 76,1% in Februarie.

6. Besteding aan rente op skuld is hoër

Die besteding aan rente op skuld is nou R424,9 miljard, teenoor Februarie se R424,2 miljard. Dit is dus R700 miljoen meer.

Dié bestedingsitem is wel nie meer die snels groeiende een soos in die verlede nie, en gaan na verwagting oor die komende drie jaar gemiddeld met 7,1% groei teenoor besteding aan ekonomiese ontwikkeling wat teen 8,1% sal groei.

Laasgenoemde is hoofsaaklik danksy die R46 miljard ekstra wat vir infrastruktuurprojekte oor die mediumtermyn opsy gesit word.

7. Minder word aan departement van binnelandse sake gegee

Die een groot bykomende nierente-bestedingsitem waaraan noemenswaardig besnoei is sedert Februarie se poging was aan die R3 miljard wat aanvanklik aan die departement van binnelandse sake se digitaliseringsprojek en vir personeelopleiding toegeken is.

Die bedrag krimp nou tot R1,47 miljard.

8. Gebeurlikheidsreserwe krimp

Die gebeurlikheidsreserwe was in Februarie R8 miljard. Nou is dit tot R5 miljard verlaag.

Die tesourie is op sy senuwees hieroor, want die gebeurlikheidsreserwe is juis bedoel as buffer teen enige onverwagte nuwe bestedingsdruk, en die buffer is nou kleiner as voorheen.

• Die DA het aangedui dat hy enige belastingverhoging gaan teenstaan. Die parlement moet nog die begroting goedkeur. Dit is dus in dié stadium alles voorstelle.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM