'n Beperking op die getal bednagte per jaar vir informele korttermynverhuring is nie 'n slegte idee nie, mits dit redelik en billik is, sê die onafhanklike toerisme-adviseur Gillian Saunders.
As dié getal oorskry word, moet gashere soos eienaars van hotelle en gastehuise voldoen aan al die formele vereistes vir gasteverblyf soos sonering en munisipale verordeninge.
"Dit moet egter op munisipale vlak, eerder as nasionale vlak, gereguleer word," sê Saunders.
Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van die bedryfsliggaam vir die gasvryheidsektor, Fedhasa, sê dit sal baie moeilik wees om te reguleer.
Hulle het gereageer op die regering se voorstelle in die Groenskrif oor Toerisme om 'n beter greep te kry op korttermynverhuring ná die ontwikkeling van platforms soos Airbnb, wat dit vir baie huiseienaars moontlik maak om 'n ekstra inkomste te verdien met die verhuring van 'n deel dan hul eiendom. Die Groenskrif wys daarop dat nuwe tegnologieplatforms die manier waarop mense reis, verander het. Die deel-ekonomie wat verwys na dienste soos Uber, waar mense net vir die motor betaal wanneer hulle dit gebruik, floreer in die reis- en akkommodasiebedryf en bied groter markblootstelling.
Die stelling word gemaak dat dit die koste vir klein ondernemers verhoog, want hulle moet kommissie aan die platforms betaal en is onder druk om op verskeie platforms te registreer om meer gaste te lok.
Dít, sê Saunders, is iets wat aan markkragte oorgelaat moet word.
Volgens die Groenskrif het die nuwe platforms egter gelei tot 'n ooraanbod in die mark en laer pryse wat veral vir formele instellings met hoër bedryfskoste nie volhoubaar is nie.
Korttermynverhuurders registreer nie hul besighede nie en stel nie munisipaliteite in kennis dat hulle die soort onderneming bedryf nie.
Verskeie lande en stede het daarom nuwe regulasies ingestel vir dié soort platforms. Dit sluit in 'n beperking op die getal eiendomme wat een eienaar op 'n platform mag registreer, boetes as die reëls oortree word en 'n beperking op die getal bednagte wat verhuur mag word wat wissel van 30 tot 120 dae. As dié getal oorskry word, moet gashere in sommige gevalle aansoek doen vir permitte om met die verhuring voort te gaan. Luidens die Groenskrif is daar te min inligting tans beskikbaar oor korttermynverhurings. Dit is ongereguleerd en die toerismebeleid hou nie tred met die tegnologiese ontwikkeling nie.
Anderson stem saam dat die inligting skraps is en die maklikste verkry kan word van die verhuringsplatforms. "Korttermynverhuurders registreer nie hul besighede nie en stel nie munisipaliteite in kennis dat hulle die soort onderneming bedryf nie. Daarom is daar geen ander manier om enigiets van hulle te wete te kom nie."
Saunders sê dit is verkeerd om korttermynverhurings uit te sonder. "Ons kort ook inligting oor onder meer gastehuise, klein en groter hotelle en wildlodges." Suid-Afrika volg volgens haar die voorbeeld van die meeste ontwikkelde lande en moniteer nie die totale akkommodasievoorraad op enige wyse nie. Korttermynverhurings is net een element daarvan.
Die voorstelle in die Groenskrif sluit in 'n eie stelsel van regulering en verslagdoening en die beperking op die getal verhuurbare bednagte.
Anderson sê die eiendom waarop 'n besigheid bedryf word, moet voldoen aan munisipale en ander wetlike vereistes en die departement van toerisme en Airbnb stem saam dat 'n mate van formalisering of registrasie van korttermynverhuring nodig is. Saunders is gekant teen 'n registrasiestelsel. "Daar is geen registrasiestelsel vir (ander) toerisme-akkommodasie nie en korttermynverhurings kan nie uitgesonder word nie. Ons het minder burokrasie nodig, nie meer nie en hierdie burokrasie sal geen waarde hê nie. Nie alle korttermynverhuurders gebruik eens die platforms nie, byvoorbeeld in klein dorpies waar daar sentrale besprekings is."
Sy meen egter as die beperking op bednagte redelik is, tussen 90 en 120 nagte per jaar, is dit 'n goeie idee.




















