'n Groot pluimpie het Pam Golding-eiendomme te beurt geval toe hulle pas as Suid-Afrika se beste eiendomsgroep vir maatskappye met meer as 20 takke by die Internasionale Eiendoms-toekenningsgeleentheid aangewys is.
Die toekennings is by 'n glansgeleentheid in Oktober in Dubai gemaak. Pam Golding-eiendomme het ook die toekenning ontvang vir die beste webwerf vir eiendomsagentskappe in Suid-Afrika.
Streekstoekennings word vir elke streek in die wêreld gemaak, met Suid-Afrika wat in die Afrika-streek val. Ander streke met hul eie wenners sluit in die Amerikas, die Asiaties-Pasifiese-streek, Brittanje en Europa.
Elke streek se onderskeie kategoriewenners ding nou outomaties met mekaar in die wêreldkompetisie mee, waar die finale wenners aanstaande maand bekend gemaak sal word.
Die Internasionale Eiendomstoekennings word wêreldwyd as die hoogste standaard in die bedryf geag. Dit vereer maatskappye wat aktief is in die eiendoms- sowel as die behuisingsmark.
Beoordelaars kom van oor die wêreld heen en in die afdeling vir beste eiendomsgroep, kyk hulle onder meer na aspekte soos of die groep 'n leiersrol in sy mark speel, die innovasie wat hy toepas, sy bemarking en oorspronklikheid, sy webwerf se gehalte en die tipe dienste wat hy aan kopers, verkopers en verhuurders bied.
"Ons is natuurlik baie trots op hierdie toekennings," sê dr. Andrew Golding, voorsitter van die groep. "Dit is 'n internasionale kopknik vir die gehalte wat ons bied.
"Die toekenning is 'n bewys van die toewyding wat al die agente en personeel in die meer as 300 agentskappe van ons oor die land heen daagliks openbaar," sê hy.
"Wat veral vir ons 'n riem onder die hart is, is die toekenning vir ons webwerf. Meer as 70% van ons internet-aktiwiteit kom van slimfone af, wat nie net wys hoe mense vandag die internet benut nie, maar ook hoe goed ons webwerf op slimfone werk.
"Trouens, die webwerf is ontwerp met die gedagte van ‘slimfoon eerste' as 'n uitgangspunt," sê hy verder. "Ons wys 'n uitgesoekte reeks huise op ons foon-webwerf, wat 'n deursnit bied van al die huise wat ons te koop aanbied. Sodoende teiken die foon-webwerf alle sektore van die mark, en ook al die markte, plaaslik sowel as oorsee."




















