Hoewel Suid-Afrika lank reeds op rommelstatus gegradeer word, het die situasie darem nie Vrydag vererger nie.
Die kredietgraderingsagentskap Fitch het Suid-Afrika se langtermyn- buitelandse en binnelandse skuldgradering op BB- behou. Die vooruitsig vir die gradering is steeds stabiel.
Fitch het Vrydag gesê die land se kredietgradering word steeds deur verskeie faktore beperk, soos trae ekonomiese groei, hoë vlakke van armoede en ongelykheid, die hoë vlakke van staatskuld gemeet as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP), en 'n fiskale struktuur wat stram is en keer dat die begrotingstekort kan verklein.
Wat Fitch meen nog wel in Suid-Afrika se guns tel, is die struktuur van staatskuld. Dis meestal langtermynlenings en meestal in rand aangedui, wat beteken dis nie so erg aan wisselkoersskommelings blootgestel nie.
Fitch is ook nog beïndruk met die sterk instellings soos die Reserwebank en die regstelsel, en 'n "geloofwaardige raamwerk" vir monetêre beleid.
Die nasionale tesourie het in 'n verklaring gesê hy neem kennis van Fitch se besluit om die land se kredietgradering onveranderd te hou.

Fitch ag die regering van nasionale eenheid as 'n faktor wat korttermyn-beleidsonsekerheid verminder, en wat die regering in staat stel om voort te gaan met sy hervormingsprogram.
Die agentskap het hom in Junie kritiek op die hals gehaal omdat hy dit durf waag het om kort ná die uitslag van die verkiesing in Mei te sê dit sal beter wees as die ANC 'n koalisie met die DA sluit as wat hy met partye soos die EFF en MK saamwerk.
Die Afrika-Unie se portuuroorsigmeganisme het Fitch daaroor berispe en gemeen dit was voortydig en onvanpas van Fitch om politieke aanbevelings aan 'n land te doen as onderhandelings nog nie eens afgehandel is nie.
Fitch meen die vordering met die inwerkingstelling van 35 beleidshervormings onder Operasie Vulindlela wat in 2020 begin is, kan tot 'n matige styging in die BBP-groei bydra. Dit sluit die hervormings in om netwerkbedrywe soos elektrisiteit, water en vervoer te moderniseer.
Fitch het ook kennis geneem van die aansienlike verbetering in kragopwekking wat gesorg het dat daar nie sedert einde Maart nou reeds 171 dae geen beurtkrag was nie.
Fitch meen daar is potensiaal dat die kragvoorsieningsituasie op kort termyn nog verder kan verbeter.
Volgens die tesourie sal die regering voortgaan met sy strategie vir fiskale konsolidasie op mediumtermyn, wat gemik is op die beperking van besteding en matige belastingverhogings.
'n Deel van die regering se poging om fiskale risiko's te verminder, is om lenings te verminder deur die waardasiewinste van die goud- en valutagebeurlikheidsreserwerekening te benut.





















