Om te help om in die toenemende vraag na leefstyllandgoedverblyf in Kaapstad se noordelike voorstede te voldoen, ontwikkel SLM Developments die beveiligde landgoed Le Coste Estate - net 'n klipgooi van Durbanville se skole en die verskeie winkelsentrums daar.
Le Coste Estate gaan na verwagting 'n woonbuurt in eie reg word nadat dit klaar ontwikkel is, en alles bied van gehalte-veiligheid tot 'n verskeidenheid leefstylvoordele, sê die ontwikkelaar in 'n verklaring.

"Le Coste Estate is 'n unieke leefstyllandgoed in wording. Te danke aan die grootte en skaal van die ontwikkeling gaan dit as 'n woonbuurt geregistreer word.
"Die landgoed is gemik op kopers wat na luukse gesinshuise op soek is - hoofsaaklik onder die R2,5 miljoen-pryskerf - tesame met die moderne sekerheidstelsels en leefstylgeriewe wat tipies slegs in die eksklusiefste landgoedere aangetref word," verduidelik William MacRobert, uitvoerende hoof van SLM Developments.
"Ons het aansienlike tyd daaraan bestee om kopers se presiese behoeftes te ondersoek.
"Le Coste Estate verteenwoordig daarom alles waarvoor 'n gesin kan wens wanneer dit by verblyf kom. Die landgoed kry uitstekende veiligheid en 'n verskeidenheid geriewe, wat wissel van 'n leefstylsentrum met 'n verhitte swembad tot 'n gimnasium met 'n pilates-ateljee, 'n koffiewinkel en deli, sowel as 'n crèche wat tot 65 kinders kan akkommodeer," voeg hy by.
"Daarmee saam kry die landgoed verskeie ontspanningsareas, wat onder meer 'n gesinspark insluit, sowel as 'n bykomende leibandvry-sone vir honde. Die sport-park word spesifiek ingerig vir die landgoed se aktiewe kinders, terwyl die eko-park vir ontspanning en stiltetyd ingerig sal word."
Wat kan jy verwag?
Le Coste Estate bied kopers 'n keuse van huise oor 'n toeganklike pryskerf heen wat volgens die ontwikkelaar goeie waarde vir geld bied. Kopers sal ook tussen 'n verskeidenheid huisstyle kan kies, sowel as vier tema-opsies vir die binneversiering van die huise.
Le Coste se terrashuise is veral gemik op eerstekopers wat na 'n eiendom op soek is waar praktiese ontwerp met stylvolle afwerkings gekombineer word.
Kopers kan kies tussen drie huisuitlegte wat teen verskillende pryse bemark word. Dit is as volg: Twee slaapkamers, twee badkamers en 'n enkelmotorhuis teen R2,284 miljoen; en drie slaapkamers, twee-en-'n-half badkamers en 'n enkelmotorhuis teen R2,450 miljoen. Daar is ook 'n effense groter opsie beskikbaar teen R2,530 miljoen.
Le Coste se losstaande gesinshuise is weer 'n goeie koopopsie vir groter gesinne of diegene wat daarvan hou om te onthaal. Kopers wat in daardie huise belê, het weer 'n keuse tussen agt huisuitlegte.
Dit wissel van drie tot vier slaapkamers, met drie-en-'n-half badkamers en 'n enkel- of dubbelmotorhuis. Die verkoopsprys wissel van R2,530 miljoen tot R3,8 miljoen.
Al hierdie huise kom ten volle toegerus met Smeg-kombuistoebehore, klipwerkblaaie, ingevoerde sanitêre ware, ingeboude braaiplekke en bykomende, veilige parkering.
"Sedert Le Coste Estate in die mark bekend gestel is, was daar 'n hoë vlak koperbelangstelling gewees met uitstekende verkope wat reeds plaasgevind het," verduidelik Claudius Combrinck, besturende direkteur van Matterhorn Properties, in die verklaring.
"Dit kan beslis toegeskryf word aan die groot vraag na losstaande enkelvlakhuise met twee en drie slaapkamers en 'n dubbelmotorhuis onder die R2,5 miljoen-pryskerf - en boonop nog lae heffings ook. Die feit dat ons splinternuwe, toegeruste huise teen hierdie pryse bied - nie net binne 'n beveiligde landgoed nie, maar ook in 'n splinternuwe woonbuurt - posisioneer ons op die regte plek binne die mark.
"Slim kopers sal vinnig agterkom dat dit haas onmoontlik is om enigiets te kry wat hiermee vergelyk kan word."
Die verkoopspryse sluit oordragskoste in. Daar is 100%-verbandfinansiering beskikbaar en 'n deposito van slegs R25 000 is van toepassing.
Laaste sê
Die wyse waarop Le Coste Estate beveilig gaan word, is ook 'n groot trekpleister, meen die ontwikkelaar.
Dit sluit alles in van 'n geëlektrifiseerde omtrekmuur van 3 m hoog, afgerond met die jongste kringtelevisiekamera-tegnologie, sowel as 'n waghuis wat heeltyds beman word en patrollies gedurende die dag en snags.
Die landgoed se kringtelevisiekameras en elektriese heinings word met behulp van rugsteunkrag gedurende beurtkrag ondersteun.


















