Begroting

Tesourie gee meer tyd vir kommentaar op sy drankplanne

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Drankprodukte van die eertydse maatskappy Distell, wat nou deel is van Heineken.  Foto: Distell
Drankprodukte van die eertydse maatskappy Distell, wat nou deel is van Heineken. Foto: Distell

Die nasionale tesourie se voorstelle oor nuwe maniere waarop die aksyns op drank verander kan word, het soveel belangstelling gewek dat hy die spertyd vir kommentaar daarop met 'n hele twee maande verleng het.

Die tesourie het op 13 November drie besprekingsdokumente vir openbare kommentaar uitgereik. Die spertyd vir kommentaar was 13 Desember.

Die een handel oor die tweede fase van die koolstofbelasting, en die ander een oor die belastinghantering van kollektiewe beleggingskemas, oftewel effektetrusts. Maar die een waaroor die tesourie toegegooi is met versoeke om die kommentaartydperk te verleng, is oor die belasting op alkoholiese drank.

Die tesourie het nou ingestem om nog twee maande tot 14 Februarie, Valentynsdag, kans te gee vir rolspelers om kommentaar te lewer op die besprekingsdokument oor die aksyns op drank.

Die ander twee dokumente se kommentaartydperk verstryk steeds op 13 Desember.

Die tesourie stel in die besprekingsdokument oor die aksyns op drank verskeie opsies vir veranderings voor.

Dit sluit in 'n vloerprys op drank in 'n poging om drankmisbruik te ontmoedig. Die tesourie gee toe dat die aksyns op drank oor die laaste jare teen meer as inflasie gestyg het, en daar is al hoe groter verskille tussen die drankkategorieë se aksyns. Die tesourie stel nou voor dat die verhoging van aksyns op drank aan die verwagte inflasiekoers gekoppel moet wees, met 'n perk van 10%.

Daar is ook voorstelle om drank te belas op grond van absolute alkoholinhoud pleks van op volume.

Die vloerprys wat voorgestel word, is volgens die tesourie om te keer dat produsente en kleinhandelaars die jaarlikse verhoging in aksyns absorbeer. Volgens die tesourie sal verskeie staatsdepartemente en die drankbedryf moet saamwerk om te ondersoek hoe so 'n vloerprys-meganisme kan werk.

Die tesourie verwys in die besprekingsdokument na verskillende maniere hoe ander lande drank belas. Dit sluit lande soos die Filippyne en Nieu-Seeland in wat die aksyns op drank volledig of gedeeltelik gebruik om mediese dienste te verbeter en alkoholverwante skade te probeer verhoed en verminder.

Die besprekingsdokument kan op die tesourie se webblad gelees word.

- francois.williams@24.com

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM