Eiendomkopkrappers #01

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Lizelle Kilbourn, uitvoerende konsultant van STBB en rubriekskrywer vir Eiendomme, help lesers met eiendom-navrae in ons eerste kollig op eiendomkopkrappers.

VRAAG:

Hallo, Lizelle, ek sit en lees nou jou berig inDie Burger, Eiendomme (07.09) en wil graag jou mening hoor betreffende nuwe ontwikkelings in Kaapstad se sentrale sakekern en omliggende gebiede, soos Charlie and the Chairman, The Rockefeller, The Paradigm, ensovoorts, waar dit baie aanloklik lyk om te koop - dan bestuur die hotel of Airbnb jou eenheid vir jou.

Ek stel belang, maar weet nie wat is die vooruitsigte nie. Sal 'n bietjie raad en leiding waardeer.

Groetnis, Louis G.

ANTWOORD:

Hallo, Louis, dankie vir die interessante navraag. Let asseblief daarop dat hierdie antwoord nie regsadvies is nie.

Eerstens: Kaapstad se eiendomsmark lyk op die oomblik goed en 'n belegging in onroerende eiendom hier het beslis potensiaal.

Ek is nie 'n kenner van die eiendomsmark se winsgewendheid nie, en ek is nie vertroud met die spesifieke voorbeelde waarna jy verwys nie, maar ek gaan tog 'n mening waag:

Indien jy wil koop met die doel dat 'n hotel of Airbnb jou eenheid op kort termyn verhuur, moet 'n mens die volgende in gedagte hou (waarvan jy waarskynlik van die meeste reeds bewus is):

  • Die goeie ou Afrikaanse idioom: "Ver van jou goed, naby jou skade." As jy nie naby jou eiendom bly en self 'n oog daaroor kan hou nie, kan die logistiek dit uitdagend maak.
  • Maak eers baie seker dat die deeltitelskema se reëls/grondwet van die vereniging wel korttermynverhurings en/of Airbnb toelaat.
  • Daar kan dalk tans 'n ooraanbod van woonstelle in die middestad wees. Dit kan dan dalk 'n probleem wees om 'n goeie prys op herverkoping te behaal.
  • Reken die koste van maandelikse heffings vooraf in jou somme in. Veral as daar hysbakke betrokke is, kan hierdie koste wesenlik wees.
  • Kyk die betrokke kat maar eers goed uit die boom, en die presiese ligging is belangrik. Party skemas in die beste dele van die Kaapse middestad floreer, ander se liggings is effens ongemaklik.
  • As die hotel/agentskap die volledige bestuur gaan doen, gaan hulle ook 'n groot deel van die wins neem. Vind uit van die persentasies en doen die somme.
  • Die onderhoudslas kan ook beduidend wees. In die geval van nuwe ontwikkelings is daar die voordeel dat alles nuut is, maar na gelang van die afwerkings en die eerbaarheid van die ontwikkelaar kan jy dalk kopsere bykry.

Indien jy 'n verdere mening van 'n ervare eiendomsagent hieroor wil bekom­, stel ek voor dat jy vir Lisa Kretschmer by Kapstadt Internasionaal kontak.

Groete, Lizelle.

SPELETJIES VANDAG

CTA