Provinsies en munisipaliteite sal oor die volgende drie jaar saam byna R3 000 miljard kry om basiese dienste aan landsburgers meer doeltreffend te lewer.
Enoch Godongwana, minister van finansies, sê in sy begrotingsrede verder dat altesaam R2 400 miljard in dié tydperk aan die nege provinsies toegeken sal word, terwyl R552 miljard gesamentlik aan die 257 munisipaliteite toegeken sal word.
Hy sê egter dat die verval van munisipale dienste duidelik in stede, dorpe en landelike nedersettings gesien kan word en dat dit die sistemiese probleme wat munisipaliteite in die gesig staar, beklemtoon.
Volgens hom sal die fiskale raamwerk vir munisipaliteite daarom hersien word en ondersoek sal ingestel word oor hoe om munisipaliteite voldoende te finansier in terme van hul funksies en vorm.
"Hervormings aan die dienste wat inkomste vir munisipaliteite genereer, soos dié vir water, sanitasie, elektrisiteit en vullisverwydering, is ook onderweg.
"Ses van die agt metro's het aan die minimum vereistes voldoen om deel te neem aan die toelaag vir finansiële prestasie-aansporing, naamlik die Stedelike Ontwikkelingsfinansieringstoelaag."
Godongwana sê verder dat groter verbintenis ook van munisipaliteite benodig word om te verseker dat inwoners en ondernemings hul munisipale rekenings betaal, om hul interne bestuur te verbeter en om die doeltreffende gebruik van hulpbronne te verseker om in die behoeftes van hul gemeenskappe te kan voorsien.
Volgens hom is die probleme wat munisipaliteite teister ook baie meer as net finansiering. "Swak politieke en administratiewe bestuur het gelei tot voortslepende mislukkings, insluitend swak kontantvloeibestuur, onreëlmatige en vermorste uitgawes en nie-voldoening aan finansiële bestuurstatute. Dit beklemtoon die behoefte vir meer aanspreeklikheid.
"Vakante poste in senior bestuursposisies, swak interne beheermaatreëls en die swak implementering van ouditbevindinge ondermyn verder finansiële dissipline en dienslewering," voer Godongwana aan.
Volgens hom staar bestedings- en inkomstedruk provinsies ook in die gesig weens die stygende koste van basiese en maatskaplike dienste, sowel as swak ekonomiese groei en die hoë leningskoste.
Provinsies is verantwoordelik vir die verskaffing van maatskaplike dienste, insluitend basiese onderwys vir gesamentlik 13,5 miljoen leerlinge en gesondheidsorg vir 53,2 miljoen Suid-Afrikaners sonder private mediese fondse.
Luidens die begrotingsrede sal R82,4 miljard vanjaar aan die Oos-Kaap toegeken word, sowel as R34,8 miljard aan die Vrystaat, R133,9 miljard aan Gauteng, R128 miljard aan KwaZulu-Natal, R74 miljard aan Limpopo, R52,4 miljard aan Mpumalanga, R17,1 miljard aan die Noord-Kaap, R44,7 miljard aan Noordwes en R65,3 miljard aan die Wes-Kaap.
• Die DA het aangedui dat hy enige belastingverhoging gaan teenstaan. Die parlement moet nog die begroting goedkeur. Dit is dus in dié stadium alles voorstelle.
- llewellyn.prince@24.com
























