Eiendomme

Akademia-plan: Nuwe katedraal vir die Taal

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
'n Grafiese voorstelling van 'n deel van die nuwe Akademia-kampus wat die Kanton-eiendomsontwikkelingsmaatskappy in die ooste van Pretoria teen R3,2 miljard gaan ontwikkel. Die kampus sal onder meer lesinglokale, laboratoriums 'n kunsgalery, biblioteek, studentesentrum, koshuise en 'n sportsentrum bevat.
'n Grafiese voorstelling van 'n deel van die nuwe Akademia-kampus wat die Kanton-eiendomsontwikkelingsmaatskappy in die ooste van Pretoria teen R3,2 miljard gaan ontwikkel. Die kampus sal onder meer lesinglokale, laboratoriums 'n kunsgalery, biblioteek, studentesentrum, koshuise en 'n sportsentrum bevat.

Kort ná die suksesvolle ontwikkeling van Sol-Tech se kampus in Centurion, pak die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton nou die grootste ontwikkelingsprojek in die geskiedenis van die Afrikaanse taal- en kultuur­gemeenskap aan.

'n Nuwe kampus vir die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia op 'n stuk grond van 220 ha in die ooste van Pretoria, sal teen R3,2 miljard ontwikkel word. Hierdie reusekampus sal 5 000 voltydse voorgraadse en sowat 1 500 nagraadse studente huisves. Daar sal plek wees vir 1 500 koshuisinwoners.

Die eerste fase sal R1,8 miljard kos en voltooi wees wanneer die kampus in Januarie 2028 open. Die afgelope sowat vier jaar is nagenoeg R80 miljoen bestee om die grond te koop en die nodige regeringsgoedkeuring te kry.

Henk Schalekamp, die besturende direkteur van Kanton, het met die bekendstelling in Pretoria gesê die kampus is deel van die Toekomsbouer-veldtog en verteenwoordig 'n historiese keerpunt om die volhoubaarheid van hoër onderwys in Afrikaans te verseker.

Volgens Francois van Vuuren, die direkteur van eiendomme by Kanton, is omsigtigheidsondersoeke oor meer as 10 stukke grond gedoen voordat hulle op die perseel op die Boschkop-pad besluit het. Voorbereidingswerk sal middel 2025 begin en bouwerk in Januarie 2026.

Die kampusontwikkeling behels onder meer 'n akademiese node van 31 000 m² waaronder lesinglokale, laboratoriums, toetssentrums, 'n biblioteek, kunsgalery, ouditorium, kafeteria, restaurante, koffiewinkels en 'n studentesentrum. Daar sal ook 'n sportsentrum van wêreldgehalte gebou word vir sportsoorte soos rugby, krieket, netbal, tennis, atletiek, hokkie, swem en ook binnenshuise sportsoorte.

'n Grafiese voorstelling van 'n deel van die nuwe Akademia-kampus.
'n Grafiese voorstelling van 'n deel van die nuwe Akademia-kampus.

Akademia, wat in 2012 gestig is, het tans 3 200 studente, vyf fakulteite met 20 programme en 238 personeellede. Hy huur tans eiendomme in Centurion en in die Wes-Kaap vir sy aanbieding daar, het Marthinus Visser, die besturende direkteur van Aka­demia, gesê.

Kanton, wat uit Solidariteit­-Eiendomme ontstaan het, dien as voertuig vir die finansiering van die ontwikkeling van die nuwe Akademia-kampus.

Schalekamp sê Kanton het vier jaar gelede begin deur Solidariteit-Eiendomme te kommersialiseer, en die eiendomme te laat herwaardeer en herfinansier. Die eiendomsportefeulje het van sowat R100 miljoen tot die huidige sowat R500 miljoen gegroei.

Kanton besit eiendomme soos die Sol-Tech-kampus waarvoor hulle dan huurgeld ontvang.

Groot projekte verder in die toekoms sluit in die Pretoria Gimnasium, 'n private Afrikaanse skool wat in die stad gebou sal word. Die grond vir dié projek is reeds bekom en wanneer die grootste deel van die Akademia-kampus voltooi is, sal dié ontwikkeling begin. Akademia gaan ook mettertyd 'n eie voltydse kampus in die Wes-Kaap bou. Dit volg nadat Afrikaanse belangegroepe uit die Stellenbosch-omgewing hulle genader het, het Visser vroeër aan Rapport gesê.

Marthinus Visser (links), besturende direkteur van Akademia, en Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton.
Marthinus Visser (links), besturende direkteur van Akademia, en Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton.

Volgens Schalekamp is Kanton se sukses danksy sy stabiele huurders. "Ons huurder-profiel lyk anders as 'n kommersiële huurder-profiel en dis waar ons ons onderskei. Ons het langtermynhuurders. As jy vir 'n universiteit 'n kampus ontwikkel, het jy 'n stabiele inkomste oor dekades heen. Omdat ons so 'n stabiele eiendomsbeleggingsportefeulje het, is ons minder uitgelewer aan die siklusse van die ekonomie."

Kanton het geen fasiliteit wat leeg staan nie. "Ons sakemodel is gebaseer op 'n vennootskap tussen kultuur en kapitaal wat die doelstellings van gemeenskapsinstellings bevorder deur toegang tot die nodige leefruimtes te bied, maar ook as 'n volwaardige eiendomsbeleggingsmaatskappy wat 'n finansiële en kulturele opbrengs aan sy beleggers bied."

Kanton begin nou met die insameling van die R1,8 miljard vir die eerste fase van die kampusontwikkeling. Daarvoor is Pallidus, wat spesialiseer in onafhanklike korporatiewe finansiële advies, beleggingsbankdienste en beleggingsbestuur, betrek.

Schalekamp sê Kanton se balansstaat is in staat om 'n deel van die projek self te behartig, maar dit is "groter as onsself en daarom het ons beleggers nodig. Ons het wel duidelik gewys ons het die vermoë om ontwikkelings winsgewend te doen, soos Sol-Tech. Kanton is die afgelope vier jaar, deur Covid, winsgewend."

Hy glo daar is genoeg mense in Suid-Afrika en die buiteland wat Afrikaans op dié manier sal ondersteun. Kanton gaan aanvanklik instellings en welvarende individue nader om te belê en later sal mense uit die gemeenskap ook die geleentheid kry om deur middel van kleiner beleggings betrokke te raak.

Riana de Lange

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM