Ten spyte van globale ekonomiese uitdagings, politieke onstabiliteit en dalende inflasie, bly die mark vir luukse eiendom 'n aanloklike en veilige belegging.
Volgens Arnold Maritz, die medehoof van Lew Geffen Sotheby's International Realty in Kaapstad, was daar nog nooit 'n beter tyd om te belê as nou nie, danksy 'n verbeterende ekonomiese klimaat, leefstylveranderinge en sterk markdinamika.
Data deur PropStats, verskaf deur eiendomsagente in die Wes-Kaap, bevestig dat die verhandeling van eiendomme wat meer as R20 miljoen kos in gebiede soos Bo-Constantia, oor die afgelope drie jaar meer as verdubbel het.
Terwyl hoër rentekoerse en politieke onsekerheid ongetwyfeld markte affekteer, neig luukse eiendom om dié soort storms die hoof te bied.
Maritz noem dat die verkope van luukse eiendomme drasties gestyg het ná die opheffing van die grendeltydperk in 2021, spesifiek dié wat bo die R20 miljoen-kerf geprys is.
As voorbeeld is daar 13 sulke eiendomme in daardie jaar in Bo-Constantia van die hand gesit; 20 in 2022 en 21 teen die einde van September 2024.
Maritz wys ook op toenemende belangstelling deur buitelandse kopers, vernaam uit Groot-Brittanje en Europa en ander superrykes op soek na beleggingsgeleenthede. Die buigsaamheid van afstandwerk het talle internasionale digitale nomades in staat gestel om hulle in die Kaap te vestig, wat die stad al hoe meer as 'n voorkeurbestemming vir internasionale kopers vooropstel.
Voordeel:
Waarom luukse eiendom 'n rotsvaste belegging bly
Daar is 'n rits faktore wat verklaar waarom luukse eiendom altyd sal bekoor, selfs ten tyde van ekonomiese onsekerheid.
• Waardebehoud- en vermeerdering: Weelde-eiendomme behou dikwels hul waarde beter as ander bateklasse en kan selfs groei tydens ekonomiese onstuimighede.
• Beperkte voorraad: Daar is selde meer as slegs 'n handjievol topeiendomme beskikbaar. Uitsoekliggings en eiesoortige kenmerke verseker hul skaarsheid, wat weer die gesogtheid en waarde opjaag.
• Veilige hawe vir rykdom: As vaste bate word weelde-eiendom nog altyd gesien as meer skokbestand teen ekonomiese onsekerheid as aandele en effekte.
• Potensiaal vir hoë opbrengste: Luukse eiendom kan stewige opbrengste lewer wat betref waardeverbetering en huurinkomste. Dit is bepaald die geval met luukse permanente en vakansie-huureenhede in eksklusiewe areas.
• Portefeuljediversifisering: Belegging in weelde-eiendom is 'n geleentheid om jou portefeulje geografies sowel as oor verskillende bateklasse te versprei en op daardie wyse risiko te beperk.
Onthou dit:
Faktore om vooraf in gedagte te hou
•Markkennis: Neigings in die luukse eiendomsmark is anders as dié van die gewone huismark, en om die verskille en dinamika te verstaan, is noodsaaklik.
•Likiditeit: Duurder eiendomme vat langer om van die hand te sit. Dit kan 'n struikelblok wees as jy haastig is om jou kapitaal te bekom wanneer jy verkoop.
• Onderhoudskoste: Duurder huise vereis meer kosteintensiewe onderhoud, wat by jou aanvanklike beleggingsplanne ingewerk sal moet word.
• Regulatoriese oorwegings: Wetgewing rakende buitelandse eienaarskap en eiendomsbelasting wissel van land tot land en kan jou kostebeplanning affekteer.
•Ekonomiese faktore: Breër ekonomiese oorwegings soos rente- en wisselkoersfluktuasies kan jou eiendomsbeursie ligter of (effens) swaarder maak.
•Professionele advies: Gegewe die bogenoemde potensiële slaggate is dit dus raadsaam om veral jou buitelandse luukse eiendom onder die leiding van die regte markkenner aan te koop.




















