Sowat 14% van huisverkope in Suid-Afrika is die gevolg van semigrasie soos Suid-Afrikaners na ander dorpe en stede verhuis, wys FNB se jongste eiendomsbarometer.
Mense wat ouer word en inkort na kleiner blyplekke of aftreeoorde, is egter die enkele grootste rede waarom Suid-Afrikaners hul huise verkoop en is verantwoordelik vir altesaam 22% van verkope.
Volgens FNB was verkope weens finansiële druk die rede vir 21% van alle residensiële verkope in die tweede kwartaal. Dit toon verbruikers trek swaar onder skulddienskoste.
Die data wys huiseienaars wat verkoop weens finansiële redes, koop kleiner eiendomme eerder as wat hulle huur.
Sowat 8% van eiendomseienaars in Suid-Afrika verkoop hul huise omdat hulle gaan emigreer. Volgens FNB is dit veel laer as die hoogtepunt van 18% in 2019.
Die bank se opname onder eiendomsagente toon nadat onsekerheid oor die verkiesing en 'n trae ekonomie huisverkope aan die begin van die tweede kwartaal geknou het, begin veral die goedkoper segmente van die mark kop optel.
Aktiwiteit sloer egter in die algemeen en landwyd is huise nou gemiddeld 12 weke en twee dae in die mark, teenoor 10 weke en ses dae in die eerste kwartaal. Die langtermyngemiddeld is 13 weke.
Die Wes-Kaap troon uit met huise wat gemiddeld binne agt weke verkoop.
Kobus Lamprecht, navorsingshoof van Rode-eiendomskonsultante, skryf in Rode se verslag oor die Suid-Afrikaanse eiendomsmark vir die tweede kwartaal reële (met inagneming van inflasie) huisprysgroei sal vanjaar vir die negende agtereenvolgende jaar daal, maar sake kan beter lyk in 2025.

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek verwag die Reserwebank sal teen September rentekoerse begin verlaag van die huidige 11,75% tot 10,75% teen einde 2025. Dit sal voornemende huiskopers kan help.
Tog verwag Lamprecht nie 'n mini-bloeitydperk vir die eiendomsmark soos tydens die pandemie toe die uitleenkoers op 7% was nie. Dit sal ook nog lank neem om Suid-Afrika se strukturele probleme wat die ekonomie terughou, op te los.
Terwyl verbruikers versigtig is om eiendom te koop, vaar die mark vir huureiendomme al hoe beter.
Beskeie verhogings in huurgeld toon eiendomseienaars wil nie die kans waag om huurders te verloor nie.
Volgens die Rode-verslag staan minder woonstelle landwyd leeg as in die eerste kwartaal van 2024. Begin vanjaar was die leegstaansyfer 7,9%, maar dit het in die tweede kwartaal gedaal tot 6,7%. Rode grond die berekening van die leegstaansyfers op die getal leë woonstelle as 'n persentasie van die totale voorraad wat bestuursagente bestuur.
Daar is steeds geen woonstelle beskikbaar in Stellenbosch nie en net 2,9% van woonstelle in Kaapstad staan leeg.
In Johannesburg, Pretoria en Durban staan minder woonstelle nou leeg as in die eerste kwartaal. Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het huurgeld in Gauteng begin vanjaar met 2% gegroei op 'n jaargrondslag en in die Wes-Kaap met 4,2%.
Lamprecht sê die beskeie verhogings in huurgeld toon eiendomseienaars wil nie die kans waag om huurders te verloor nie. Die Wes-Kaap is die provinsie met die beste huurders in die land. PayProp-data wys net 14% van huurders is agterstallig met huurgeld. Landwyd is 18% agterstallig met hul huur.
Die vraag na huureiendomme is veel hoër as die aanbod.
Lamprecht sê die hoë rentekoerse is op kort termyn positief vir die huurmark omdat baie voornemende kopers vir eers 'n maandelikse verbandterugbetaling wil vermy. Sodra rentekoerse begin daal, behoort dit huiskopers aan te moedig. 'n Reuse-oplewing is egter onwaarskynlik omdat rentekoerse stelselmatig sal daal.
Volgens die kredietburo TPN is die leegstaansyfers in die residensiële huurmark die laagste sedert 2016 toe die opname die eerste keer gedoen is. Die vraag na huureiendomme is veel hoër as die aanbod.
In die eerste kwartaal van 2024 (die jongste syfers beskikbaar) was 4,42% van huureiendomme landwyd vakant, teenoor 6,69% in die vorige kwartaal. Die opname sluit leë voltitel- en deeltitel- residensiële eenhede in.
SSA se algemene opname onder huishoudings toon mense wat in eiendomme bly wat hulle besit, het van 64% in 2022 gedaal tot 63% in 2023.
Waldo Marcus van TPN sê die grootste verbetering in besettingsvlakke van alle verhuurbare residensiële eiendom is te sien in prysklasse onder R7 000 per maand.
Die huishoudingsopname toon KwaZulu-Natal het die hoogste persentasie huishoudings wat in eiendomme bly wat hulle besit of afbetaal, op sowat 75%.





















