Hierdie gesellige woning met 'n baie goeie Rupertstraat-adres is uiters sentraal geleë tussen al Pretoria se gewildste winkelsentrums, beste skole, soos Affies en Menlopark, asook die Universiteit van Pretoria (UP).
Dit is 'n lae-instandhouding-eiendom om jou kleim af te steek en baie jare gelukkige en kosbare herinneringe saam met jou familie en vriende te bou.

Vanuit die ingangsportaal het jy toegang tot die studeerkamer, ruim sitkamer en eetkamer. Dié leefareas loop ook met glasdeure uit na die maklik hanteerbare tuin en ekstra ruim onderdak-onthaalstoep.
Die lapa in die hoek van die tuin waar 'n mens verder heerlik kan kuier en braai, is 'n bonus. Die kombuis is prakties en goed ontwerp met 'n gesellige ontbythoekie, asook 'n aparte opwasarea. Die waskamer met aansluitings vir jou masjiene maak deel uit van die ekstra groot dubbelmotorhuis met volop addisionele stoorruimte en is toegerus met outomaties beheerde motorhuisdeure. Van hier is ook direkte toegang na die baie netjiese huiswerkerkwartiere wat net so goed aan 'n student verhuur sou kon word of ideaal is vir 'n kind op universiteit wat sy eie plekkie wil hê.
Die ruim en sonnige hoofslaapkamer is gerieflik op die grondvlak geplaas en het 'n reuse-instapkas, asook 'n vol badkamer. Op die boonste verdieping is 'n gesellige TV-kamer, plus twee slaapkamers met baie ingeboude kaste, plus vol badkamer. Die studeerkamer op die grondvlak sou ook veeldoelig vir gaste as vierde slaapkamer gebruik kon word.
Die goed beplande en kleiner tuin met besproeiing is maklik hanteerbaar, terwyl die voorste deel van die eiendom geplavei is waar gaste veilige parkering kan benut. Daar is ook twee addisionele afdakke benewens die dubbelmotorhuis. Die algemene veiligheid van die eiendom is baie goed.
Kortliks:
Adres: Rupertstraat, Brooklyn
Prys: R2 850 000
Erfgrootte: ongeveer 645 m²
Huisgrootte: 274 m²
Slaapkamers: 4
Badkamers: 2,5
Agent: Deelagent. Heiberg Estates. Kontak Bambie Heiberg by info@heibergestates.com of bel haar by 083 654 3773.














