Klimaatverwante rampe verskerp in Suid-Afrika, beskadig infrastruktuur én ontwrig lewens.
Enoch Godongwana, minister van finansies, het dit Woensdag in sy toespraak oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement gesê en bygevoeg dat die regering daarom meer as R1 miljard bykomend vir rampbestuur aan provinsies en munisipaliteite sal gee.
"Die toenemende frekwensie en intensiteit van klimaatrampe is duur en ons moet proaktief werk om die impak daarvan op die fiskus en op die samelewing te verminder."
Die MTBR lui onder meer dat provinsiale toekennings vir die lopende boekjaar se begroting 'n bykomende R948 miljoen sal insluit vir infrastruktuur-heropbou in die Wes-Kaap weens vloedskade, met geld wat toegeken is aan die provinsiale toelaes vir padinstandhouding, gesondheidsgeriewe, landbou-ondersteuning en onderwysinfrastruktuur.
Plaaslikeregeringstoekennings sluit ook R684 miljoen in vir die munisipale ramphersteltoedeling vir vloedskade aan infrastruktuur oor verskeie provinsies heen, met spesifieke bedrae wat toegeken is aan munisipaliteite in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga.
Godongwana het Woensdag verder in sy toespraak gesê 'n stadige reaksie op dié rampnoodgevalle lei daartoe dat gemeenskappe lank moet wag voordat hulle uiteindelik gehelp word.
Volgens hom sal aanbevelings oor die ramprisiko-finansieringstrategie vanaf volgende jaar geïmplementeer word om gereedheid en die reaksietye daarop te verbeter.





















