Begroting

RNE-vennote tevrede met 3de begroting

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Enoch Godongwana, minister van finansies, lewer Woensdag sy begrotingsrede. Foto: Jaco Marais
Enoch Godongwana, minister van finansies, lewer Woensdag sy begrotingsrede. Foto: Jaco Marais

Die jongste nasionale begroting is 'n "oorwinning vir die veelpartydemokrasie in Suid-Afrika" en 'n "manifestasie van koalisiepolitiek in aksie".

Die DA en VF Plus, twee vennote in die regering van nasionale eenheid (RNE), het Woensdagmiddag só gereageer toe hulle Enoch Godongwana, minister van finansies, se derde begrotingspoging vir vanjaar verwelkom het.

Dié partye het vroeër die RNE laat wankel toe hulle saam met die EFF, MKP en ander partye Godongwana se twee vorige pogings verwerp het omdat dit 'n voorgestelde styging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) ingesluit het. Dié BTW-styging is heeltemal verwyder in die nuutste weergawe.

Die EFF en MKP het die begroting egter Woensdag verwerp. Die EFF meen dit is "swak en misleidend" en die MK beskryf dit as "teleurstellend".

Pres. Cyril Ramaphosa het die begrotingsrede virtueel bygewoon omdat hy op 'n ampsbesoek in Amerika is.

Die ANC meen Godongwana se voorlegging van vanjaar se begroting, sowel as die Wetsontwerp op Toedeling en die Wetsontwerp op die Verdeling van Inkomste verteenwoordig 'n kritieke draaipunt in Suid-Afrika se wetgewende proses "ná uitgebreide konsultasies met RNE-partye, georganiseerde arbeid, die private sektor, burgerlike samelewing en ander sleutelbelanghebbendes".

"Die 2025-begroting is een vir die mense - 'n begroting vir inklusiewe groei, werkskepping en beleggersvertroue.

"Dit is pro-arm en infrastruktuur-gefokus, wat daarop gemik is om die kwesbares te beskerm deur maatskaplike beskerming en uitgebreide toegang tot belastingvrye basiese goedere.

"Hierdie begroting weerspieël die ANC se onwrikbare verbintenis tot die verbetering van die materiële omstandighede van die armes en werkersklas," sê Mahlengi Bhengu-Motsiri, ANC-woordvoerder.

Wouter Wessels, VF Plus-LP en die party se woordvoerder oor finansies, sê die jongste begroting is 'n sprekende voorbeeld van hoe die RNE wel 'n groot invloed op regeringsbesluite kan uitoefen in die beste belang van al die inwoners van die land.

"Die realiteit van Suid-Afrika se fiskale krisis gaan gepaard met 'n enorme begrotingstekort en onvolhoubare staatskuld. Voldoende ekonomiese groei is al wat hierdie krisis, werkloosheid en armoede voldoende gaan aanspreek. "Om dit te bewerkstellig, moet die geld van hierdie begroting effektief bestee word, terwyl alle vorme van vermorsing gestaak word.

Hervorming van begrotingsproses bepleit

Dr. Mark Burke, DA-LP en die party se woordvoerder oor finansies, sê die DA verwelkom versigtig die inkomste- en uitgawevoorstelle in die begrotingsrede. "Ons sien dit as 'n weg na 'n nasionale begroting wat ons behoort te kan ondersteun wanneer dit tyd word om daaroor te stem.

"Dit is 'n oorwinning vir alle Suid-Afrikaners dat die beoogde BTW-verhoging nou finaal uit die minister se inkomstevoorstelle verwyder is ná die DA-hofaansoek in dié verband. Oor die algemeen beskou ons hierdie begrotingsrede as 'n draai van die gety na groei en investering."

Brett Herron, sekretaris-generaal van die Good-party, 'n RNE-vennoot, sê die begroting is 'n "behoudende" een om maande van onstabiliteit te besleg sedert die eerste weergawe verwerp is. "Die werklike werk lê voor, om vermorsing uit te sny en die begrotingsproses te hervorm."

Songezo Zibi, leier van Rise Mzansi, nóg 'n RNE-vennoot, sê sy party is tevrede met die jongste begroting, "al sou ons bykomende toekennings wou hê vir die dinge wat werklik vir die mense saakmaak, naamlik gesondheid, veiligheid, onderwys en infrastruktuur".

Alan Beesley, ActionSA-LP, sê sy party verwelkom die bykomende R7,5 miljard oor die mediumtermyn vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en meen dat dit jaarliks tussen R20 miljard en R50 miljard se bykomende belastinginvordering sal oplewer.

Dr. John Hlophe, parlementêre leier van die MKP, meen Godongwana het geen verwysing gemaak na hoe hy beplan om werkloosheid te verminder nie. "Ons siening is eenvoudig. Die fiskale beleid van die huidige regering is skeefgetrek. Die enigste pad vorentoe is om werkloosheid te verminder."

Thembi Msane, EFF-woordvoerder, sê hulle het Godongwana opsies gegee en uiteengesit waarop hy moet fokus. "Ons het gesê gee meer geld vir gesondheid en maatskaplike kwessies, maar in plaas daarvan het hulle geld weggeneem. Hulle het ook nie na enige studenteskuld gekyk nie."

Die EFF doen 'n beroep op die parlement se staande komitee oor finansies en die toedelingskomitee om die jongste begroting as deel van die parlementêre prosesse daaroor te wysig en besteding aan frontlinie-dienste daarin verhoog.

- llewellyn.prince@24.com

- dennis.delport@24.com

Llewellyn Prince en Dennis Delport

CTA