Begroting

Staatsdiens, kabinet ‘gaan verklein word’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lede van die kabinet Thandi Modise en Angie Motshekga tydens Maandag se debat in die Nasionale Vergadering oor die verwydering van adv. Busisiwe Mkhwebane as openbare beskermer. Foto: Gallo Images
Lede van die kabinet Thandi Modise en Angie Motshekga tydens Maandag se debat in die Nasionale Vergadering oor die verwydering van adv. Busisiwe Mkhwebane as openbare beskermer. Foto: Gallo Images

Die kabinet en staatsdiens gaan oor die volgende drie jaar verklein word om veral die doeltreffendheid van openbare besteding te verbeter, sê Enoch Godongwana, minister van finansies.

"Die 2024-begroting sal maatreëls gegrond op bestedingshersienings voorstel en 'n gesamentlike span berei aanbevelings daaroor voor, insluitende die sluit of samesmelting van nie-presterende entiteite," het hy Woensdag daaroor in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gesê.

Die jongste verwikkelinge kom volgens hom nadat pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede vroeër vanjaar planne aangekondig het om die struktuur en grootte van die staat te hersien en te herkonfigureer. Dit sluit die kabinet in.

Godongwana meen die land moet beter waarde uit sy begroting put. "Maatreëls sal voorgestel word, gegrond op bestedingshersienings wat in 2020-'21 en 2021-'22 gedoen is en wat 'n algemene behoefte voorstel om te verseker dat programme ontwerp word om bekostigbaar te wees en om oorvleuelende beleidsmandate te voorkom.

"Die veranderinge sal na verwagting lei tot verminderde uitvoerende verantwoordelikhede, hoër fiskale geloofwaardigheid, en besparings met nie-rente-besteding."

Die regering beskou hierdie ondoeltreffendheid as 'n verdere las op die ekonomie.

—  Enoch Godongwana, minister van finansies

Hy sê die nasionale tesourie het reeds die afgelope drie jaar 'n reeks bestedingshersienings onderneem, wat in baie gevalle die tekortkominge in beleidsbesluite en program-ontwerp, -skaal en -koste uitgelig het. Dit het ook tekortkominge in beplanning en implementering onthul wat gelei het tot oorvleuelende mandate en funksies asook duplikasies.

"Die regering beskou hierdie ondoeltreffendheid as 'n verdere las op die ekonomie," sê Godongwana.

Volgens hom sal die volgende kriteria gebruik word om te bepaal of 'n departement of entiteit gesluit moet word of met 'n ander moet saamsmelt, naamlik:

• Prestasie en grootte van die departement of entiteit, veral as dit nie meer sy mandaat nakom of nie die kapasiteit daarvoor het nie.

• Die vermoë van 'n groter departement om die funksie(s) van 'n kleiner departement te absorbeer.

• Duplisering en oorvleueling van funksies oor departemente en entiteite heen.

• Duidelikheid en uitvoering van die wetgewende mandaat.

Volgens Godongwana word hierdie hoëvlak-aanbevelings oor die moontlike sluiting of samesmelting van sommige entiteite en staatsprogramme deur die presidensie, nasionale tesourie en departement van staatsdiens en administrasie en van beplanning, monitering en evaluering geformuleer.

" 'n Toegewyde tegniese span bestaande uit die gepaste regs-, finansiële en mensehulpbronkundiges is gestig om die implementering daarvan te fasiliteer."

Ramaphosa sal in sy volgende staatsrede meer lig werp op die plan om staatsdepartemente, entiteite en programme te verminder.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM