Ons huidige ekonomiese stelsel is gebaseer op 'n lineêre benadering wat beteken dat produkte wat vervaardig en deur verbruikers benut word, uiteindelik weer weggegooi word.
In die sirkulêre model word die gebruik van afvalmateriaal as grondstowwe in die produseer van ander goedere - as die beginsel waarvolgens die produksiemodel bedryf word - gebruik.

Die ekologiese impak van al die afvalmateriaal wat deur die mensdom gegenereer word, het die behoefte versterk om ten gunste van volhoubare ontwikkeling op te tree. Dis hier waar die lineêre en sirkulêre ekonomie skei en volgens afsonderlike doelwitte funksioneer.
Die hoofdoel van die lineêre ekonomiese model is om die impak van afvalmateriaal op die omgewing drasties te verminder, sonder om die lewensgehalte van die mensdom in gedrang te bring. 'n Verlies aan inkomste van mense en 'n toename in produksiekoste vir vervaardigers mag nie in die gedrang kom nie.
Trouens, die sirkulêre ekonomie behoort mededinging te verhoog, innovering te stimuleer, ekonomiese groei 'n hupstoot te gee en werksgeleenthede te skep. 'n Sirkulêre sakemodel moet steeds winsgewend wees.
In die motorbedryf, met onder meer Uber en Zipcar in Suid-Afrika as voorbeelde, word voertuie reeds doeltreffender tussen portuurgroepe uitverhuur deur die deel van spesialis-rekenaarnetwerke. Sodoende word die negatiewe impak afkomstig van verkeersknope en besoedeling verminder.
Sirkulêre ekonomie en die boubedryf
In die boubedryf kan bate-eienaars wat oor onbenutte ruimtes, boumateriaal, en toerusting beskik, dit uitverhuur of met mekaar deel. Oopbron-ontwerpplatforms soos WikiHouse maak dit vir ontwerpers moontlik om hul ontwerpe met voornemende gebruikers te deel, sodat laasgenoemde die nodige aanpassings kan doen en selfs die konstruksie van die ontwerp behartig deur die gebruik van volhoubare en sirkulêre boumateriaal. Die hergebruik van materiaal en komponente deur herverkope skep ook ekonomiese sowel as sosiale en omgewingsvoordele.
Die bou-omgewing wat bestaan uit geboue, paaie, infrastruktuur en ander mensgeskepte eienskappe van die omgewing, gebruik bykans die helfte van die stowwe wat jaarliks wêreldwyd ontgin word - dit is terselfdertyd ook 'n noemenswaardige meedoener aan die vrystelling van kweekhuisgasse.
Deur die gebruik van nuwe tegnologieë en innoverende sakemodelle kan meer waarde uit bestaande bates gerealiseer word, en hulpbronne en boumateriaal in die ekonomie gehou word. Sodoende word verhoed dat dit uiteindelik bourommel word.
Bakstene uit afvalmateriaal
'n Keniaanse ingenieur in Nairobi poog reeds geruime tyd om afval-plastiek te verwerk tot eko-bakstene wat duursaam en kostedoeltreffend is. En dit moet 'n positiewe impak op die omgewing hê.
Die tegniek wat die maatskappy ontwikkel het om die plastiek-afvalmateriaal te verwerk tot boumateriaal, behels die vermenging van fyngemaalde plastiek met sand. Die mengsel, nadat dit aan hitte blootgestel is, neem die vorm van 'n stewige, liggewig-steen aan.
Die volhoubare eko-bakstene is sewe keer sterker, heelwat ligter, ekonomies lewensvatbaar en ekologies voordelig.
'n Suid-Afrikaanse maatskappy in KwaZulu-Natal eksperimenteer reeds sedert die laat 1990's om afvalstowwe te hersirkuleer. Die resultaat is volhoubare boustene en plaveistene waarvan die inhoud bestaan uit 75% gieterystof (sand) en 25% herwonne plastiek wat goedkoper, 2,5 keer duursamer en 25% ligter as kleibakstene is.
Uit dieselfde stowwe vervaardig die maatskappy ook plaveistene. Die aanvanklike uitdaging was om plastiek-afval te bekom aangesien dit dikwels deel was van ander afvalmateriaal, maar mettertyd het projekte ontstaan wat tot gevolg gehad het dat die herwonne plastiek geskei kon word van die res van ander afvalmateriaal.
Sirkulêre ekonomie in die klerebedryf
Navorsing het getoon dat kleding 'n veel korter dra-leeftyd in welvarende lande ervaar as in die geval van armer lande.
In sommige welvarende lande word 'n kledingstuk soms slegs sewe tot tien keer gedra. Die tekstielbedryf maak grootliks op nie-hernubare bronne staat waarby olie ingesluit is, om sintetiese stowwe te vervaardig, bemestingstowwe by die kweek van katoen en chemikalieë in kleurstowwe. Die huidige lineêre stelsel van vermorsing veroorsaak dat daar massiewe en steeds toenemende druk op hulpbronne geplaas word.
In 'n poging om meer volhoubaar te wees, besef die modebedryf dat die enigste manier om die oorgang tot 'n sirkulêre produksiemodel te bewerkstellig, deur middel van die hergebruik en hersirkulering van hul produkte sal wees.
Daar is reeds sake-ondernemings wat ou kledingstukke versnipper en verwerk tot nuwe garedraad. Sellulose word ook uit die tekstiel-afval onttrek eerder as uit hout in 'n poging om ontbossing teen te werk, habitats te bewaar en 'n verlies aan biodiversiteit te voorkom.
Sirkulêre ekonomie volgens handelsmerke
Die internasionale mode-kettingreeks Zara, wat verteenwoordig word deur meer as 2 220 winkels in 88 lande, is reeds besig om te eksperimenteer met materiale en kleurstowwe wat vervaardig is uit opgebergde koolstofvrystellings.
Die maatskappy het onderneem om vanjaar eenmalige plastiekgebruik in hul winkels te verbied. Hulle beoog ook om teen 2025 meer volhoubare organiese linne en hersirkuleerbare poliëster in hul modereekse te gebruik. Zara vervaardig jaarliks 450 miljoen kledingstukke, en volgens hul webblad spits die maatskappy hom toe op 'n sirkulêre ekonomiese model wat die lewenskringloop van hul produkte sal verleng deur middel van programme wat herstelwerk, herverkope en skenkings van gebruikte klere sal ondersteun.
Adidas beweer dat die maatskappy op koers is met hul onderneming dat slegs gehersirkuleerde poliëster teen die einde van 2023 in hul produkte gebruik sal word. Teen 2025 sal 90% van die maatskappy se artikels volhoubaar wees.
Sedert Adidas se vennootskap met Parley for the Oceans in 2015, gebruik die maatskappy Parley Ocean-plastiek wat bestaan uit afval-plastiek wat versamel word van afgesonderde eilande, strande, kusgemeenskappe en kuslyne om te verhoed dat die oseane daardeur besoedel word. In 2022 het Adidas bykans 27 miljoen pare skoene vervaardig wat Parley-plastiek bevat.
Om gebruikte kledingstukke te koop eerder as nuwes, word water bespaar, kweekhuisgasse en vermorsing verminder. Die Levi's®SecondHand-fasiliteit bied aan verbruikers oudmodiese klere en nooi hulle om deel te neem aan 'n volhoubare toekoms. Hierdie fasiliteit bied 'n nuwe lewe aan jeans, baadjies en kortbroeke wat nog in 'n goeie toestand is.
Die bestuur van afvalmateriaal word beskou as die hartklop van 'n sirkulêre ekonomie. Herwinningsinisiatiewe, die strewe na volhoubaarheid en die vermindering van koolstofvrystelling is reeds duidelik deur die optrede en inisiatiewe van sommige van die groot internasionale maatskappye wat poog om 'n nuwe lewe aan afvalmateriaal te gee.
- Bezuidenhout is 'n eiendomskonsultant van Stellenbosch.
Blik op verblyf
Gedeelde leef- en werksruimtes neem geleidelik in gewildheid toe, veral in digbevolkte gebiede. Deur minder ruimtes te beset en die tye wat sodanige ruimtes nie beset is nie, is minder bronne nodig om sekere funksies te verrig. Sodoende word minder afvalmateriaal gegenereer.
Plaaslik neem die saamwoon-konsep (co-living) ook toenemend in gewildheid toe in die vorm van laekoste-woonhuise met private slaapkamer-ruimtes en gemeenskaplike kombuisgeriewe en eetkamers.
Airbnb is ook een van die bekendste voorbeelde van 'n sakemodel wat op bate-optimalisering gemik is. Reeds in 2014 het 'n studie in die VSA getoon dat Airbnb-gaste 63% minder energie verbruik as hotelgaste.
In Europa, slegs binne een jaar, het Airbnb water bespaar gelykstaande aan die inhoud van altesaam 1110 Olimpiese-grootte swembaddens, en verhoed dat kweekhuisgasse afkomstig van 20000 voertuie vrygestel word.














