Liberty Two Degrees (L2D), die genoteerde eiendomsfirma wat onder meer die luukse winkelsentrum Sandton City in Johannesburg besit, gaan waarskynlik gedenoteer word.
Dit kom minder as sewe jaar nadat L2D in Desember 2016 van Liberty ontknoop en afsonderlik genoteer is.
Liberty gaan die 39%-belang in L2D wat hy nog nie besit nie, van ander aandeelhouers koop. Hy bied R5,55 per aandeel aan, wat byna 47% meer is as die prys waarop die aandeel op 25 Julie gesluit het.
Die rede vir die transaksie is juis omdat L2D se aandeelprys swak gevaar het. Die aandeel het op 6 Desember 2016 R10,70 gehaal, wat ook die hoogste prys tot nog toe was.
L2D se aandeelprys het wel Donderdag tot selfs R5,92, 'n styging van byna 52%, opgeskiet soos beleggers op dié aanbod probeer inkoop het.
Sandton City is L2D se vlagskipeiendom. Hy besit ook die East Rand Mall, Melrose Arch en die vyfsterhotel Sandton Sun.
Die groep besit altesame 15 eiendomme: 76% van hulle in Gauteng, 10% in die Wes-Kaap en 12% in KwaZulu-Natal. Die grootste getal is winkelsentrums. Die eiendomme is einde Desember op R8,2 miljard gewaardeer.
Luidens 'n verklaring oor die transaksie was die notering "uitdagend", onder meer omdat die makro-ekonomie eiendomswaardes afgedruk het, wat deur die Covid-19-pandemie vererger is. L2D se aandeelprys is benadeel deurdat minder as 'n derde van die aandele vryelik verhandel kon word.
"Ongeag L2D se hoëgehaltebates en markleidende bedryfsprestasie lyk dit asof die negatiewe marktoestande in die afsienbare toekoms gaan voortduur en die strategiese opsies wat vir L2D beskikbaar is, beperk gaan bly terwyl dit in die genoteerde omgewing bly."
Goedkeuring moet nog van die JSE se oornamereguleringspaneel, die Reserwebank en aandeelhouers, uitgesluit Liberty, verkry word.
Onder die batebestuursfirmas wat reeds aangedui het hulle steun die transaksie is Coronation en Sesfikile Capital. Coronation besit 22,5% van L2D se aandele namens sy kliënte.
Aandeelhouers behoort teen 25 Augustus 'n omsendbrief oor die transaksie te kry.





















