Kaapstad staan steeds uit as die toppresteerder wat kantooreiendomme betref.
Residensiële en nywerheidseiendomme vaar ook beter in die Wes-Kaap as elders.
Die streek blom te midde van 'n andersins bedrukte eiendomsmark waar rentekoerse en 'n swak ekonomie veroorsaak dat huise twee weke langer vat om te verkoop en daar 'n skerp insinking is in die waarde van huislenings wat toegestaan word.
Dis van die bevindings in die eiendomsgroep Rode & Genote se jongste gesaghebbende Rode-verslag.
Eienaars van kantoorgeboue in die Moederstad kon in die derde kwartaal vanjaar nog huurverhogings van tot 12% haal, wys die verslag. Dis net Kaapstad wat huurgroei van meer as inflasie kon behaal teenoor 'n jaar gelede.
Die data wys oor die algemeen dat kantoorhuur stadiger styg. Baie maatskappye werk steeds op 'n hibriede grondslag, met hul werkers wat net twee tot drie dae per week kantoor toe gaan. Daar is dus 'n kleiner vraag na kantoorruimte vergeleke met voor die Covid-19-pandemie.
Sonder sterk ekonomiese groei verwag Rode nie dat die vraag na kantore volhoubare herstel sal behaal nie.
Dit kom ondanks pogings van werkgewers en kantooreienaars om mense optimisties te maak oor 'n terugkeer kantoor toe.
Nasionale syfers wys nominale huurgeld vir A-graad-kantore buite middestede het in die derde kwartaal met net 2,8% gestyg teenoor 'n jaar gelede. En dit het verlangsaam teenoor die tweede kwartaal se 3,4%.
Dis egter steeds 2,7% laer as die vlakke van 2019, wat beteken dat huurinkomste uit kantoorruimte in reële terme steeds op negatiewe terrein is as boukoste-inflasie ingereken word.
Die verslag wys reële kantoorhuur in Sandton, Rosebank, Menlyn en Berea was tussen 6,8% en 11,6% laer as 'n jaar gelede. In Tygervallei in Kaapstad is dit egter 8,3% hoër.
Nywerheidseiendomme
Nywerheidseiendomme is steeds die bes presterende eiendomsektor buiten residensiële eiendom. Net 3,7% van nywerheidseiendomme staan landwyd leeg. Die lae leegstandkoers beteken fabrieksruimte is so skaars soos hoendertande en huurders is bereid om goeie huurgeld te betaal om 'n perseel te bekom.
Nominale huurgroei was 3,8% in die derde kwartaal, maar dis wel swakker as die 4,1% van die tweede kwartaal. Dit is die derde kwartaal agtereenvolgens van swakker groei weens swak ekonomiese groei en die druk op die vervaardiging- en kleinhandelsektore.
Ook hier presteer Kaapse nywerheidseiendomme beter as die res van die land.
Huispryse
Wat die residensiële eiendomsektor betref, wys Rode daarop dat die huismark steeds verlangsaam weens hoë rentekoerse, die swak ekonomie en hoë lewenskoste.

FNB se syfers wys huispryse was in Augustus net 0,8% hoër as 'n jaar gelede.
Die impak van stygende rentekoerse is nog nie verby nie. Rode meld boonop dat 'n groeiende getal huisverkope vanjaar plaasvind omdat eienaars al hoe meer finansieel in die knyp is. FNB-data wys tot 23% van verkopers het dit in die derde kwartaal gedoen omdat hulle onder finansiële druk is.
Tekens van die laer vraag na eiendom is die daling in die waarde van goedgekeurde huislenings. Dit het in die tweede kwartaal vanjaar met 25% geval teenoor 'n jaar gelede, wys syfers van die Reserwebank.
Nog 'n aanwyser van die druk op die huismark is die gemiddelde 11,4 weke wat dit duur voordat 'n huis verkoop word in die eerste nege maande van vanjaar, teenoor 9,3 weke in 2022.
Dit beteken dit duur vanjaar twee weke langer om 'n huis te verkoop.

Woonstelle
Eienaars van woonstelle kan egter troos vind in die dalende tendens in leegstandkoerse sedert 2021.
Die gemiddelde nasionale leegstandkoers van woonstelle was in die derde kwartaal onveranderd van die tweede kwartaal op 6,9%. Dis laer as die 7,8% van 'n jaar gelede. Die Wes-Kaap spog met 'n nog laer leegstandkoers van 2,9%, wat wel hoër is as die tweede kwartaal se 2,1%.
Rode is besorg oor die toename in huurders wat agterstallig is. Huurders in die Wes-Kaap en Gauteng is beter betalers. Minder van hulle is agterstallig as die nasionale gemiddelde van 18,4%. In Noordwes en die Vrystaat sukkel sowat 25% van huurders egter om hul huur betyds te betaal.

Rode skryf die beter betaalkoers en lae leegstandkoers van woonstelle in die Wes-Kaap toe aan die tendens van semigrasie wat steeds die vraag na huur- en koopeiendomme opjaag. Die provinsie het die laagste werkloosheidskoers in die land, en Rode se syfers wys woonstelle in kleiner dorpe soos George en Stellenbosch toon bykans geen leegstand nie.
In Gauteng groei huurgeld vir woonstelle die stadigste van al die provinsies, wat nie verrassend is gegewe die leegstandkoers van 8,6% nie.
Rode waarsku die stabilisering van leegstandkoerse by woonstelle is bemoedigend, maar gegewe die swak ekonomiese vooruitsigte kan die tendens op kort termyn omdraai. Eienaars en hul agente of bestuurders sal buigsaam moet wees as hulle oor nuwe huurkontrakte onderhandel indien hulle nie met 'n leë eiendom opgeskeep wil sit nie.





















