Augustus is Vrouemaand en in alle sektore van die ekonomie - insluitend die eiendomsbedryf - is vroue besig om vir groot verandering te sorg. Michelle Dickens, uitvoerende hoof van PayProp South Africa, vertel meer oor hoe vroue in die eiendomsbedryf verteenwoordig word.

Dit is ongelooflik om gedurende Vrouemaand vanjaar te sien watter impak vroue op eie bodem in die eiendomsbedryf maak - in sowel die verkoop- en in die verhuringsektor van die bedryf.
Volgens Lightstone Property het vroue teen die einde van Julie verlede jaar nagenoeg 57% van die totale volume eiendom in die eiendomsbedryf besit.
Vroue verteenwoordig ook tot soveel as 66% van eiendomsagente, 61% van makelaar-lisensiehouers en 68% van verkoopsagent-lisensiehouers. In die verhuringsmark vir residensiële eiendom is daardie syfer nog hoër.
Daarmee saam was meer as driekwart van die bedryfsmense in die eiendomsmark wat PayProp se jongste opname oor die stand van die verhuringsbedryf (State of the Rental Industry Survey for 2023) gedoen het, vroue. Dit is werklik merkwaardig wanneer jy in ag neem dat groeperinge vroue tot 2020 die reg om grond en eiendom te besit geweier is.
Sterk vroue
Hierdie maand vier ons altesaam vier kragtige vroue, naamlik Lillian Ngoyi, Helen Joseph, Rahima Moosa en Sophia Williams. Hulle het sowat 20 000 vroue in 1956 in 'n optog gelei om die gelykheid te eis waarop hulle geregtig was.
Dit was egter eers in 2020 toe die 72-jarige Agnes Sithole haar tot die konstitusionele hof gewend het in 'n geveg om haar huis te bou nadat haar huwelik verbrokkel het, dat alle vroue in Suid-Afrika uiteindelik veilig in hul huiseienaarskapsregte kon voel.
Sonder die reg om grond of eiendom te besit, sal 'n vrou se ekonomiese en fisiese sekuriteit altyd aan diegene behoort wat wel kan.
Onder hoeveel druk was hierdie vroue nie om dit op hulself te neem om verandering en vordering te weeg te bring nie?
Hulle - en diegene wat saam met hulle opgeruk het - het hierdie las om die Grondwet te verander op hul eie skouers geneem, heel moontlik sonder dat hulle eers regtig geweet het tot wat hul moed en dapperheid sal lei.
Nog werk om te doen
Hoeveel van ons is bang daarvoor om enigiets vir onsself en ander te bou? Vrouemaand is beslis 'n goeie tyd om 'n beroep op vroue te maak om nuwe fondasies te lê - om vorentoe te beur vir 'n goeie doel en om as vroue saam op te staan.
Daar is steeds baie vordering wat gemaak moet word in ons bedryf en waarvoor ons moet veg.
Vroue word baie goed verteenwoordig in administrasie in die eiendomsbedryf, sowel as wanneer dit by verhuringsbestuur kom.
Ons het ook 'n toename waargeneem in die besit van eiendom deur vroue. Daar is egter steeds baie werk wat gedoen moet word in terme daarvan om ekwiteit in die hande van vroulike sake-eienaars te kry.
Die situasie lyk ook anders as jy na die verskillende tipes eiendomsektore kyk, naamlik kommersiële eiendom teenoor residensiële eiendom teenoor konstruksie. Vroue word byvoorbeeld baie beter in die residensiële sektor verteenwoordig as in konstruksie.
Laaste sê
As vroue is ons ten volle bewus dat ons nie op ons eie hier beland het nie.
Ons kan diegene eer wat ons voorgegaan het deur op ons beurt weer die horisonne te verbreed vir vryheid, en om ons drome te bou op die landskap van innovasie, vordering en gelykheid wat aanhou uitbrei.




















