Eiendomme

EIENDOMSAKE: Biënnale is blik op toekoms

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Biennale Architettura 2023 is die 18de Internasionale Argitekstentoonstelling, wat op 20 Mei in Venesië geopen het en tot 26 November duur.

Die uitstalling is vanjaar getiteld "Die laboratorium van die toekoms". Dit is veral opvallend dat van die 89 deelnemende uitstallers meer as die helfte uit Afrika of die Afrika-diaspora afkomstig is.

Venesië is vanjaar die gasheer van die 18de Biennale Architettura 2023. Dit is 'n internasionale argitekstentoonstelling wat tot 26 November duur. Foto: ISTOCK
Venesië is vanjaar die gasheer van die 18de Biennale Architettura 2023. Dit is 'n internasionale argitekstentoonstelling wat tot 26 November duur. Foto: ISTOCK

Vir die eerste keer het die soeklig op Afrika en die Afrika-diaspora, daardie vloeibare en verweefde kultuur van persone afkomstig uit Afrika en deesdae oor die aardbol verstrooi is, geval.

Die grafiese ontwerpe, wat 'n eiesoortige identiteit aan die Biënnale verleen en ook die ontwerpe van die publikasies, is die werk van Fred Swart - 'n Suid-Afrikaner wat sy eie ateljee, Die Ateljee, bedryf.

Wat kan jy verwag?

Die laboratorium van die toekoms is 'n Biënnale wat bestaan uit ses afdelings.

Deelnemers aan enige van die programme sal as praktisyns voorgestel word en nie noodwendig as argitekte nie.

Die organiseerders meen dat in die ryk en komplekse toestande in sowel Afrika as 'n snelveranderende, hibriede wêreld, 'n breër begrip van die term "argitek" verkies word omdat daar dikwels beweer word dat kultuur die somtotaal is van die stories wat die mensdom aan hulleself en oor hulself vertel.

Wat in hierdie stelling ontbreek, is die erkenning van die mense wat hier ter sprake is.

In die argitektuur in die besonder, was die dominante stem histories gesproke 'n besonderse eksklusiewe stem waarvan die reikwydte en krag groot dele van die mensdom finansieel en kreatief uitgeskakel het - asof daar net met een tong gepraat en geluister word.

Gevolglik is die "verhaal" van argitektuur onvolledig. Dit is binne hierdie konteks veral wat hierdie Biënnale belangrik is.

Die president van die Biënnale, Roberto Cicutto, het in die openingsplegtigheid verduidelik dat dit wat tans in die wêreld besig is om plaas te vind, reeds op die vasteland van Afrika gebeur het op historiese, ekonomiese, klimaat en politieke gebied.

Hy het gepleit vir groter samewerking, sodat daar begrip kan wees vir die foute wat daar tot dusver gemaak is en hoe die toekoms aangepak moet word.

Hy het daarop gewys dat die Biënnale as 'n vertrekpunt beskou moet word om te soek na die aspekte van menslikheid wat vir so lank nie deel van die diskoers was nie.

Hy was van mening dat dit die Venesiese Biënnale se ware taak is as 'n instelling, en nie net vir argitektuur nie.

Stad van toekoms: The Line

In die Biënnale maak die Neom-groep van die geleentheid gebruik om sy ontwerpe te vertoon vir The Line - die voorgenome futuristiese stad in Saoedi-Arabië wat sowat 170 km lank gaan strek.

Besoekers kry geleentheid om kennis te maak met 'n alternatiewe visie vir stedelike beplanning.

Hierdie stad gaan onder meer geen probleem met motors, strate of koolstofvrystelling hê nie.

Die projek word egter gekritiseer vanweë die impak wat dit op die omgewing en die huidige bevolking van die gebied gaan hê.

Die ontwikkeling sal geleë wees in die historiese tuisland van die Huwaitat-stam, en daar word geskat dat ongeveer 20 000 stamlede verskuif sal moet word.

Daar bestaan ook twyfel oor die tegnologiese en ekonomiese lewensvatbaarheid van die projek.

Blik op Finse uitstalling

Een van die besienswaardighede by die Finse uitstalling is 'n sogenaamde huusi of kompos-toilet.

Dit is 'n omgewingsvriendelike, droë toilet waarin opgegaarde afval in 'n watervrye toilet tradisioneel nie met water weggespoel word nie, maar verwyder word om tot kompos verwerk te word vir bemestingdoeleides.

Volgens die Finne is dit 'n perfekte voorbeeld van 'n ontwerp wat 'n nuwe, volhoubare leefstyl ondersteun.

Tyd, ruimte, bestaan

In een van die 217 projekte op die tentoonstelling ondersoek die Europese kultuursentrum, 'n nie­regeringsorganisasie wat hom toespits op die bevordering van kulturele uitruilprogramme, die verskillende gedaantes van volhoubaarheid.

Venesië is vanjaar die gasheer van die 18de Biennale Architettura 2023. Dit is 'n internasionale argitekstentoonstelling wat tot 26 November duur. Foto: ISTOCK
Venesië is vanjaar die gasheer van die 18de Biennale Architettura 2023. Dit is 'n internasionale argitekstentoonstelling wat tot 26 November duur. Foto: ISTOCK

Dit sluit in onderwerpe wat betrekking het op migrasie, digitale boutegnologieë, stedelike ontwikkelings van die toekoms en behuisingskwessies as deel van die uitstalling Tyd, ruimte, bestaan.

Daar word vanjaar veral gefokus op ontluikende jong argitekte, ontwerpers en navorsers, en daar is 'n pro-aktiewe poging om te herbesin oor alternatiewe leefstyle en argitektuur.

Ontheemding van mense

Die wêreld ervaar talle gevalle van geforseerde migrasie as gevolg van konflik en vervolging, skendings van menseregte en omgewingsrampe wat humanitêre uitdagings skep.

Regeringsondersteuning en internasionale bystand asook uit die geledere van die burgerlike samelewing is noodsaaklik. Om die probleem te takel, is die doelwit van een van die projekte om veilige, gerieflike en waardige wonings vir ontheemde individue te skep.

En digitale bou-tegnologie?

Digitale boutegnologieë is 'n kombinasie van digitale tegnologieë en innoverende materiaal-navorsing om ontwerp, konstruksie en die bedryf van geboue te bevorder.

Gerekenariseerde ontwerp, robotiese vervaardiging, digitale vervaardigingstegnieke en die ondersoek van nuwe materiale en konstruksiemetodes word hierby ingesluit.

Met digitale boutegnologieë word gepoog om die konstruksiebedryf deur meer volhoubare, doeltreffende en innoverende benaderings met betrekking tot ontwerp en konstruksie te moderniseer.

Sodoende kan bou-afval verminder word en energie-doeltreffendheid verhoog word. Argitektoniese estetika word verhoog en strukture word geskep wat reageer op omgewingstoestande en mense se behoeftes.

Stedelike ontwikkelings

Om stede van die toekoms in 'n snelveranderende wêreld te konseptualiseer terwyl nuwe tendense toeneem, word konsepte soos slim stede, groen infrastruktuur, gemengde-gebruik-ontwikkelings, mobiliteit en gemeenskapsbetrokkenheid nie geïgnoreer nie.

Die belangrikste doelwit met stedelike ontwikkeling is om volhoubare en inklusiewe stede tot stand te bring wat ekonomiese groei, sosiale onpartydigheid, omgewings­welsyn, die behoeftes van 'n toenemende bevolking en die stedelike lewensgehalte in berekening te bring.

Die organiseerders van hierdie Biënnale in Venesië wat nog tot 26 November duur, bestempel 'n argitekstentoonstelling as 'n oomblik én 'n proses. Daar word ook klem op verandering gelê, en dis 'n gegewe dat die verbeelding deurgaans aangegryp sal word.

  • Bezuidenhout is 'n eiendomskonsultant van Stellenbosch.
Gert Bezuidenhout

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM