Begroting

DA ‘sal net stem vir begroting wat groei, werkskepping bevorder’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Betogers van die organisasie Vroue op Plase Woensdag voor die begrotingsrede in Kaapstad.  Foto: Jaco Marais
Betogers van die organisasie Vroue op Plase Woensdag voor die begrotingsrede in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

DA-politici het Donderdag min besonderhede gegee oor hoe hulle voorsien die proses kan verloop om die begroting na hul sin verander te kry.

Al waarop hulle in 'n uitgesaaide paneelbespreking gehamer het, is dat die DA geen begroting sal goedkeur as dit nie ingrypings insluit om die ekonomie te laat groei en werkskepping te bevorder nie.

Hoewel die DA-politici beklemtoon het hulle verwerp 'n BTW-verhoging, het hulle niks gesê oor die feit dat dié weergawe van die begroting geen aanpassing vir inflasie vir persoonlike inkomstebelasting ingesluit het nie, teenoor die mislukte begroting van Februarie wat ten minste gedeeltelike inflasie-aanpassings ingesluit het.

Tog is die feit dat BTW oor die loop van twee jaar tot 16% verhoog gaan word, pleks van tot 17% reeds vanjaar, as 'n oorwinning vir die DA voorgehou.

ANC regeer nie alleen

Die politici het beklemtoon die ANC moet nou wakker skrik en besef die party regeer die land nie meer alleen nie.

Dr. Mark Burke, DA-woordvoerder oor finansies, sê dit was meer van 'n pseudo-begroting aangesien dit nie die meerderheidsteun het nie.

Volgens John Steenhuisen, partyleier, sal Enoch Godongwana, minister van finansies, moet verduidelik hoe hy die begroting goedgekeur gaan kry met net 39% van die steun (vir die ANC) in die parlement.

Ashor Sarupen, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad en ook adjunkminister van finansies in die regering van nasionale eenheid (RNE), sê die "ANC se BTW-begroting" los nie die fundamentele probleme in die ekonomie op nie. Dieselfde beleidsagenda kan nie gevolg word as die begroting slegs 39% van die steun het nie.

Ashor Sarupen, DA-LP en adjunkminister van finansies, sê die tesourie kan nie vergelyk word met die Amerikaanse departement van regeringsdoeltreffendheid onder leiding van Elon Musk nie. Foto: Gallo Images
Ashor Sarupen, DA-LP en adjunkminister van finansies, sê die tesourie kan nie vergelyk word met die Amerikaanse departement van regeringsdoeltreffendheid onder leiding van Elon Musk nie. Foto: Gallo Images

Die DA sal slegs 'n begroting goedkeur wat hervormings insluit wat help om lewenskoste te verlaag.

"Ons het 'n hele reeks maatreëls voorgestel. Totdat hulle daartoe instem, sal ons elke jaar hierdie begroting betwis. Die ANC moet leer hy regeer nie meer alleen nie."

‘Eenvoudige' sespuntplan

Volgens Burke het die DA 'n eenvoudige sespuntplan voorgelê vir die begroting, naamlik:

• geen belastingverhogings;

• verbeter belastingvoldoening van 63% tot 67%, wat reeds meer as genoeg sou wees om verhoogde besteding en die begrotingsgaping te dek;

• onmiddellike besnoeiings aan onnodige besteding;

• 'n omvattende strategiese hersiening van besteding;

• die oopmaak van die ekonomie deur die hawens en spoorvervoer reg te ruk; en

• geen besnoeiings aan kritieke dienste soos gesondheid en onderwys nie.

Burke beskou dit as 'n polities neutrale plan.

Volgens Sarupen is jy die slegste rekenmeester ter wêreld as jy nie 'n bykomende R60 miljard uit 'n totale basislyn-begroting van meer as R1 800 miljard kan sny nie. Sy argument is dat geen belastingverhogings nodig is nie, want daar is soveel verkwisting in die staatsbesteding wat uitgesny kan word, insluitend troetelprojekte van sekere ministers en bestedingsprogramme wat al dekades gelede ingestel is maar geen impak het nie.

"Dit is nie moeilik om te doen nie, maar dis moeilik vir die ANC, want hulle moet na hul ministers gaan om te sê jy mors hier geld of jy moet hier sny."

Bemagtigingspremie

Hy het gewys op die bemagtigingspremie wat die staat betaal en wat volgens die IMF tot 1% van die BBP per jaar opvreet. Dít is nie transformasie nie, maar eerder R70 miljard wat na polities verbonde tenderpreneurs en die elite gaan wat net hulself verryk terwyl gewone Suid-Afrikaners armer word en werkloosheid styg.

Burke het mense gerusgestel dat die staat nie tot stilstand sal kom as die begroting nie onmiddellik goedgekeur word nie. Die BTW-verhoging tree eers op 1 Mei in werking, en as die begroting nie goedgekeur word nie, word die staat steeds toegelaat om tot 45% van die vorige jaar se begrotingsbedrag te bestee.

-francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM