Flou rand dryf ekspats terug na SA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Met hul gelde wat oorsee verdien is, kom al meer Suid-Afrikaners weer terug na die land noudat die swak rand heelwat waarde vir hul ponde en euro’s bied. Foto: iStock
Met hul gelde wat oorsee verdien is, kom al meer Suid-Afrikaners weer terug na die land noudat die swak rand heelwat waarde vir hul ponde en euro’s bied. Foto: iStock

Die verswakkende rand mag dalk die pryse van kos, dienste en voertuie opjaag, maar een silwer randjie is dat dit sake veel aantrekliker vir oud-emigrante maak om weer na hul vaderland terug te keer.

Volgens Stephan Thomas en David Burger van die Lew Geffen-eiendomsgroep se afdeling wat in sekuriteitslandgoedere spesialiseer, is daar 'n besliste patroon waarneembaar.

"Ons sien veral oud-Suid-Afrikaners wat tien, 20 jaar gelede die land vir groener weivelde verlaat het wat in 'n sterker groeiende stroom weer terugkeer na Suid-Afrika.

"Daar is verskeie redes hiervoor, maar die swak rand - wat vir hulle baie gunstig is noudat hul spaargeld in dollar, pond en euro gedenomineer is - is een van die grootste trekpleisters vir hulle."

Daar is twee ouderdomsgroepe wat terugkeer, neem hulle waar. "Eerstens kry jy middeljariges wat die land ná hul studies verlaat het, 'n loopbaan opgebou het, maar nou ná tien of 15 jaar in die buiteland weer wil terugkeer na die land.

"En dan is daar die ouer groep wat hul aftree-ouderdom in Europa bereik het, en nou hier in Suid-Afrika wil kom aftree waar die klimaat beter is en jy steeds goeie mediese dienste kan vind."

In die eiendomsgroep se ervaring kyk die mense veral na die prysklas tussen R9 miljoen en R18 miljoen, en bokant R25 miljoen. Dit is meestal Engelssprekendes in die suidelike voorstede van Kaapstad. Aan die Overstrandse kus is daar ook terugkerendes wat eiendom opraap.

"Daar is ook 'n paar dryfvere wat maak dat die mense wil terugkeer," sê Burger. "Mense sal altyd na gunstiger leefstyle wil migreer. En die swak rand bied hierdie geleentheid aan hulle. Ons moenie vergeet dat die Wes-Kaap eintlik 'n baie goeie lewensgehalte aan mense bied nie. Dink aan die buitelewe, die berge, die strande, en die goeie skole en infrastruktuur.

"Jy kon dit miskien nie in Europa bekostig nie, maar as jy jou euro's en ponde na rande omskakel, kan jy dit hier gemaklik bekostig."

SPELETJIES VANDAG

CTA