Eens moeë Boston Hotel kry nuwe baadjie

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Wat eens 'n seer oog in die Bellville-middestad was, is vandag die getuienis van wat moontlik is wanneer 'n plaaslike stadsowerheid en private ontwikkelaars saamspan om 'n afgeleefde gebou om te swaai in 'n moderne lushof.

Alle inwoners van Bellville sal die ikoniese tienverdieping­toringblok die Boston Centre in die hartjie van Voortrekkerweg in Bellville se middestad ken.

Vir jare was dit die tuiste van die Boston-hotel en later ook die departement van binnelandse sake. In onlangse tye het die gebou agteruitgegaan wat sowel sy voorkoms as toestand betref, asook die gehalte van die huurders.

Die Boston-gebou in die hartjie van Bellville se middestad was op sy dag ’n afgeleefde gebou met swak huurders. Vandag is dit omskep in ’n moderne tuiste vir gehalte-huurders, wat Spar en Tops, die ankerhuurder op die grondvlak, insluit.
Die Boston-gebou in die hartjie van Bellville se middestad was op sy dag ’n afgeleefde gebou met swak huurders. Vandag is dit omskep in ’n moderne tuiste vir gehalte-huurders, wat Spar en Tops, die ankerhuurder op die grondvlak, insluit.

Die Brönn-eiendomsgroep, bestaande uit pa Alewyn en seun Gerdus, het egter saam met die TUHF-beleggingsgroep (wat R76 miljoen in die projek belê het) gespan om die eiendom tebekom, en dit in 'n moderne eiendom te omskep wat op die middelklas gerig is. Die eiendom bestaan grootliks uit residensiële eenhede (nege vloere), en 'n kommersiële grondvloer asook een vloer vir parkering.

Die Brönn-groep het eerste op die kommersiële vloere gefokus. Hiervoor is Spar as ankerhuurder verkry, wat nie net 'n nuwe Spar ingerig het nie, maar ook 'n Tops-drankwinkel oopgemaak het. Die Spar en Tops beslaan die hele grondvloer en het in Oktober verlede jaar sy deure oopgeswaai.

Hierna is die volgende vloer omskep in 'n parkeergebied met 70 parkeerplekke. Twee nuwe hysbakke is ook ingesit wat die hele gebou bedien.

Met die Spar en Tops wat sommer dadelik fluks sake begin doen het, het die ontwikkelaars se aandag na die volgende fase van die opknapping verskuif.

Die nege vloere se ou woonstelle is grootliks uitgebreek en is omskep in 18 enkelwoonstelle, 47 eenslaapkamer- en 11 tweeslaapkamereenhede.

Al die woonstelle is van nuwe vloere voorsien, asook nuwe bedrading, pype, vesel vir hoëspoed-internet, nuwe kombuiskaste en badkamers, en slegs die beste afwerkings. Bykans al die woonstelle is teen einde Januarie al uitverhuur, wat aandui hoe groot die aanvraag is vir bekostigbare, maar moderne en smaakvolle verhuring in die noordelike voorstede se middestad.

Volgende op die ontwikkelaars se wenslysie is om 'n paar dakwoonstelle op die boonste vloer in te rig. Hierna wil hulle ook sonpanele aanbring op die dak, sowel as op die afdakke van die buitenste parkeerarea.

Volgens Velda Derrocks, streeksbestuurder van die Revo-eiendomsgroep wat die verhuring van die eenhede behartig, is die vinnige uitverhuring van die eenhede 'n bewys van hoe suksesvol die opknapping van die eens afgeleefde Boston-toring was.

"Dit wys wat 'n mens kan bereik as daar strategies belê word, en 'n gedeelde visie is van waarheen jy as ontwikkelaar mik," het sy gesê.

SPELETJIES VANDAG

CTA