
Al is baie Suid-Afrikaners deesdae permanent terug by die werk, kry die land se kantooreiendomsektor steeds swaarder as die ander twee kommersiële eiendomskategorieë.
Die jongste Rode-eiendomsverslag vir die derde kwartaal van 2023 wys dat die gemiddelde leegstaankoers op 14,4% staan - 'n verbetering van die 18% wat in die vierde kwartaal van 2021 aangeteken is. Dit is egter steeds hoër as die 10,5%-gemiddelde voor die pandemie, sê Kobus Lamprecht, ekonoom en redakteur van die Rode-verslag.
Die Rode-verslag word kwartaalliks uitgereik en bekyk die stand van die kommersiële eiendomsektor - nywerheids-, kleinhandel- en kantooreiendom.
Lamprecht meen die vraag na kantoorruimte sal nie sommer gou weer ten volle herstel nie omdat die ekonomie nie groei nie. In die eerste helfte van die jaar was ekonomiese groei 'n skrale 0,9% teenoor 2022 se 1,9%. Gedempte sakevertroue is ook 'n rede waarom die vraag na kantoorruimte nie toeneem nie.

"In onseker ekonomiese omstandighede is maatskappye traag om na groter ruimtes te trek of nuwe mense in diens te neem. Om die waarheid te sê, meer ondernemings kan sluit, veral kleineres wat nie baie kapitaal het nie."
Lamprecht wys ook op nuwe neigings - die sogenaamde hot desking waar kantoorwerkers nie meer hul eie lessenaars het nie, maar gaan sit waar daar 'n oop ruimte is, en hotelling waar kantoorwerkers voor die tyd 'n lessenaar bespreek. Dit lei ook daartoe dat mense nie meer 'n behoefte aan groot vloerruimte vir kantore het nie.

Wat die land se drie grootste stede betref, het die leegstaansyfer in die derde kwartaal in elke geval verbeter. Die grootste verbetering was in Kaapstad, waar die gemiddelde koers nou op 12% staan. Die leegstaankoers is die laagste in die V&A Waterfront (6%), terwyl dit in die middestad hardnekkig hoog is op 16%.
In Johannesburg is die middestad lankal nie meer gewild vir kantoorruimtes nie en het ondernemings uitgewyk na gedesentraliseerde buurte soos Sandton, Rosebank, Waterfall, Midrand en Bryanston. Die gemiddelde leegstaankoers vir gedesentraliseerde gebiede het in die derde kwartaal op 15,8% te staan gekom - 'n groot verbetering van die 21% wat in die vierde kwartaal van 2021 aangeteken is. Die leegstaankoerse was die laagste in Rosebank en Waterfall, terwyl areas soos Bryanston en Midrand se leegstaankoerse steeds relatief hoog is.
Kantoorhuurgeld het in die gedesentraliseerde gebiede in Suid-Afrika in die derde kwartaal met 2,8% gegroei, maar in reële waarde (wanneer inflasie ingereken word) het dit met 5% gedaal, sê Lamprecht. In Kaapstad het huurgeld met 12% toegeneem, wat dit die enigste stad in die land maak waar daar positiewe groei was. Kaapstad se positiewe groei word toegeskryf aan die vlaag van semigrasie na die Wes-Kaap.
Wat die ander twee kommersiële eiendomskategorieë betref, het die kleinhandelsektor in 2022 goed herstel namate mense teruggekeer het winkelsentrums toe, maar die daling in kleinhandelsyfers plaas die sektor opnuut onder druk.
Die nywerheidsektor vier egter steeds die botoon, met relatief lae leegstaansyfers en goeie groei in huurgeld. Die sektor se gewildheid spruit uit 'n behoefte aan nuwe pakhuise met moderner rakwerk en 'n styging in aanlyn verkope wat die behoefte aan verspreidingsentrums en stoorplek laat klim.


















