Begroting

Vertragings met bouprojekte vir openbare werke kos byna R4 mjd.

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Ter illustrasie. Projekte ter waarde van miljarde rand staan onvoltooid weens die departement van openbare werke en infrastruktuur se probleme.   Foto: Sanral
Ter illustrasie. Projekte ter waarde van miljarde rand staan onvoltooid weens die departement van openbare werke en infrastruktuur se probleme. Foto: Sanral

Vertragings by 107 bouprojekte in die sektor vir openbare werke kos belastingbetalers bykans R4 miljard.

Bykans twee derdes van die projekte - 63 - is reeds meer as drie jaar vertraag.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur is verlede week deur die ouditeur-generaal (OG) in 'n voorlegging hieroor ingelig.

Tekortkominge in die departement om aan sy mandaat te voldoen is luidens 'n verklaring van die komitee deur die OG beklemtoon.

Die komitee het gehoor dat 107 projekte in die sektor vertraag is teen 'n kumulatiewe koste van R3,9 miljard. Volgens die OG was die vertragings primêr weens swak prestasie van kontrakteurs wat staatsdepartemente verhoed het om die voorgenome infrastruktuur te gebruik.

"Uit die 107 projekte is 63 meer as drie jaar vertraag. Die OG het gemaan dat die openbarewerkeportefeulje voortgaan om te misluk om gehalteprojekte betyds en binne begroting te lewer," lui die verklaring.

Die komitee het sy kommer uitgespreek dat die jaarlikse prestasieteikens nie gehaal is nie en dat die gerapporteerde prestasies onakkuraat is.

Dit is volgens die komitee ook "onaanvaarbaar" dat die eiendomsbestuur-handelseenheid van die departement die afgelope vier boekjare negatiewe uitkomste behaal het. Die komitee het voorts kommer daaroor uitgespreek dat hoewel 86% van die begroting aan kerndiensleweringsprogramme in die departement bestee is, slegs 20% van die beplande teikens bereik is.

Die voorlegging van die OG aan die komitee het op areas gefokus wat aandag van die komitee vereis.

Die OG het voorts gesê dit is belangrik dat die departement in staat is om teen konstruksiemaatskappye op te tree wat nie presteer nie.

Die departement moet ook terugvoering aan die komitee verskaf oor wat hy doen om sy tekortkominge die hoof te bied en sy prestasie te verbeter.

Die komitee was ook krities oor die afwesigheid van die minister van openbare werke by die komiteesitting.

Voorts het die komitee gesê dit is "onaanvaarbaar dat miljoene rande" aan Telkom Towers (die polisie se hoofkwartier in Pretoria) bestee is terwyl die gebou leegstaan, asook miljoene rande wat aan die oprigting van 'n muur by die Kosibaai-grenspos bestee is wat nie voltooi is nie.

Toesigbesoeke aan Telkom Towers asook die Salvokop-regeringsperseel in Pretoria sal op 10 en 11 Oktober deur die komitee onderneem word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM