Die internasionale kredietgraderingsagentskap Fitch is nie beïndruk met die vooruitsigte van die nasionale tesourie oor die regering se inkomste en besteding aan lone en maatskaplike toelaes in die komende twee jaar nie.
Thomas Garreau, assosiaat-direkteur van soewereine graderings van Fitch, en Toby Iles, hoof van soewereine graderings in die Midde-Ooste en Afrika, sê in die begroting word getoon dat die begrotingstekorte wat in die komende twee jaar verwag word, kleiner gaan wees as wat voorheen voorspel is.
"Maar die aannames oor inkomstegroei lyk asof dit optimisties is, en dit is waarskynlik dat staatsondernemings addisionele ondersteuning sal moet kry wat nie in die vooruitsig oor skuld in die begroting in ag geneem is nie."
Volgens Garreau-hulle bly Fitch se vooruitsigte oor die begroting meer konserwatief, selfs as die benutting van die wins wat met buitelandse valuta en goud gemaak is, in ag geneem word.
Dit verskil van November af:
• Verlede week het die regering in die begroting aangedui die begrotingstekort gaan na verwagting in die boekjaar tot einde Maart 2024 tot 4,9% van die BBP styg, en 4,5% en 3,7% in die daaropvolgende jare onderskeidelik.
Vergeleke met die mediumtermynbegrotingsraamwerk wat in November aangekondig is, is dit vir albei die boekjare tot einde Maart 2025 en Maart 2026 laer persentasies. Dit was voorheen 4,6% en 4,2%.
• "Gevolglik verwag die regering nou dat die skuldverhouding tot BBP in die jaar tot einde Maart 2026 tot 75,3% gaan styg. Dit is laer as die 77,7% wat voorheen voorspel is."
• Garreau-hulle sê dié verskil hou grootliks met inkomste verband.
Die tesourie voorspel nou dat die staat se inkomste in dié jaar 27,5% van die BBP gaan beloop. Dit is meer as die 27,1% wat in November verwag is.
"Ons beskou geen vooruitsigte oor die besteding wat nie met rente te doen het, as realisties nie, insluitende die loonrekening en maatskaplike toelaes.
"Ons glo dat die hersiene vooruitskatting vir inkomste en die begrotingstekort vir die boekjare tot einde Maart 2025 en 2026 optimisties is."
Fitch het in Januarie Suid-Afrika se kredietgradering op BB- met 'n stabiele vooruitsig bevestig.
Fitch het toe voorspel dat die begrotingstekort 4,8% en 4,6% van die BBP onderskeidelik in die twee jaar gaan bereik.
"Boonop begroot die regering nie vir addisionele ondersteuning vir Transnet, bykomend tot die waarborg van R47 miljard wat in Desember verskaf is, nie.
"Ons verwag dat verdere fiskale ondersteuning nodig kan wees in die komende boekjare om Transnet se ingebedde bedryfs- en finansiële probleme aan te pak en om by te dra tot sy omkeerstrategie."
Volgens hulle is daar in die vorige hersiening van die kredietgradering verwag dat die ondersteuning die vorm van 'n oordrag van skuld van Transnet na die regering gaan behels, wat R50 miljard oor die komende twee jaar sal beloop.
Die tesourie het aangekondig wins in die land se gebeurlikheidsreserwerekening (GFECRA) wat spruit uit die hoër waardasie van goud en buitelandse valuta vanweë goudpryse en die rand se wisselkoers, gaan onttrek word.
Dit gaan R100 miljard in die jaar tot einde Maart 2025 en R25 miljard in die twee daaropvolgende jare behels.
Dit gaan teen einde Maart 2027 die ophoping van skuld met sowat twee persentasiepunte van die BBP verminder.
Fitch sê hoewel die bruto skuld laer gaan wees as wat dit andersins sou wees, gaan dit nie werklik 'n impak op die kredietstand van die staatskuld hê nie omdat dit nie die onderliggende probleme aanpak wat die ophoping van staatskuld aandryf nie. Dit pak ook nie die ander oorsake van die land se kredietgradering nie, insluitend die lae ekonomiese groei, die volgehoue en groot begrotingstekorte, verhoogde openbare skuld en buitengewone hoë vlakke van armoede en ongelykheid.
"In ons vorige oorsig het ons verwag dat die bruto skuld in verhouding tot BBP in die jaar tot einde Maart 2026 tot 83,2% gaan styg, hoewel die onttrekking uit die GFECRA dit met ongeveer twee persentasiepunte sal verlaag."
Volgens Fitch vind konsultasie nog plaas oor 'n nuwe fiskale reël wat voorgestel is, maar in die begroting is daar aangedui dat 'n skuldstabiliserende primêre surplus die fiskale beleid op mediumtermyn sal anker.
"Die bekendstelling van nuwe fiskale reëls behoort fiskale volhoubaarheid op lang termyn te bevorder, maar die impak daarvan op die staatskuld se kredietstand gaan afhang van hoe bindend die beperkinge is en hoe stewig die politieke ondersteuning daarvoor is."





















