Park Village Auctions (PVA) verkoop later vandeesmaand grond, 'n fabriek, toerusting en voertuie wat behoort aan die ingenieursonderneming Bukabopa Holdings (Edms.) Bpk. in Bapsfontein wat in sakeredding is.
Volgens Clive Lazarus van PVA word die bates individueel op die perseel en ook per regstreekse aanlyn veiling verkoop op Woensdag 27 September om 11:00.
Die vaste eiendom bestaan uit Gedeelte 67 van die plaas Elandsfontein nr. 412-JR, wat 211 ha groot is, 'n groot industriële ingenieursgerief, vyf woonhuise, behuising vir fabriekspersoneel, 'n landingsblad vir 'n helikopter en 'n helikopterskuur, sowat 110 ha droëland-besproeiing en 'n staalbeklede silo met 'n bergingskuur en weegbrug.
Bates soos lasersnymasjiene, guillotines, buigmasjiene, sirkelsae, bandsae, staanbore, buisbuigmasjiene, verskeie draaibanke, CNC-draaibanke, 'n spinner, 'n freesmasjien, vier oorhoofse hyskrane, 313 kVA- en 150 kVA-dieselkragopwekkers, 'n kompressor, sweismasjiene, skerms, werkbanke, setapparate en verwante toerusting, 'n poeierbekledinglyn met twee spuithokke, 'n verfwinkel met uitsuiers, rakke, inhoud van sentrale store, onverwerkte materiaal en materiaalhouers, gereedskapskabinette, dieseltenks, afvalmetaal en nog vele ander werkwinkelverwante items sal ook verkoop word.
'n Gedetailleerde inventaris is op PVA se webwerf beskikbaar.
Daar sal ook kantoormeubels soos lessenaars, stoele, kredenskaste, kabinette, kombuistoerusting, rusbanke en verskeie ander items onder die hamer kom.
Vier Toyota Hilux 2.5 D4D-enkelkajuitbakkies; 'n Nissan 1400-bakkie, 'n VW Constellation 17-250-platbakvragmotor, MAN LE10.160-, MAN TGL12.180- en MAN 16.224-vragmotors, 'n Feeler FD70T 7-ton en 'n Nissan 3-ton-vurkhyser sal die laaste lot vir die dag uitmaak.
- Alles kan op die perseel by Hoewe 67 van die plaas 412-JR, Cloudyweg, besigtig word op 21, 22 en 26 September van 09:00 tot 11:00. Vir meer inligting, besoek die webwerf parkvillageauctions.co.za met die verwysingsnommer 1352.




















