Sun International hoop om nege casino's met 12 hotelle ryker te word - onder hulle 'n vyfster- en vier viersterhotelle - insluitend die baie suksesvolle Emperors Palace in Kempton Park, Gauteng.
Die voorgenome verkryging van die hele Peermont-groep vir nagenoeg R7,3 miljard is Maandag op Sens aangekondig. Die finale koopprys sal onder meer van die groep se syfers vir die boekjaar tot einde 2023 afhang.
Byna 63% van Sun International se aandeelhouers het reeds steun aan die transaksie toegesê.
Die Peermont-groep se casino's en hotelle is alles in die binneland, insluitend een in Botswana.
Ook ingesluit in die verkryging is die aanlyn dobbelplatform PalaceBet, wat aansluit by Sun International se snelgroeiende SunBet-onderneming vir aanlyn dobbel.
Peermont is in 1995 gestig en het 'n bewese prestasiegeskiedenis in die ontwerp, ontwikkeling en bedryf van geïntegreerde oorde, luidens Sun International se motivering vir die verkryging.
Die Emperors Palace-kompleks het vier hotelle, 'n spa, verskeie restaurante en teaters en konferensiegeriewe. Dis naby die O.R. Tambo-lughawe, wat dit 'n "poort na welvarende klante van die res van Afrika en oorsee maak".
Dié kompleks vaar finansieel goed, met die uitsondering van 2020, toe die hele hotel-en-dobbelbedryf verlam is deur die Covid-19-inperkings.
Die Peermont-eiendomme het altesame 3 349 dobbelmasjiene, 152 dobbeltafels en 1 636 hotelkamers.
Die groep se verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebitda) het in die jaar tot einde Desember 2022 R1,1 miljard beloop.
Sun International het die afgelope ses jaar sy belange in Latyns-Amerika verkoop en meer op Suid-Afrika begin fokus.
Dis dus sowat 'n derde van Sun International se ebitda van R3,3 miljard vir die jaar tot einde Desember.
Sun International gaan skuld maak vir die transaksie en moet ook pa staan vir Peermont se skuld. Dit sal Sun se skuld van R5,9 miljard einde Junie tot nagenoeg R13,2 miljard verhoog.
Voorwaardes vir die transaksie gaan na verwagting eers teen einde Julie 2024 voltooi word. Aandeelhouers, Sun én Peermont se krediteure en die Mededingingskommmissie moet die transaksie goedkeur, asook die Gautengse dobbelraad en die Reserwebank.




















