Eiendomme

SA se duurste huis te koop

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
So lyk Suid-Afrika se duurste huis, Casablanca in Geneva-rylaan, Kampsbaai.
So lyk Suid-Afrika se duurste huis, Casablanca in Geneva-rylaan, Kampsbaai.

Indien jy 'n groot gesin het, baie voertuie besit, lief is vir oefening, lees en fliek kyk en 'n mooi see-uitsig waardeer, het die ideale eiendom in Kampsbaai, Kaapstad, op die mark gekom.

Maar dis nou net as jy byna R700 miljoen het om die duurste huis in Suid-Afrika te bekostig.

Die huis, genaamd Casablanca, in Geneva-rylaan, is in 2014 gebou en word in die buiteland bemark aan voornemende kopers vir $35 miljoen. Teen Vrydag se wisselkoers is dit sowat R667 miljoen.

Die huis spog met agt slaapkamers, 13 badkamers, 'n gimnasium, muurbalbaan, masseerkamer, sauna vir 12 mense, wynkelder en whiskeykroeg.

Dan het dit ook 'n biblioteek, 'n rolprentteater met sitplek vir 18 mense, 'n Olimpiese-lengte-swembad, snoekerkamer en motorhuis vir 14 voertuie. Die motorhuis is toegerus met pragtige houtvloere wat ook 'n karwasplek insluit. Die kombuis sal enige sjef laat kwyl.

Dwarsdeur die huis is daar wit marmervloere en 'n asemrowende uitsig oor die see.

Die onderdakruimte is 3 133 m² met bykomende stoepe van 1 190 m² - saam meer as die helfte van 'n sokkerveld.

Die huis was ook in 2015 in die mark vir dieselfde prys in Amerikaanse dollar, maar met die wisselkoers op laer vlakke was dit toe sowat R450 miljoen.

Hierdie whiskeykroeg en 'n wynkelder is ingesluit by wat die koper sal kry as hy die R700 miljoen opdok waarvoor Casablanca in die mark is.
Hierdie whiskeykroeg en 'n wynkelder is ingesluit by wat die koper sal kry as hy die R700 miljoen opdok waarvoor Casablanca in die mark is.
Die ruim sitkamer met sy uitsig oor die see.
Die ruim sitkamer met sy uitsig oor die see.

Volgens Barry Cohen Homes se webblad het die huis, wat op verskeie vlakke gebou is, sy eie hysbak, en biometriese data word vereis vir toegang.

Die werkerskwartiere alleen het vier slaapkamers.

Ashleigh Müller, hoof- kommersiële eiendomsmakelaar by Ask Ash Eiendomsmakelaars, is egter skepties oor of die eiendom vir die volle R700 miljoen verkoop sal word.

"Die duurste huis wat tot nog toe in Suid-Afrika verkoop is, was in Bantrybaai, Kaapstad, in 2016 vir R290 miljoen. Die jaar tevore was daar 'n huis in Kampsbaai in die mark vir R300 miljoen, maar dit is op die ou end vir R100 miljoen verkoop."

Sy sê die beste eiendomme wat in baie opsigte vergelykbaar is met Casablanca in plekke soos die spoggerige Val de Vie-landgoed in die Paarl-Franschhoek-vallei, verkoop vir tussen R50 miljoen en R100 miljoen.

Antoinette Slabbert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM