Gaaf, maar veels te min
"Een tree vorentoe, maar twee treë terug," is hoe Yael Geffen, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby's, Woensdag se begrotingsrede deur die minister van finansies, Enoch Godongwana, opgesom het.
Volgens haar was dit 'n gawe poging om iets te probeer red, maar het dit ver te kort geskiet oor wat die land werklik nodig het om sy sukkelende ekonomie om te swaai.
Hoewel die kerf vir persoonlike belasting steeds onveranderd gebly het, gaan verbruikers met minder geld in hul sak sit weens blokkruiping, sê sy.
"Dit plaas dus die droom van Suid-Afrikaners om hul eie huis te kan bekostig, nog verder buite hul bereik. Dis nie goeie nuus vir die verwagte herstel van die eiendomsmark nie."
Rooi ligte flikker
Pleks van om 'n beleggersvriendelike ruimte te skep, sal die begroting eerder beleggers afskrik, waarsku Greg Dart, direkteur van High Street Auctions.
"Neem die 15% maatskappybelasting op groot buitelandse groepe. Dis soos om 'n rooi vlag vir hulle te swaai en te sê moenie hier belê nie. Pleks om hulle te lok met aansporings, skrik ons hulle af met strafmaatreëls. Dit is skokkend," het Dart gesê.
Ook die besluit om die spaarvarkie te breek vir 'n tydelike verligting van R150 miljard, is kortsigtig.
"Die risiko op ons wisselkoers kan die land in 'n afwaartse spiraal plaas wat die ekonomie uiteindelik sal vernietig," is sy skerp kommentaar. "Vanjaar se verkiesing is 'n reg-of-weg-situasie vir Suid-Afrika. Ons het 'n regering nodig wat die groot uitdagings aanpak en kan oplos, soos kragvoorsiening, infrastruktuur en die hawens."
Blokkruiping gaan byt
Te midde van hoë inflasie en rentekoerse, en 'n regering wat met groot skuld en hoë uitgawes sit, is dit goeie nuus dat die finansminister nie persoonlike belastingkoerse hoër gemaak het nie, sê Rhys Dyer, uitvoerende hoof van die ooba-groep.
"Maar dit is wel 'n verkiesingsjaar, wat beteken dat hy ook nie sommer uitgawes te veel kon besnoei of belastings te hoog kon maak om die staatskas te versterk nie," sê hy.
"Dit is ook goeie nuus dat hy nie persoonlike belasting opgestoot het nie, want dit sou die verbruiker net nog meer onder druk geplaas het.
"Die middelklas het alreeds bitter min beweegruimte," sê Dyer.
Blokkruiping kan wel die boonste segment van verbruikers negatief raak, voorspel hy.
Dyer sê dit is ook jammer dat die minister nie die drempel vir oordragkoste, tans R1,1 miljoen, verhoog het nie.
"Dis die segment waarin veral eerstekopers speel, en kon bekostigbaarheid 'n groot hupstoot gegee het."


















