Talle huiseienaars fokus te veel op die funksie van hul primêre eiendom as 'n woning sonder om die welvaartpotensiaal daarvan in ag te neem. Begrip van ekwiteitskapitaal kan 'n verreikende invloed op jou finansies, kapitaalgroei en langtermynsekerheid hê, sê Cobus Odendaal, die uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby's International Realty. Maar wat is ekwiteitskapitaal; hoe word dit bereken en hoe kan dit beleggings en finansiële stabiliteit stimuleer?
As jy 'n huis koop, word die verkoopbedrag deur 'n verband gefinansier. Ekwiteitskapitaal verwys na die deel van jou huis wat jy afbetaal het en reeds besit. Daardie ekwiteitswaarde styg ná elke maandelikse verbandpaaiement en oor tyd saam met jou eiendomswaarde. Dit kan bereken word deur die oorblywende verbandbalans af te trek van jou huis se huidige markwaarde.
Waarom is ekwiteitskapitaal belangrik?
- As 'n welvaart- en sekerheidsbron
Ekwiteit in jou huis is 'n vorm van gedwonge besparing. Soos jy jou huisverband afbetaal, vermeerder die waarde van jou eiendom. Vir die meeste mense is huisekwiteit hul grootste finansiële bate wat langtermynwelvaart- en sekerheid bied, veral met die oog op aftrede.
- Toegang tot lenings en laer rentekoerse
Die ware waarde van ekwiteit lê daarin dat dit as 'n waarborg vir verdere lenings met gunstiger rentekoerse (teenoor onversekerde lenings) ingespan kan word. Só kan kapitaal bekom word vir ander groot uitgawes, maar matigheid moet voor oë gehou word, aangesien die onvermoë om jou skuld te dek tot gevolg kan hê dat jy jou primêre woning moet verkoop om die tekort te vereffen.
- Aftreebeplanning
Ekwiteit is goud werd vir jou goue jare. Sommige huiseienaars skaal af en gebruik die balans van die opbrengs om hul aftrede te finansier, terwyl ander in die woning bly, maar 'n lening teen die waarde daarvan uitneem. Dit verseker 'n betroubare inkomstebron om 'n gerieflike aftreeleefstyl te kan finansier.
- Waardetoevoeging deur tuisverbeterings
Sinvolle tuisverbeterings kan jou huis se markwaarde opstoot, en daarmee saam sy ekwiteitswaarde. Kombuise, badkamers en tuine wat oorgedoen is, dra almal by tot 'n huis se aanloklikheid, ontsluit 'n hoër beleggingsopbrengs en dienooreenkomstig meer ekwiteit op lang termyn.
- 'n Finansiële veiligheidsnet
Ekwiteit in jou huis help ook wanneer jou geldsake die wind van voor kry. Daarmee kan jy onvoorsiene koste dek sonder om bates te verkoop of korttermynlenings met buitensporige rentekoerse aangaan.
Risikobestuur van ekwiteit
Hoewel ekwiteitskapitaal 'n nuttige komponent van kapitaalbou is, is dit 'n tweesnydende swaard. As jy nie die skuldpaaiemente daarteen kan bekostig nie, kan jy jou huis verloor; of markskommelinge kan die waarde negatief affekteer totdat jy selfs later meer geld skuld as wat die eiendom werd is.
Voornemende ekwiteitsleners moet daarom slegs leen wat hulle nodig het, nie uitspattige leefstyle probeer finansier nie en die terugbetalingsvoorwaardes verstaan.
Aflosplanne vir die delging van skuld moet ook nie hul finansiële stabiliteit bedreig nie.
Ekwiteitskapitaal is veel meer as slegs 'n bate.
Dis 'n sleutel tot groter finansiële vryheid en die bou van welvaart, maar slegs solank dit met risikobestuur gebalanseer word.







