Die wiele is eindelik aan die rol vir die tweede toring by die Kiks-kompleks in Kaapstad se Roggebaai-area.
Die stad het pas aangekondig dat 'n veiling oor twee weke (27 Maart) by die DHL-stadion in Groenpunt gehou gaan word waar die laaste oop stuk grond langs die Kiks se nuwe, tweede vleuel (langs die Christiaan Barnard-hospitaal) opgeveil gaan word.

Die oop grond is reg langs die huidige Kiks-gebou en behels tans slegs 'n lang, smal grasperk binne die hoek van die Kiks se foyer-area en uitstalsale. Die tweede fase van die gewilde Kiks-sentrum het in 2012 afgeskop, maar is eers knap voor die Covid-19-pandemie voltooi. Dit word met 'n mooi lugbrug met die oorspronklike Kiks 1-gebou verbind.
Die oop area is in 'n gesogte deel van die stad. Dit is reg by die Kiks-sentrum, aan die onderpunt van die Heerengracht, en binne loopafstand van die V&A Waterfront, museums, die gewilde Langstraat en net 'n busrit ver van Clifton en Kampsbaai.
Van ontwikkelaars word verwag om 'n toringblok van 25 000 m², met 'n hoogte van 20 vloere of 80 m op te rig. Die voorskrifte vir die inhoud van die gebou is nie te streng nie, maar die gedagte is dat dit sal bestaan uit 'n driesterhotel, enkele kommersiële vloere onder, en straks wooneenhede heel bo. Daar sal ook voorsiening vir parkeerruimte ondergronds moet wees.
Vroeë ontwerpsketse het 'n potensiële toring gewys wat in blou glas afgewerk is, vol skerp kante, wat selfs 'n oop ruimte in die middel van die boonste vloere sou hê. Met die huidige knap ekonomie mag hierdie flambojante ontwerpe egter terugstaan vir 'n konserwatiewer, goedkoper ontwerp wat 'n vuurhoutjiedoos naboots.
In 'n interessante skuif verkoop die stad nie die grond nie, maar word dit op 'n 99-jarige bruikhuur-stelsel geformaliseer. Die ontwikkelaar met die wen-bod sal die grond 60 jaar kan huur by die stad, waarna hy 'n opsie vir nog 20 jaar sal kry, gevolg deur 'n derde opsie daarna vir nog 19 jaar.
Die bod moet die gebou se huur omvat. Die stad, op sy beurt, gee die ontwikkelaar drie jaar grasie om die ontwerp te finaliseer. Daar is ook grasietyd vir die oprig van die gebou.
Volgens High Street Auctions, die afslaerhuis wat die transaksie hanteer, kan die nuwe toring reeds teen 2027 in die Kaapse middestad staan.
Ondanks 'n stram ekonomie bly Kaapstad se middestad gewild by ontwikkelaars. ál meer direkte buitelandse vlugte, asook groot passasierskepe, bring meer toeriste na die stad. Baie mense uit ander provinsies semigreer na die stad en lok nuwe kopers.
Kaapstad ontvang gereeld toekennings as 'n hoogs gesogte bestemming oor die wêreld heen. Die mees onlangse was toe lesers van die tydskrif Time Out Kaapstad as die naasbeste stad ter wêreld aangewys het, net 'n kortkop agter New York.


















