Begroting

Meerderheid staatsamptenare teken vir 7,5%-verhoging

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nehawu-lede betoog vroeg in Maart voor die kantore van die departement van arbeid in Kaapstad.  Foto: Jaco Marais
Nehawu-lede betoog vroeg in Maart voor die kantore van die departement van arbeid in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Vakbonde wat net meer as die helfte van staatsamptenare verteenwoordig, het Vrydag 'n tweejaarloonooreenkoms met die staat onderteken.

Dit beteken dat alle staatsamptenare vanjaar 'n verhoging kry wat op nagenoeg 7,5% neerkom. Dit sluit in 'n verhoging van 3,3% in hul basiese salaris en die voortsetting van die kontanttoelae van R1 000 per maand, wat gemiddeld 'n verhoging van 4,2% beteken, volgens die bedingingsraad vir die openbare sector.

Dié verhogings word op 1 April van krag.

Loononderhandelinge het so onlangs as 17 Februarie begin. Dis een van die kortste onderhandelingstydperke tot dusver in die staatsdiens.

Verlede jaar is salarisverhogings wat in April van krag moes word, eers einde Oktober terugwerkend toegeken nadat vakbonde net nie tot 'n vergelyk met die staat kon kom nie.

Die vakbonde wat die ooreenkoms onderteken het, verteenwoordig 53,9% van alle staatsamptenare. Hulle is Hospersa (wat gesondheidswerkers verteenwoordig), Naptosa en Sadtu (albei onderwysers) en die Vereniging vir Staatsamptenare (algemene staatsdiens).

Die vakbonde wat nog terughou, is Nehawu en Denosa (albei gesondheidswerkers) en Popcru en Sapu (polisielede en korrektiewe beamptes).

Die verhoging vir die boekjaar wat in April 2024 begin, gaan tussen 4,5% en 6,5% beloop, na gelang van die verwagte inflasiekoers vir die 12 maande wat daarop volg.

Volgens die bedingingsraad vir die staatsdiens beteken dit die volgende:

• As die verwagte inflasiekoers vir 2024 minder is as 4,5%, sal staatsamptenare steeds 'n verhoging van 4,5% kry; maar

• Hulle sal met 6,5% tevrede moet wees as die verwagte inflasiekoers meer is as 6,5%.

Nehawu, wat onlangs tien dae lank 'n verwoestende staking gehou het, het nog nie op die loonooreenkoms gereageer nie. Nehawu het gestaak oor die 3%-verhoging wat in 2022 toegeken is.

Dié vakbond het net tot die loononderhandelinge vir 2023 toegetree nadat die staat gesê hy sal weer oor uitstaande probleme praat.

Nehawu het 'n verhoging van 10% geëis.

Daar is geen sprake van terugwerkende verhogings vir 2022 in die bedingingsraad se verklaring nie. Daar word wel verwys na besluite oor die behuisingsubsidie wat nog geneem moet word.

Hanlie Stadler

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM