Die vakbonde wat lid is van die vakbondfederasie Fedusa, asook die onderwysersvakbond Sadtu, het Woensdag beklemtoon hulle het nog nie enige loonooreenkoms met die staat gesluit nie.
Dit volg op mediaberigte wat hul lede verwar, wat lui dat hulle wel al met die staat op 'n loonverhoging van 7,5% ooreengekom het vir die 2023-'24-boekjaar.
Maar Mugwena Maluleke, hoofsekretaris van Sadtu, sê die "ooreenkoms" wat verlede week bereik is, was bloot 'n skikking tussen die stakende vakbonde en die regering dat die vakbonde na die onderhandelingstafel sal terugkeer.
Dit kom nadat die vakbond Nehawu en ander vakbonde onder die vaandel van Cosatu en Saftu verlede week landwyd chaos by hospitale en ander werkplekke van die staat veroorsaak het. Nehawu en die ander vakbonde het geweier om oor 2023-'24 te onderhandel, en wou hê die staat moet eers die dispuut oor die 2022-'23-loononderhandelinge opklaar.
Volgens Sadtu en Fedusa, onder wie se vaandel vakbonde soos Hospersa, Naptosa en die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) val, het die staat sy loonaanbod vir die komende jaar van 4,7% in Februarie tot 7,5% in Maart aangepas.
Die vakbonde het nog geen loonooreenkoms gesluit nie en gaan nou eers terug na hul lede om 'n mandaat te kry, het hulle Woensdag op 'n gesamentlike mediakonferensie gesê.
Volgens Maluleke is aansienlike vordering in die onderhandelings gemaak as die staat sy aanbod van 4,7% na 7,5% kon opskuif.
Hy het beklemtoon dit is die vakbonde wat om die onderhandelingstafel was wat die verbetering in die staat se aanbod behaal het, en nie die stakende vakbonde wat nie deel van die onderhandelings was nie.
Vakbonde soos Nehawu en Popcru wat aan die onlangse gewelddadige stakings deelgeneem het, was nie by die onderhandelings betrokke nie.
Maluleke het verduidelik die kontanttoelaag van R1 000 per maand wat staatsamptenare ontvang het, sal as deel van die staat se jongste aanbod omskep word in 'n pensioendraende verhoging.
Die aanbod van 7,5% is 'n gemiddelde aanbod versprei oor die 12 salarisvlakke in die staatsdiens, met vlak 1 wat byvoorbeeld 'n verhoging van soveel as 14,8% aangebied word, teenoor vlak 7 wat 7,7% aangebied word.
Basil Manuel, visepresident vir opleiding en onderwys van Fedusa en uitvoerende direkteur van die vakbond Naptosa, het gesê hulle is pynlik bewus daarvan dat die kontantbedrag van R1 000 teen einde Maart gaan wegval as daar dan nog nie 'n loonooreenkoms bereik is nie.
Manuel het 'n beroep op al die vakbonde in die staatsdiens gedoen om te verenig.
Volgens Manuel is hulle nog nie seker wanneer die volgende vergadering met die staat as werkgewer by die staatsdiensbedingingsraad gehou sal word nie.
Reuben Maleka, woordvoerder van die VSA, het op die mediakonferensie gesê die Covid-19-pandemie het 'n impak gehad op die mag van werkers en hul regte. Hy en Maluleke het albei bevestig hul vakbondlede het 'n vroeëre aanbod van die staat van 'n 7%-verhoging verwerp. Hulle is nou besig met 'n proses om 'n mandaat by lede te kry rakende hul verdere onderhandelingsposisie oor die staat se aanbod van 7,5%.





















