Sun International lek sy lippe af om Emperors Palace oor te neem en belowe geen personeel sal afgelê word as dit die kroonjuweel in Peermont se stal oorneem nie.
Emperors, wat langs die Internasionale Lughawe O.R. Tambo geleë is, is een van die gewildste dobbelbestemmings in Gauteng en ook een van die casino's in die land wat die meeste kontant genereer.
Sun International sê sy beplande oorname van die Peermont-groep strook met sy strategiese fokus op groot stedelike casino's in sy portefeulje.
Volgens die Nasionale Dobbelraad het casino's in Gauteng in 2022-'23 sowat R8 miljard se inkomste gegenereer. Dit is meer as 45% van casino's se nasionale inkomste van R17,3 miljard.
Anthony Leeming, uitvoerende hoof van Sun International, het gesê op langer termyn sal meer as 55% van casino-inkomste uit groot casino's kom.
Dobbelraad-syfers toon in die afgelope boekjaar was die totale bruto dobbelinkomste (die randwaarde van die operateur se omset minus wengeld wat uitbetaal is) R47 miljard. Net meer as 50% van dié inkomste was van weddery (R23,7 miljard) en sowat 37% van casino's (R17,3 miljard).
Sun International het met die aankondiging van die beplande verkryging einde 2023 gesê nog 'n voordeel van Emperors Palace is dat dit in Ekurhuleni, 'n metropolitaanse gebied, geleë is wat die minste geraak word deur beurtkrag.
Ekurhuleni het al telkens gesê die metropool het groot nywerhede wat belangrik is vir die streek se ekonomie en werkskepping. Daarom voer hy gesprekke met Eskom om beurtkrag toe te pas op 'n manier wat die minste moontlike nywerheidsontwrigting meebring.
Emperors se ligging help ook om ryk kliënte van oorsee en uit Afrika te lok, sê Sun International in 'n Sens-verklaring.

Ontleders sê Emperors Palace maak sowat 80% van Peermont se waarde uit.
Die Peermont-groep bedryf 11 eiendomme in Suid-Afrika en Botswana. Dit bied:
• 3 349 dobbelmasjiene (1 695 by Emperors);
• 152 dobbeltafels (69 by Emperors);
• 1 636 hotelkamers (757 by Emperors); en
• die aanlyn sportwedboek PalaceBet.
Volgens Sun International se geïntegreerde verslag vir 2022 het die groep se vyf stedelike casino's (Carnival City, Time Square, Boardwalk, Sibaya en GrandWest) saam byna 7 000 dobbelmasjiene, en Sun City en die Wild Coast Sun saam nog sowat 1 100. Die eiendomme het sowat 260 dobbeltafels.
Sun International is in die laat 1970's begin deur die hotelmagnaat Sol Kerzner. Die groep besit onder meer ook die Maslow-hotelle in Time Square en Sandton en The Table Bay. Van Peermont se ander eiendomme is Graceland in Secunda (Mpumalanga), Mmabatho Palms in Mafikeng (Noordwes) en Grand Palm in Gaborone, Botswana.
Die beplande verkryging van Peermont sal teen R7,3 miljard geskied. Ná die groep se skuldverpligting en ander transaksiekoste, is die Peermont-groep op 30 September verlede jaar op R3,2 miljard gewaardeer, lui die Sens-verklaring.
As gevolg van die grootte van die transaksie, moet die samesmelting nog deur die mededingingsowerhede in Suid-Afrika en Botswana goedgekeur word. Dit kan 'n paar maande duur.
Die meeste aandeelhouers het reeds geskrewe aanduidings van steun vir die transaksie gegee.
Leeming het die afgelope week aan Rapportgesê omdat casino's die meeste van hul kliënte uit hul onmiddellike omgewings lok, is dit nie werklik relevant watter persentasie van totale dobbelmasjiene en tafels 'n groep landwyd het nie. Indien die transaksie goedgekeur word, sal Sun International minder as die helfte van die 41 casino-lisensies in Suid-Afrika besit, het hy gesê.
Van die 41 lisensies, is 38 casino's tans in bedryf in Suid-Afrika. Die grootste spelers is Sun International (12 casino's), Tsogo Sun Holdings/Hosken Consolidated Investments met 14 en Peermont Resorts met 8.
Leeming het gesê geen werker in Suid-Afrika sal afgelê word as die samesmelting goedgekeur word nie. "Almal se poste is veilig. Dit word duidelik gestel in die aansoek om goedkeuring van die samesmelting."
Regering vind baat by dobbelary
In die boekjaar tot einde Maart 2023 het die dobbelbedryf meer as R4 miljard in belasting en heffings betaal. Dít is byna 30% hoër as die vorige jaar, lui die Dobbelraad se jongste jaarverslag. Casino's het 43% van dié belasting betaal, gevolg deur weddery (41%), dobbelmasjiene met beperkte uitbetalings (12,5%) en bingo (4%).
Die jaarlikse casino-belasting en -heffings in Gauteng het R707 miljoen beloop, in KwaZulu-Natal was dit R396 miljoen en in die Wes-Kaap R373 miljoen.




















