Begroting

Só hef ander lande aksyns op drank

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Bemarkingsfoto van die Franse likeur Cointreau. Die aksyns op Cointreau is in Swede is 76%.  Foto: Cointreau/Facebook
’n Bemarkingsfoto van die Franse likeur Cointreau. Die aksyns op Cointreau is in Swede is 76%. Foto: Cointreau/Facebook

Die maniere waarop ander lande aksyns op drank hef, kan die tesourie idees gee oor hoe om Suid-Afrika se belasting op alkoholprodukte aan te pas.

In die Filippyne gebruik die staat al die inkomste uit die aksyns op drank om dié land se nasionale gesondheidsorgstelsel gedeeltelik te finansier, asook om mediese dienste te verbeter en om die Filippyne se volhoubare-ontwikkelingsdoelwitte te help behaal.

In Nieu-Seeland is daar 'n bykomende heffing op drank om dié land se gesondheidsbevorderingsagentskap te finansier. Die agentskap is gestig om alkoholverwante skade te help verhoed en verminder. Dit is ingevolge wetgewing wat in 2022 goedgekeur is. Die heffing vir die agentskap is wel aansienlik laer as die gewone aksyns, en wissel van 0,56 tot 14,41 sent per liter. Die bedrae is in Nieu-Seelandse dollar, so in rand bedra dit tussen 6c en R1,53 per liter.

Dié voorbeelde is vervat in 'n besprekingsdokument wat die tesourie verlede week gepubliseer het en waarop hy openbare kommentaar inwag.

Die tesourie meld Kanada as 'n land wat beter vaar as Suid-Afrika wat betref die verbruik en misbruik van drank na gelang van aanwysers van die Wêreldgesondheidsorganisasie. Kanada het verskillende kategorieë van aksyns op die onderskeie dranksoorte op grond van die alkoholinhoud, met drie kategorieë vir wyn en bier, en twee kategorieë vir spiritualieë.

Die Kanadese aksynskoerse word jaarliks volgens hul verbruikersprysindeks aangepas.

Kanada hef wel geen aksyns op plaaslik geproduseerde drankprodukte wat van heuning of appels gemaak word nie, en wynprodukte met 'n alkoholinhoud van 0,5% of minder word as nie-alkoholiese wyn beskou en daar word nie aksyns daarop gehef nie.

In Kenia word aksyns na gelang van inflasie aangepas, hoewel die hoof van die Keniaanse belastingowerheid met goedkeuring van die minister van finansies die mag het om sekere produkte van die inflasie-aanpassing te kan vrystel gegewe die heersende ekonomiese toestande vir dié produkte. Die minister het ook die mag om die aksyns te verhoog of te verlaag, maar nie met meer as 10% nie.

Australië het op sy beurt volgens die tesourie 'n veel meer ingewikkelde aksynsraamwerk, met vier verskillende belastingstrukture vir bier, wyn, spiritualieë en gebruiksgerede drankies, en twee verskillende maniere van belasting. In Australië is daar agt verskillende aksynskoerse vir bier, terwyl brandewyn anders belas word as ander spiritualieë.

In Europa is die aksyns op drank gemiddeld hoër as in Suid-Afrika in alle kategorieë. Dit staan op €18,32 per liter vir die absolute alkoholinhoud in spiritualieë, €8,55 per liter vir bier en €0,80 per liter vir wyn.

Oor die algemeen word wyn veel ligter belas in die meeste Europese lande, met spiritualieë wat op sy beurt swaarder belas word. Laasgenoemde se aksyns kan egter aansienlik verskil, van net 5% van afslagdrankpryse in Tsjeggië tot 76% in Swede vir Cointreau-likeur.

Dit blyk uit 'n studie dat lande in Europa wat wyn produseer, uiters lae of geen aksyns op wyn hef nie. Brittanje hef byvoorbeeld 'n lae aksyns op appelwynprodukte vanweë die hoë plaaslike produksie van appelwyn.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM