Baie van ons wil so lank as moontlik in ons huise aanbly. Volgens Cobus Odendaal, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby's International Realty in Johannesburg en Randburg, kan dit in baie gevalle wel moontlik wees, maar dit is belangrik om nou al sekere aanpassings te maak om jou huis vir jou oudag in te rig. Hy gee raad.

Wanneer dit kom by 'n aktiewe aftrede nadat die kinders uit die huis is, is die sogenaamde Baby Boomers beslis die generasie wat die voortou neem hiermee.
Hierdie generasie van naoorlogse babas het wat veroudering beteken, herskep, sowel as hoe en waar dit plaasvind. Hulle het ook die wyse waarop ons na aftreeverblyf kyk heeltemal verander.
Vandag is aftree-eiendom en -oorde heeltemal anders as die tradisionele vier mure met die drie konvensionele maaltye per dag. Hierdie generasie is ook dikwels aktiewer en werk langer as die meeste van hul voorgangers.
Daar is baie veranderinge wat aan 'n huis gemaak kan word om dit veiliger en meer funksioneel te maak sodat mense langer daar kan woon..
Die meerderheid van hulle wil ook vir so lank as moontlik in hul huise aanbly. Dit is belangrik om te onthou dat waar ons woon beslis definieer hoe ons lewe.
Dus is dit belangrik om nou al aan die toekoms te dink, al die gebeurlikhede te oorweeg en daarvolgens te beplan. Dit beteken dat indien jy nou weer 'n eiendom koop en/of opknappingswerk doen as dit tyd word om af te skaal, jy jou oudag in ag moet neem.
As jy voorbereid is spaar dit jou enige bykomende stres - finansieel sowel as emosioneel - later in jou lewe. Dit maak net sin om ons eiendomme aan te pas en in te rig vir ons aftrede terwyl ons nog fiks en lus genoeg is om dit te doen.
As die tyd aanbreek wanneer dit regtig nodig is, is jy reeds ouer en dan word dit 'n groter ongerief en verg soveel meer moeite. En terwyl dit dalk nie vir alle ouer persone moontlik is om vir altyd onafhanklik te leef nie, is daar heelwat veranderinge wat aan 'n huis gemaak kan word om dit veiliger en meer funksioneel te maak sodat mense langer daar kan woon.
Enkel of dubbel?
Dit mag dalk moeilik wees om nou in te dink, maar om verskeie keer per dag by 'n stel trappe op en af te gaan, kan baie uitdagend word soos ons ouer word.
As die huis waarvoor jy lief is dus 'n dubbelverdieping is, moet dit liefs 'n slaapkamer en volledige badkamer op die grondverdieping van die eiendom hê.
As dit nie moontlik is nie, oorweeg dit om 'n elektriese traphyser te laat installeer wat jou net daardie bykomende veiligheid en gemoedsrus sal gee.
Maak dit veilig buiteom
Herstel en vervang ongelyke of beskadigde voetpaaie om die huis en installeer ligte wat met 'n bewegingsensor werk.
Oorweeg dit ook om 'n rak op te sit of 'n stewige tafel by die voor- en agterdeure te sit waar jy kruideniersakke, pos en pakkies kan neersit wanneer jy die deur oopsluit.
Maklike toegang
Is daar 'n eweredige en stabiele voetpad na jou voordeur wat jy goed kan belig? Het jy regstreekse toegang tot die huis vanuit jou motorhuis, of is jou parkeerplek naby genoeg aan jou voordeur?
As die huis nie minstens een ingang sonder 'n trap het nie, oorweeg maniere waarop jy dit kan maak gebeur. Op plekke waar die trappe heel waarskynlik gaan moet bly, maak maar seker dat daar stewige handrelings aan albei kante is.
Jy moet kan beweeg
Met jou oog op die toekoms, gaan deeglik al die paaie en roetes in jou huis na wat jy daagliks byvoorbeeld van die slaapkamer na die badkamer neem, en na die kombuis sowel as by die voordeur uit.
Daar behoort geen meubels te staan waaroor jy kan val nie en dit moet maklik wees om te navigeer. Daar moet genoeg ruimte wees om met gemak deur hierdie ruimtes te beweeg.
Deurgange is 'n baie belangrike faktor. Jy kan selfs 'n kontrakteur aanstel om dit breër te maak indien nodig.
Deurhandvatsels
'n Handvatsel is gewoonlik makliker om vas te hou as 'n ronde deurknop. Dit is ook nie nodig om 'n handvatsel te draai as jy die deur wil oopmaak nie.
Dit kan veral nuttig wees vir mense wat aan artritis ly of ander toestande wat hul bewegings beperk.
Kombuis is prioriteit
Mense buk, rek en tel baie goed op in die kombuis. Hierdie aksies gaan waarskynlik al hoe moeiliker raak soos ons ouer word. Dit is dus 'n goeie idee om die uitleg van jou kombuis te heroorweeg sowel as hoe hoog alles gestoor word.
As daar plek is in die kombuis, oorweeg 'n klein tafel en stoel waarby jy later kan sit en jou kos voorberei. Terwyl jy besig is, kan jy dit ook oorweeg om die deurknoppe van die kombuis- en badkamerkaste te vervang.
Moenie die vloer afskeep
Oorweeg dalk om jou bestaande vloere met iets te vervang waarop jy nie kan gly nie. As jy matte verkies, verseker dat dit platgeweefde matte is waarop jy maklik kan beweeg.
Die ideale vloermateriaal vir bejaardes moet sag wees ten einde te verseker dat jy nie bene breek of maklik kneusplekke kry nie. Daarmee saam moet die vloere ook maklik wees om skoon te maak.
Dis belangrik om konsekwent te wees regdeur die huis. Hoe minder en gladder die oorgange oor die vloeroppervlakke heen is, hoe beter gaan dit vir jou wees as jy ouer is. Vermy liefs los matte waaroor jy kan val.
Goeie beligting
Kamers wat dof of sleg belig is, kan 'n uitdaging bied vir mense soos hulle ouer word en hul sig verswak. Oorweeg dus nou al om die ligte op te gradeer in die vertrekke wat die meeste gebruik word.
Vervang ook gloeilampe met 'n lae wattverbruik met lampe wat helderder is en langer hou. Oorweeg ook LED-gloeilampe. Dit is nie te duur nie.
Raak ontslae van die bad
'n Badkamer is 'n plek waar ongelukke maklik kan gebeur en baie bejaardes sukkel om uit die bad te kom en val dan. As jy dit oorweeg om met jou aftrede en as 'n bejaarde in jou huis aan te bly, dink daaraan om die badkamer daarvoor in te rig, veral die bad.
Een opsie is om jou bad met 'n instapstort te vervang, wat dit baie makliker en veiliger maak om in en uit te loop. Maak dit ook groot genoeg sodat jy 'n ingeboude rak of sitplek in die stort kan inpas, en selfs 'n stoel wat jy in en uit die stort kan haal.



















